‘n BOEKWINKEL IN DIE HAWE

Wanneer die Logos Hope anker gooi in die Oos-London hawe elke paar jaar verander die hawe in a miernes van gesinne wat tou staan om boeke te koop op die Wêreld se grootste drywende boekwinkel.

Met meer as 5 000 titels om van te kies is dit geen wonder dat daar jaarliks sowat een miljoen besoekers per skip aanboord verwelkom word nie. Die skip bly gewoonlik so 10 dae in ‘n hawe om besoekers te ontvang terwyl die bemanning ook liefdadigheidswerk in die omgewing doen.

Die bemanning bestaan uit vrywilligers van sowat 60 nasies en dit sluit die kokke, ingenieurs, elektrisiëns en verpleegsters in. Verskeie Suid Afrikaners werk dan ook op die skip en maak van die tyd gebruik om lewensplanne te maak en ervaring op te doen.

Terwyl duisende mense per dag die skip besoek, word spanne na gemeenskappe uitgestuur om liefdadigheidswerk te doen wat insluit van oogtoetse tot kos verskaf. Die spanne besoek ook hospitale, gevangenisse en skole en het ‘n plan wat hulle in samewerking met die organisasies uitgewerk het om spesifieke ondersteuning te verskaf.

Besoekers aan die skip kry eers ‘n kort verwelkoming oor die skip en die boekwinkel. Alle pryse word volgens eenhede uitgemerk sodat dit in elke land dieselfde eenhede kan bly, maar die bedrag kan aangepas word na die land se geldeenheid. Die boekwinkel laat mens dink aan ‘n Bargain Books, net met honderde ander mense wat ook boeke wil deurblaai en koop. Die pryse is oor die algemeen billik en sluit fiksie en nie-fiksie in.

Wees geduldig as jy wil betaal, daardie ry is lank. Maar alles verloop seepglad. As jy eers deur die betaalpunte is, dan is daar ‘n plek waar jy ‘n koffie kan drink en ietsie eet en sommer net met van die vrywilligers gesels. Gewoonlik is daar laatmiddag ook ‘n vertoning wat deur die vrywilligers van die verskillende lande aangebied word. Die res van die skip is ongelukkig nie oop vir besoekers nie, maar daar is ‘n uitstalling by die verwelkomingstoonbank oor hoe die kajuite op die skip lyk.

Dit gaan jou ongeveer ‘n uur besig hou, dis nou as jy nie in die ry moet staan om te betaal nie. Daarna kan jy steeds jou Saterdaginkopies gaan doen en ‘n worsie oor die kole gooi.

BIETJIE SYFERS OM JOU VRINNE TE BEÏNDRUK:

Hulle het sedert 1970 meer as 50 miljoen mense aan boord verwelkom.

Hulle het meer as 150 lande en gebiede besoek.

In totaal het die skepe al 1 600 hawens besoek.

Meer as ses miljoen mense het konferensies en ander geleenthede aan boord bygewoon.

Meer as 11 miljoen kinders het die skepe besoek en self die unieke omgewing aan boord ervaar.

Ongeveer 10 000 jongmense is al aan boord opgelei.

Honderde ton boeke is al geskenk.

3 REDES HOEKOM JY WIL GAAN KYK

Waar gaan jy vir R10 na ‘n drywende boekwinkel kyk?

Ek weet jy wil ‘n Logos Hope-beker koop sodat jy vir jou familie en vrinne kan vertel van die drywende boekwinkel.

Jy wil saam met die familie ‘n selfie neem langs die skip se naam.

Adres: Kyk op hulle webtuiste https://www.gbaships.org/en/about-us waar en wanneer hulle in ‘n hawe naby jou gaan wees.  

Toegang: R10 vir volwassenes en kinders onder 12 en die ouer as 65 kan die skip gratis besoek.

Toegangstye: Vanaf 11:00 in die oggend tot 20:00 in die aand.