AS DIE VERLANGE NA ‘N PLATTELANDSE SKOU TE VEEL RAAK

Daar gebeur altyd iets in Bathurst. As dit nie ‘n boekefees is nie, dan is dit Kersfees in Julie, of ‘n toer verby al die historiese plekke in Bathurst.

Bathurst is aan die gang. Maar hier in die omgewing van Menseregtedag bars Bathurst uit sy nate, want dit is die tyd wat Bathurst opsy sit vir die Bathurst-landbouskou.

As die hekke oopswaai betree besoekers ‘n wêreld van varsgebakte brood uit ‘n bakoond, worsbroodjies, burgers, biltong, pynappelsap en tuisgemaakte lekkergoed.

Nuwe trekkers, motors en vragmotors ding mee vir spasie tussen tuingereedskap, handwerkgereedskap, implemente en handgemaakte meubels. Skoudiere, van varke, ganse, eende, bokke en beeste word beoordeel. Bathurst se skou is ‘n landbouskou waar die gemeenskap betrokke is en waar ouers en kinders nog tussen stalletjies kan loop wat nie ‘n vlooimark is nie. Ek weet hier en daar is daar so ‘n stalletjie, maar hulle is regtig in die minderheid.

Die arena word omring deur bome en kosstalletjies en die rook van braaivleisvure hang reeds vroeg in die lug, ‘n kortkop voor die reuk van vleis en sosaties op die kole.

Die mense is gesellig en die koswaens verkoop alles van melkskommels tot Sjinees. As jy kleintyd ‘n plattelandse skou bygewoon het en jy raak mismoedig as jy sien wat deesdae vir ‘n skou deurgaan (behalwe miskien die Bloemskou) dan is dit tyd dat jy die Bathurst-skou bywoon.

Gaan kyk hoe die ystersmid nog die kole stook om ‘n hoefyster te maak, of ‘n wawiel se velling reg te maak.

Bathurst se landboumuseum wys ook hoe om tradisionele brood te bak en êrens gaan jy ‘n regte koeksister raakloop.

Jy sal kan leerskoene koop, na plante kyk wat te koop is, reuse gevlegte grasmandjies sien, dekor-items sien, kombuisgoed, uitstallings deur die houtwerkersgilde, kunswerke deur Oos-Kaap se kunstenaars, skole se kunswerke, fotografie-uitstallings. En as dit te veel raak teen middagete, is daar ‘n biertuin waar julle kan gaan rus. Knoop ‘n geselsie aan met die twee dorpsroepers van Bathurst wat jou alles van Bathurst kan vertel. Dorpsroepers of in Engels Town Criers is welwillendheidsambassadeurs van ‘n dorp en kan jou meer vertel van die aktiwiteite, die mense en omgewing.

En soms sal jy dalk opsy moet staan as die historiese trekkers van die museum ‘n draai ry. As jy oor die naweek daar aankom kan jy na die veterane-motors kyk. Opgevryf en versorg. Name wat jou pa en oupa, en so hier en daar jy ook sal ken. Kom wys die kinders hoe lyk ‘n kar met pakplek in die bagasiebak, of hoe ‘n Morris lyk.

So, as jy lus is om volgende jaar ‘n draai te kom maak, kom vroeg, anders gaan jy by die Pig and Whistle moet parkeer en dalk haak jy vas by die Pig en mis jy uit op een van die beste landbouskoue wat jy in ‘n lang tyd bygewoon het.

3 Redes hoekom jy die Bathurst skou wil bywoon.

  • Jy raak nostalgies as jy met jou vriende praat oor hoe daar nie meer regte plattelandse skoue oor is nie.
  • Jy wil ‘n selfie neem voor een van daardie reuse moderne trekkers.
  • Nêrens anders in Suid Afrika gaan jy ‘n saal besoek waar daar rye en rye pynappels teen die muur gepak word om beoordeel te word nie.

Toegang: R85 vir volwassenes, natuurlik minder vir kinders. Maar as jy jou kaartjie gekoop het, is dit vir die heeldag geldig en kan jy inkom en uitgaan soos jy wil.

Adres: Reg langs die Bathurst Landboumuseum, sowat twee kilometer uit die dorp op die R67 na Grahamstad/ Makhanda.