
“Vir die avontuurlustige in jou. Kom ontdek die onbekende in Suid Afrika”
GOPSE, GRAMMADOELAS & AVONTURE
Wie is ons?
Gopse na die grammadoelas is luilekker slakkepas avontuurreise deur twee oud koerantmanne, wat met die verloop van tyd, ook voetspore in die weermag, binne en buite ons landsgrense sou trap, en wie nou na aftrede, met opgewonde lewenslus, die wandelpaaie na nêrens en erens aanpak, soekende na daardie foto’s en stories, wat nie net gaan oor mense, maar tewens bykans enigiets wat hulle mag betower of interesseer. Later sal ons meer hieroor vertel.
Maar wie is die Gopse? Sonder om in die rompslomp van onnodige besonderhede in te gaan oor wie hulle is, stel ons hulle voor as Louis Kirstein en Charl de Klerk, maar ook belangrik, Marius le Roux, ons webbladadministrateur, IT-fundi, en wie die agtergrondprogram (“back-end”) hanteer.
Nodig vir nou om te weet, is dat die Gopse besluit het om hul stories in Afrikaans te vertel, synde dit hul komvandaan taal is. Wanneer omstandighede dit nodig ag, sal ons ook in Engels geskryf om sodoende ook mede reisavontuurlustiges te bereik. Die Gopse wil as beïnvloeders kennis, ervaring en belangstellings deel. Die doel is om stories oor interessante mense, gebeure, geskiedkundighede en veral toeriste aantreklikhede te skryf, en foto’s daarvan te plaas. Dit doen die Gopse vanuit hulle besonderse en eiesoortige waarnemingsveld en poog daarmee om anderste storielyne te volg. Lesers word derhalwe aangemoedig om met dieselfde gevoel, deernis en waardering, na ons pragtige land met sy mooi natuurskoon, ryk dierelewe, geskiedenis en helaas, ons mense van regoor die spektrum, te kyk.
Alvorens daar met agterdog, afsku, nyd, of selfs vooroordeel na die woorde gopse en grammadoelas gekyk word, is dit nodig om te weet wat die leksikon daaroor sê. Dus, wat hierdie woorde nou eintlik beteken.
Die HAT – Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal (1970) omskryf “gops”, (e) 1. (meestal mv). A. Agteraf buurt, agterbuurt: Hy woon in die gopse. B. Agteraf streek, grammadoelas: Mense uit die gopse. 2. Agteraf person, gomtor: Hy is sommer ‘n ou gops.
Grammadoelas, mv daarteenoor word deur die HAT as volg beskryf: 1. Afgeleë, moeilik bereikbare, skaars begaanbare plek, oord; network van spoelslote: Hy woon doer in die grammadoelas. 2. Plek waar lewensomstandighede primitief en die mense agteraf is.: Hy kom uit die grammadoelas.
Met bogenoemde begrippe nou duidelik gedefinieër en omskryf, bevind die Gopse hulle in ‘n posisie om grensverskuiwende denkspronge te maak, veral wanneer dit kom by die verstaan van dié twee begrippe. Die Gopse plaas hulle in die skryfdomein as beïnvloeders, op die weg van alternatiewes. Dus nie hoofstroom denkers, en navolgers nie. Hoe die Gopse mense, stories, foto’s, gebeure van die verlede of die hede beskou, word gedoen uit ‘n waardestelsel waarvan die onderbou bestaan uit eerlikheid, feitlikheid, opregtheid en ‘n oop gemoed sonder enige voorbehoude. Hier is geen ruimte vir politieke diskoers en nog minder vir enige rassistiese of seksistiese uitlatings.
Die Gopse is oop vir kritiek. Speel die bal, nie die man. Skrywes sal gegrond wees op feitlikheid en bronne sal erken word sodat inligting gestaaf en geverifieër kan word[LK1] .
Dus liewe lesers, met dit alles gesê, kan u sien dat die Gopse allesbehalwe agterlik, agterbaks of gomtorre is. O nee. Hierdie twee Gopse is deurwinterde oud joernaliste (miskien verroes), maar wie ook hulle tande op militêr gebied geslyp het. Nie alleen het hulle jare se militêre ondervinding nie, maar is hulle boonop ook komunikasiekundiges van formaat. Hul kommunikasievaardighede oorspan al die vlakke van die kommunikasievakgebied met uitskiet vaardighede in veral mediaskakeling, krisiskommunikasie, kommunikasiestrategie en beplanning.
Die Gopse het ten doel om lesers aan die interessante en betekenisvolle fasette van ons omgewing en land voor te stel en te onbloot, of dit nou ‘n foto, ‘n storie oor die geskiedenis, mense, die omgewing of enigiets is wat die Gopse mag dink sy lesers sal interesseer, word gedoen met al die nodige hartstog en liefde vir Afrikaans – ons taal. Daar is nie ‘n bepaalde tydskaal van plasings nie. Soos Gopse avontuuruitstappies hulle voordoen, sò sal daaroor gepubliseer word.