DIE BATHURST-MEENTGROND: ‘N GEDEELDE LANDSKAP VAN GESKIEDENIS, EKOLOGIE EN LEWENSONDERHOUD

Wanneer jy die laaste hek van die Bathurst meentgrond (commonage in Engels) agter jou toetrek gaan jy onwillekeuring die Jopie Adam temalied “Neem my saam” so onderlangs neurie terwyl jy jou toerwa se neus in die rigting druk van die Pig and Whistle in Bathurst om keel te gaan natmaak en ‘n ou ietsie te eet.

Die munisipale meentgrond in Bathurst, Oos-Kaap, mag dalk, soos wat die talle studies benadruk, ‘n unieke en noodsaaklike grondhulpbron wees wat diep historiese betekenis met hedendaagse ekologiese en sosiale uitdagings kombineer, maar toe Koos du Plessis die vertaling gedoen en sy inleiding begin het met “Diep-diep in die bosse is ‘n poort na ‘n vergete land waar ons stil dae slyt, leef en droom en swyend luister na die voetval van die tyd” het hy verwoord wat jy gaan ervaar as jy in die Bathurst meentgrond ‘n bietjie tyd gaan spandeer.

Hierdie gebied bestaan uit  etlike duisende hektaar diverse terrein en dien as ‘n kritieke bate vir die plaaslike gemeenskap, wat alles ondersteun, van bestaansboerdery tot ontspanning.

Vir die stappers en bergfietsryers is daar talle paadjies wat verken kan word tot en met die Lushingtonrivier wat die grens vorm met die bekende Buffelskloof wildsplaas. Op die meentgrond kan jy ure spandeer, na die talle voëls kyk, as jy gelukkig is ‘n skugter bosbokkie of selfs ‘n grysbokkie sien. Selfs ‘n likkewaan of twee, ek kan daarvan getuig, maar hy was te vinnig vir ‘n foto.

 As jy dit vroegoggend doen gaan jy dalk nog vir Professor Monty Roodt, sosioloog van nering, aktivis, plantliefhebber, kaasmaker en inheemse boom kweker raakloop. Stop hom en vra hom uit oor die plantegroei in die meentgrond. Hy is ‘n kenner op die gebied en is ook ten nouste betrokke by die bestuur van die gebied.

Jy gaan ruiters op hulle perde sien wat die gebied gebruik, die bergfietsryer of twee wat nie bang vir ‘n bult of ‘n enkelspoor is nie, maar veral gaan jy vrede hê. Dit gaan meestal net jy en jou mense wees wat die plek verken. Gebruik enige van die hekke op die Southwell – Bathurst grondpad. Dis ‘n regte grondpad so maak maar reg vir bietjie skud en skommel, dis alles deel van die ervaring. Draai by die Bathurst landboumuseum op die Southwell pad af. Van daar is daar verskeie hekke wat na die meentgrond loop. Maar hou verby al hierdie hekke tot by Pennies hoek. Laat Google jou vertel wanneer jy naby is, want daar is regtig nie ‘n naambord nie. https://maps.app.goo.gl/F2bYQYB2fKgn2zuJA. Loop bietjie daar rond en verwonder jou aan die rustigheid van die Oos-Kaapse bosveld wat so naby aan jou is. Dis bietjie van ‘n oase neffens die grondpad.

As jy klaar daar rondgeklouter en selfies geneem het, dan kan jy by enige van die hekke wat dan aan jou linkerkant is, en daar natuurlik ‘n tipe van ‘n pad is, afdraai en die mmeentgrond verder verken. Gaan parkeer jou toerwa doer in die middel van niks en nêrens. Luister na die stilte en kry stof op daardie ontwerpersvellies van jou wat jy by een of ander kampplek gekoop het. Drink ‘n koffie en ervaar die Oos-Kaapse bosveld op sy beste. Op pad terug, maak die hekke agter jou toe, en mik vir die Pig and Whistle. Daar is ander baie goeie eet en drink plekke ook, maar die Pig deel die geskiedenis met die meentgrond en jy wil terug in die stad om die braaivleisvuur staan en vertel van die wilde Oos-Kaap en dat jy in een van die grootste meentgronde in Suid-Afrika rondgery en gestap het. Soveel te meer as jy ‘n bergfietsroete gedoen het.

Historiese Konteks en Funksie

Die konsep van meentgrond het ‘n lang geskiedenis, wat dateer uit die 19de eeu toe grond toegeken is, dikwels deur die staat of kerk, om plaaslike inwoners te bevoordeel. So is dit dan ook die geval met die Bathurst meentgrond wat hier rondom die tyd van Koningin Victoria van Brittanje aan die burgers van Bathurst toegeken is.

Prof Monty Roodt, wat deel is van die  Meentgrondbestuurskomitee (Commonage Management Committee) verduidelik dat die meentgrond hoofsaaklik as weiding vir trekosse en perde vir die vroeë 1820-setlaars moes dien. Amper soos jou gunsteling Engen-stop op die N1.

“Soos met talle van die meentgronde in Suid-Afrika is die grond baie keer op ‘n onbeheerde wyse gebruik, met beduidende agteruitgang wat voor 1942 plaasgevind het as gevolg van aktiwiteite soos die afkap van groot geelhout- en nieshoutbome en oorbeweiding. Sedertdien het die plantegroei egter merkwaardige herstel getoon, met onlangse studies wat aandui dat ‘n groot deel van die ruigte in ‘n hoëveld-toestand verkeer” verduidelik hy.

Monty wat ten nouste by grondhervorming, in veral die Oos-Kaap betrokke was verduidelik dat grondhervormingsbeleide na apartheid in die 1990’s formeel toegangsregte uitgebrei het na histories benadeelde inwoners vir landboudoeleindes, wat die rol van die meentgrond as ‘n gemeenskapshulpbron verstewig het. Dit kan dan ook gesien word in die kleinboere se beeste wat op die meentgrond wei.

Ekologiese Betekenis: Die Ruigtebioom

Dit is wanneer Monty sy plantliefhebber hoed opsit dat sy liefde vir die stuk Aarde duidelik word. “Die meentgrond is hoofsaaklik bedek met subtropiese ruigte, spesifiek Albanie-mesiek en vallei-ruigte, afgewissel met grasveldgebiede.”

Monty verduidelik die bioom is ‘n belangrike biodiversiteitsbrandpunt, bekend vir sy veerkragtigheid teen droogte en sy noodsaaklike ekosisteemdienste in terme van:

• Luggehalte: Die digte bos bind koolstof, verhoog suurstofvlakke en verminder stof.

• Waterbestuur: Ruigteplantegroei voorkom erosie van swaar reën en help om afloop na ondergrondse waterbronne en die Lushingtonrivier, ‘n plaaslike waterbron, te filter.

• Biodiversiteit: Die gebied bied habitat vir ‘n verskeidenheid wildlewe en ‘n geraamde 9 000 plantspesies, waarvan baie endemies aan die streek is. Die plantegroei, insluitend inheemse plante soos Portulacaria afra (spekboom), het saam met mega-herbivore soos olifante en renosters ontwikkel, wat histories ‘n gebalanseerde ekosisteem gehandhaaf het.

Kontemporêre Gebruike en Uitdagings

Vandag word die meentgrond in studies as ‘n “multifunksionele landskap met ‘n wye reeks gebruike” beskryf. Dit is juis die multifunksionaliteit  wat dikwels tot bestuursuitdagings lei in terme van ‘n balans wat gehandhaaf moet word tussen die gebruik van die grond as weiding, ontspanningsaktiwiteite soos stap en bergfietsry, tradisionele Xhosa-seremonies en die oes van medisinale plante.

Hoewel ‘n deel wat aan die R67 pad tussen Bathurst en Makhanda-grens op die oog af lyk na ‘n gebied waar onwettige storting van afval, potensiële mynbou en ‘n swak bestuurde munisipale stortingsterrein wat gesondheidsgevare vir diere inhou en waterbronne besoedel die meentgrond bedreig, is daar reeds ver gevorder met gesprekke tussen verskeie rolspelers om die area te herstel waar moontlik of alternatiewe gebruike vir die dele te kry. “Twee derdes van die Meentgrond is egter in ‘n uitskende toestand” reken Monty en “het geweldig potensiaal vir eko-toerisme.

Bestuur en Toekomstige Rigting

Vir Monty en die ander rolspelers van die span is die doeltreffende bestuur van die meentgrond van kritieke belang vir die langtermyn-oorlewing daarvan. Die Ndlambe Munisipaliteit besit die grond en hou dit in bewaring vir die gemeenskap. Gemeenskapsgebaseerde inisiatiewe, gelei deur groepe soos die Bathurst Inwoners- en Belastingbetalersvereniging (BR&RA), is aktief in gesprek met die munisipaliteit om ‘n verteenwoordigende Meentgrondbestuurskomitee en ‘n omvattende, afdwingbare bestuursplan uit te voer.

Die doel is om verder as ‘n “omhein-en-uitsluit”-bewaringsmodel te beweeg na ‘n inklusiewe mede-bestuursbenadering sê Monty. “Daar word gehoop dat die benadering die uiteenlopende behoeftes van alle belanghebbendes balanseer. Die doel is om die Bathurst meentgrond ‘n model te maak vir volhoubare munisipale meentgrondbestuur regoor Suid-Afrika, om te verseker dat hierdie “skat” steeds ekologiese en ekonomiese voordele vir toekomstige geslagte bied.

So wanneer jy daardie koue enetjie afsluk en die kondensasie pêrel so teen die glas af, en jy wil weglê aan een van die Pig se geregte. Dink aan die reusewerk wat voorlê om die meentgrond te bewaar, te ontwikkel en te gebruik sodat jou kinders oor jare van nou af steeds voordeel kan trek uit die stukkie verskuilde paradys, maar die gemeenskap ook ekonomies waarde daaruit kan put.

Hoe om daar te kom.

Laat Google jou lei tot by die eerste ingang.  Van hier af, kan jy of aanhou met die pad na Pennies hoek of jy kan die meentgrond se grondpaaie verken. https://maps.app.goo.gl/32add6fzeYC9qnZy8. As jy wil gaan stap stel ek voor jy parkeer by die Bathurst landbou museum en slaan voet na die naaste ingang toe.

Toegang is gratis, maar maak tog die hekke agter jou toe.

Drie redes hoekom jy die Bathurst meentgrond wil besoek:

  • Behalwe as jy ten duurste betaal gaan jy by nie veel ander plekke die geleentheid kry om so in die Oos-Kaapse bosveld te loop nie.
  • Jy sal verstaan hoekom talle mense daar by Pennies hoek stap, fotografie-uitstappies het en selfs wilderniskampering (wild camping) doen.
  • Die koue enetjie wat jy op die stoep by die Pig and Whistle gaan geniet as jy klaar die meentgrond verken het.

PROF MONTY ROODT: DIE AKADEMIKUS EN AKTIVIS GEWORTEL IN BATHURST SE GEMEENSKAP

Prof Monty Roodt, een van Suid-Afrika se vooraanstaande sosioloë met dekades se ondervinding in die ontleding van die Suid-Afrikaanse samelewing, het ‘n unieke tuiste in die historiese dorpie Bathurst gevind. Bekend vir sy dubbele rol as beide ‘n akademikus en ‘n toegewyde plaaslike aktivis, bied Monty ‘n perspektief op gemeenskapsdinamika, sosiale geregtigheid en erfenisbewaring wat by min ander mense bespeur kan word. Sy refleksies onthul hoe ‘n klein dorpie, deurdrenk van geskiedenis, ‘n mens se begrip van sosiale struktuur en aktivisme op diepgaande maniere kan vorm.

Die Akademikus & Die Aktivis

Oor baie jare se studie van die Suid-Afrikaanse samelewing deur ‘n sosiologiese lens, erken Monty dat die lewe in Bathurst sy perspektief op gemeenskapsdinamika beide versterk en genuanseer het. “Bathurst is ‘n mikrokosmos van breër samelewingspatrone,” verduidelik hy, “tog laat die skaal en geskiedenis jou toe om gemeenskapsverhoudings op ‘n dieper en meer persoonlike manier te aanskou. Die onderlinge verbondenheid hier verskerp ‘n mens se waardering vir sosiale samehorigheid en die uitdagings van insluiting.”

Terwyl hy terugdink aan sy tyd by Rhodes Universiteit in die Oos-Kaap, beklemtoon Monty die spanning tussen akademiese teorie en die geleefde realiteite van plaaslike mense. “Teorie is noodsaaklik, maar dit moet gegrond wees in die daaglikse stryd en lewe van gemeenskappe. Die direkte betrokkenheid by mense, na hulle te luister en  denkraamwerke dienooreenkomstig aan te pas, is noodsaaklik om daardie gaping te oorbrug.”

Vir Monty vorm die diep strukturele ongelykhede, veral in onderwys en toegang tot grond, steeds die Suid-Afrikaanse samelewing ten diepste, maar hulle kry selde die volgehoue ​​fokus wat hulle verdien verduidelik hy.

Lewe in Bathurst

Ten spyte van ‘n loopbaan wat hom na baie plekke kon geneem het, beklee Bathurst ‘n spesiale plek vir Monty en is hy na Bathurst getrek deur die dorpie se unieke mengsel van ryk geskiedenis en gemeenskapsgees. “Dis ‘n plek waar ‘n mens wortels kan plant en steeds verbind kan wees met die breër sosiale uitdagings en samelewing van Suid-Afrika” sê Monty voor hy uitwei oor die sterk gemeenskapsgevoel in Bathurst en hoe om die geskiedenis te balanseer met ‘n inklusiewe toekoms. “Die behoud van geskiedenis is noodsaaklik, maar dit moet nie die behoefte om diversiteit en sosiale vooruitgang te omarm, oorskadu nie,” verduidelik hy.

Op ‘n tipiese oggend geniet die afgetrede professor stil besinning op sy agterstoep wat oor sy kleinhoewe uitkyk terwyl hy koffie (sterk) drink, sy woordeskat teen Wordle toets voor hy dalk so drie keer per week met sy honde die Bathurst meentgrond gaan verken. Tussenin moet hy tyd maak vir sy skryfwerk, kaasmakery, inheemse bome kweek en deel wees van die meentgrondbestuurskomitee wat omsien na die Bathurst meentgrond. Die jongste uitdaging waarby die akademikus en aktivis betrokke is, is om die meentgrond teen ‘n beplande oopgroefmyn te beskerm. Daarvoor het hy en sy mede-komiteelede al die rolspelers wat by die meentgrond betrokke is, van bewaringskundiges tot by die vee se eienaars bymekaar gekry om kapsie aan te teken.

Nalatenskap

Toe hy gevra word om die sosiologie van Bathurst in ‘n enkele paragraaf te verduidelik, som hy die gesprek as’t ware op met: “Bathurst is ‘n plek waar geskiedenis, identiteit en sosiale transformasie in die alledaagse lewe saamkom en ryk lesse bied oor die kompleksiteite en moontlikhede wat beskikbaar is aan die Suid-Afrikaanse samelewing.”

Monty Roodt se lewe en werk getuig van die krag van diep geworteldheid in ‘n gemeenskap en hoe sulke diep verbintenisse tot ‘n beter begrip en verbetering van die samelewing kan lei.

One Comment

  1. Wolfgang K Steinbach

    First to you Louis ….congratulations on putting 3 subjects together in 1 article , so that we as readers can have the full picture of the Bathurst Commonage.. …and secondly to Prof Monty Roodt …don’t give up on what you doing on a daily basis !!!!