
GLEN LYNDEN – WAAR TAAL, KULTUUR EN GELOOF IN ‘N GEMEENSKAP VAN GELOWIGES ONTVOU HET
Die brandende begeerte onder inwoners van ‘n afgeleë boerderygemeenskap, bestaande uit ‘n mengsel van verskillende kulture, gelowe en taal, het die weggebaan om ‘n kerk vir alle gelowiges, diep in die Baviaansrivier-wildernisgebied, tussen die lowergroen bergvalleie van omliggende berge te bou. Die Glen Lynden-kerke is een van die mees noemenswaardige historiese bakens in die Oos-Kaap. Glen Lynden, ook bekend as Dal van die Rivier, is ‘n boerderygemeenskap, sowat 26 kilometer noord van Bedford. Die Glen Lynden-kerke bestaan uit twee ikoniese kerkgeboue.



Die oorspronklike kerkie is in 1828 gebou en ‘n nuwer klipkerk, wat in 1874 ingewy is. Die ouer Glen Lynden kerkgebou, is op die tradisionele “Skotse T-plan” styl gebou. Die nuwer een, is in ‘n Neo-gotiese styl gebou. Die “Skotse T-plan” is ‘n historiese boustyl wat ontstaan het toe vroeë Skotse en Nederlandse setlaars en predikante, hul kerkgeboue en plaashuise, in die Oos-Kaap ontwerp het. Hierdie styl, wat sterk op die letter “T” gevorm is, is gekenmerk deur ‘n sentrale preekstoel. Die uitleg fokus daarop, om die gemeente, of ‘n gesin, sò na as moontlik aan die hoofvertrek (of preekstoel in kerke) te bring. Die gebou bestaan uit ‘n hoofbalk met ‘n dwarsvleuel (die twee dele vorm ‘n T-vorm). In die negentiende eeu, het Skotse predikante, veral in die Oos-Kaapse dorpe, hierdie plan gebruik om ‘n sterk fokus op die prediking, en die Woord te plaas, met die preekstoel strategies in die middel, of aan die kop van die T geplaas. Die Neo-gotiese styl, ook soms verwys na as Victoriaanse Gotiek of Gotiese Herlewing (Githic Revival) genoem, was ‘n styl in die 18de en 19de eeuse boukuns wat sy oorsprong in die laat 1740’s in Engeland gehad het.

Die geskiedenis van die twee kerke dateer terug tot in 1786, toe die destydse Hollandse Oos-Indiese Kompanjie die grense van die Kaapkolonie verander het. Die nuwe grens het die bergreeks, wat deel vorm van die Groot Visrivierwaterskeiding-gebied, ingesluit. Later het trekboere in die grensgebied, wat toe ook nog deur enkele San (Boesman) bewoon was, inbeweeg. Die gebied was woes en afgeleë. In die vroeë 1820’s, het die boere van die Baviaansriviergebied, sowel as die pas aangekome Skotse setlaars, ‘n behoefte ontwikkel vir die bou van ‘n kerk nader aan hulle. Naasliggende dorpe soos Cradock en Somerset-Oos se kerke was net te ver, veral met die oog op die bediening van die sakramente. Danksy die Skotte se leier, Thomas Pringle, wie nie net ‘n bekwame en gelowige persoon was nie, maar ook ‘n goeie verhouding met die Kaapse regering gehad het, kon ‘n kerk gebou word met die goedhartige finansiële bydrae van ‘n aantal boere en setlaars. Die boeregemeenskap se eerste kennismaking met ‘n predikant in die gebied, was toe ds. John Evans van die Gereformeerde Kerk Cradock, op 23 Oktober 1820 die eerste erediens waargeneem het. Met Pringle se terugkeer na Kaapstad, het kerklike aktiwiteite vir ‘n tyd lank stil gestaan Benewens kerkdienste, is goedkeuring gegee om ook skoolonderrig in beide talle, Hollands en Engels aan te bied. Die eerste erediens word in Julie 1828 deur ds. Morgan van Somersert-Oos Gereformeerde Kerk waargeneem. Die eerste predikant van die gemeente Glen Lynden, was ds. John Pears van Skotland. Beide kerkgeboue is in 1977 tot Nasionale Gedenkwaardigheid verklaar. Die gedenkplaat op die kerk lui:”Hierdie kerk is in 1828 deur die regering gebou deur die invloed van Thomas Pringle vir die Skotse setlaars en hulle Nederlandse bure, Dit het in 1829 ‘n Nederduitse Gereformeerde kerk geword.”


Dit is interessant om te weet dat die Vrye/Skotse of Presbiterriaanse kerk, in daardie stadium, nie amptelike kerkordebepalings gehad het nie, en het hulle derhalwe, hulle by die kerkordelikebepalings van die Gereformeerde Kerk neergelê. Glen Lynden-kerk was dus vanaf die begin ‘n Gereformeerde Kerk. Die NG Gemeente Glen Lynden is op 17 Julie 1829 gestig en is die 19de oudste NG gemeenste in die land. Die rede hoekom die eerste predikante almal Skote was, was omdat Suid-Afrika op daardie stadium nog nie oor opleiding fasiliteite vir leraars beskik het nie. Baie van die Skotse predikant sou later na die Nederduitse Gereformeerde Kerk oorkom. Dit is interessant om te weet dat die gemeenstes van Bedford en ‘n gedeelte van Adelaide, aanvanklik eers onder Glen Lynden gemeente geval het. Namate getalle die van lidmate verskuif het, is die gemeente Glen Lynden nou op Bedford gesentreer, maar steeds onder die naam Glen Lynden. Dit is tans die 5de oudste gereformeerde gemeente in die Oos-Kaap.
Hoe om daar te kom:
Ligging: Geleë sowat 10 km buite die dorp op die R63 in die Baviaansrivier-vallei (GPS: 32.534959° S, 25.995425° O). Om by die kerke uit te kom, is werklik ‘n reisavontuur. As jy iemand is wat graag ons land, en spesifiek omgewings in die minder bekende dele van die Oos-Kaap wil verken, is ‘n uitstappie na die Baviaansrivier-wildernisgebied, beslis die moeite werd. Dit is ‘n pragtige omgewing en die pad wat al langs die Baviaansrivier loop, skep eweneens ‘n rustige en klam atmosfeer. Wanneer jy in Bedford is, neem die R63 afdraaipad wat aansluiting vind by die N10 na Cradock. Sowat 10km buite Bedford, neem die afdraai na Tarkastad vir die volgende sowat 15 kilometer. Die kerke is aan die regterkant van die pad geleë. Neem kennis, jy is nou in ‘n beskermde bewaringsgebied. Gehoorsaam asseblief die nodige reëls soos aangedui wanneer jy die area binnery. Hierdie is verseker een van daardie moet roetes wat jy moet ry. Die omgewing is mooi en die pad is geskik vir alle tipe voertuie om te ry. En o ja, voordat ek vergeet. Neem asseblief kennis van die Bedford Country Garden-fees wat jaarliks in November en in Desember op die dorp gehou word. Dit is beslis die ideale geleentheid om dan ‘n besoek by die kerke tea f te lê, synde dat vån die tuine wat tydens die fees besigtig kan word, op hierdie roete geleë is.
Bronne:
My eie reisavontuur daarheen.
https://en.wikipedia.org/wiki/Dutch_Reformed_Church,_Glen_Lynden
https://artefacts.co.za/main/Buildings/bldgframes_mob.php?bldgid=11783