LUI LEKKER LEWE IN RIO DE JANEIRO, STAD VAN PASSIE, POLSENDE SAMBA RITME EN KRISTAL HELDER NATUURSKOON

LUI LEKKER LEWE IN RIO DE JANEIRO, STAD VAN PASSIE, POLSENDE SAMBA RITME EN KRISTAL HELDER NATUURSKOON
Die diep blou koue water van die Atlantiese Oseaan, indrukwekkende rondvormige granietberge, uitgestrekte wit strande, pragtige helder groen stedelike woude, en warm gasvryheid van die inwoners van Rio de Janeiro, begroet die toeris met ‘n eerste kennismaking. My Tango deur Suid-Amerikatoer kom in Rio de Janeiro tot ‘n einde. Ons het drie dae om die stad te verken. Tot dusver was die toer een groot reiservaring met baie hoogtepunte. Dit sal onregverdig van my wees om een hoogtepunt bo die ander een uit te sonder. Hoewel niks het my voorberei vir dit wat in Rio de Janeiro op ons gewag het nie. Algemeen bekend as die “Wonderlike Stad” (Cidade Maravilhosa), was hier baie interessante plekke om te besoek. Rio, soos die stad ook algemeen in die volksmond bekend staan, is in 1565 gestig en was tot en met onafhanklikwording onder Portugese bewind. Met sy meer as 13 miljoen inwoners, is Rio de Janeiro vandag nie net die tweede grootste stad in Brasilë nie, maar welverdiend een van die gewildste toeristebestemmings ter wêreld. Die stad is heelgepas deur UNESCO as ‘n Wêrelderfenisgebied erken vir sy Stedelike Kulturele Landskap.


Soos dit met die meeste georganiseerde toere gaan, is die plekke wat jy besoek vooraf bepaal en bespreek. Jy gaan dus net saam en moet elke geleentheid ten volle benut en geniet. Wat opvallend is en wat jou dadelik tref, is die stad se ritme. Die stad is vol lewe, polsend en ritmies. Oral is mense òf besig om te werk, òf toeriste drentel komkommervry deur die besige strate, wandel, òf draf langs die gewilde promenades. Dit is hier, op die promenades, waar mense ongekunsteld en vrylik, die besonderse gasvryheid van die stad met sy borrelende kultuur beleef. Dit is ‘n stad wat nooit slaap nie. Wanneer die son sy laaste strale oor die stad gooi, en die skemeraand nader sluip, verhelder straatligte die stad om die soel aande op te helder. Dit is dan wanneer Rio de Janeiro sy ware klere wys.


Duisende mense stroom na die wêreldbekende Copacabana- Ipanema- Barra da Tijuca- en Leblon- strande, om in ‘n ontspanne atmosfeer die prentjie mooi sonsondergange te geniet, eetplekke te besoek, en die naglewe te ervaar. ‘n Mens raak intens bewus van die plaaslike inwoners (Cariocas) se daaglikse leefwyse. Om te aanskou hoe hul lewe om die stad se kuslyn draai, is nogal iets om te beleef. Dit is hier waar hulle in hul duisende op strande sonbaai, vlugbal speel en branderplankry. Om nie eers te praat van die duisende luukse bote en seiljagte wat die dieper seelewe en aktiwiteite geniet nie. Dit is ook hier op die promenades, waar die ritmiese samba en die naglewe, die lewendige en kleurryke kultuur van die stad ontbloot. Dit is veral die eg Brasiliaanse weergawe van die samba, die gewilde Bossa nova, beter bekend as “nuwe neiging”, wat uit alle oorde in die stad weergalm.Dit is ‘n ontspanne, melodieuse styl wat musikale uitdrukking aan Brasiliaane se positiewe meelewende leefwyse gee. Hierdie musiekstyl het sy oorsprong in die nagklubs van Rio de Janeiro se middelklas.




Rio de Janeiro is natuurlik ook bekend as die stad waar die grootste en mees uitspattigste karnavaal ter wêreld, jaarliks plaasvind. Miljoene besoekers van regoor die wêreld, stroom na die stad om die passies van dansers in hul kleurryke kostuums wat aan die skouspelagtige optogte deur die strate van die stad deelneem, te aanskou. Die Sambadrome (Sambòdromo) is ‘n permanente parade-laan met pawiljoene wat tydens die karnavaal gebruik word en is spesiaal ontwerp en gebou om die derduisende besoekers te akkommodeer. Besoekers het ook die geleentheid om hiertydens by die talle straatstalletjies (blovos) aan die vrolike uitspattige jolyt en aktiwiteite deel te neem.


My eerste uitstappie is ‘n rit deur die stad en daarna op na Suikerbroodberg of in Engels, bekend as Sugar Loaf Mountain (in Portugees-Pão de Açúcar). Die berg is sowat 396-meter hoog en is een van verskeie monolitiese graniet- en kwartsberge geleë op ‘n skiereiland aan die monding van Guanabaai. Nie alleen is die berg deel van die UNESCO Wêrelderfenisgebied nie, maar word ook beskerm deur die Suikerbroodberg en Urcaheuwel Natuurmonument. Die naam Suikerbroodberg, is afgelei van die berg se ooreenkoms met die tradisonele vorm van gekonsentreerde geraffineerde suikerbrood. Die kabelkarrit is ‘n adrenalien ervaring en bied panoramiese uitsigte oor die baai en die stad. Ek vergaap my hoe kabelkarretjies geruisloos op en af teen die Suikerbroodberg beweeg, Duisende toeriste besoek hierdie berg daagliks in glaswandige kabelkarre wat elk tot 65 mense kan akkommodeer. Die kabelkarre bied passasiers ‘n 360 grade uitsig oor die stad. Die kabelkarre loop elke 20-minute langs ‘n 1 400-meter lange roete tussen die pieke van Suikerbroodberg en Morro da Urca. Die kabelkar gaan vanaf ‘n grondstasie aan die voet van Morro da Babilônio, na Morro da Urca, en vandaar na Suikerboordberg se kruin. Om die kruin te bereik, neem passasiers twee kabelkarre. Die eerste tog is op na die korter Morro da Urca, ‘n hoogte van 220-meter, en die tweede kar ry verder op na Pão da Acùcar. Die rit opwaarts duur drie minute. Nadat ons ‘n tyd lank op die berg vertoef het om die pragtig uitsig oor die skiereiland, see en omliggende grantietberge waar te neem, en die prentjie mooi tonele in ons geheue vas te vang, sit ons die tog weer berg af.


Terug in die bus, ry ons deur die besige strate van Rio en verkyk ons ons aan die nuwe en die ou dele van die stad. In die hartjie van die stad ry die bus deur die bekende Lapa-woonbuurt, verby die bekende Carioca-akwaduk (Portugees: Aqueduto da Carioca), of ook algemeen bekend as die Lapa-boë (Arcos da Lapa). Hierdie besonderse ingenieurswerk is in 1750 voltooi met die doel om varswater vanuit die Carioca-rivier na die inwoners van Rio de Janeiro te bring. Dit is 270-meter lank en staan op sy hoogste punt 64-meter bo die grond. Die Lapa-woonbuurt, bekend as die “wieg van die Boheemse Rio” is die tuiste van ‘n smeltkoes van kulture waar uitsonderlike argitektuur, historiese monumente en lewendige naglewe voorkom.




Sedert die laat 1800’s dien die bokant van die akwaduk as ‘n brug en spoorlyn vir die beroemde Santa Teresa-trem (Bondinho) wat die middestad met die bergagtige Santa-Teresa-buurt verbind. Hierdie artistiese woonbuurt vertel die verhaal van die stad se Portugese koloniale verlede. Nie ver hiervandaan, vind jy die alombekende Selaròn-trappe.
Rio de Janeiro is ‘n stad van vele kontraste. Die luukse en minder ontwikkelde nedersettings is in een vervleg met mekaar, maar waar inwoners vrylik in vrede en harmonie saam leef. Luukse woonbuurte soos Leblon grens aan favelas (Digbevolkte en minder ontwikkelde nedersettings wat teen die berghellings uittroon. Ironies om te sien watter ongelooflike uitsigte hierdie huise oor die stad het.). Hierdie eens krotwoonbuurtes, het deur die jare verskeie sosio-ekonomiese transformasie ongegaan, tot sò ‘n mate dat die favelas vandag een van die stad se gewildste toeristebestemmings geword het.

Die Escadaria Selaròn-trappe (plaaslik bekend as die Lapa-trappe omdat dit in die Lapa-woonbuurt geleë is), het oor tyd internasionaal gewild onder toeriste geword wat daarheen stroom om fotos van hierdie kleurryke struktuur te neem. Die trappe is deur die Chileense kunstenaar, Jorge Selarón ontwikkel, uitgelê en bedek met helderkleurige teëls. Die trappe is tussen twee strate geleë en bestaan uit 215 trappe oor ‘n afstand van 125-meter. Die trappe is met 2 000 teëls bedek wat uit meer as 60 lande regoor die wêreld bekom is. Elke teël het ‘n storie om te vertel.






Ons toerbus ry rustig deur die besige stadsverkeer van Rio de Janeiro. Ons hou by die wêreldberoemde Maracanã-sokkerstadion stil vir diegene wat ‘n foto wil neem. Die uwe het die stadion voorheen reeds twee keer besoek en neem hierdie keer geen fotos nie. Die stadion is in elke geval te groot om van naby af te neem. Internasionale sokkersterre soos Pelé, Ronaldo en Pepé, het in hierdie stadion sterstatus bereik. Rio de Janeiro was in 2016 die gasheer vir die Olimpiese Somerspele en Paralimpiese Spele. Hierbenewens het die FIFA Wêreldbeker-toernooie van 1950 en 2014 ook hier plaasgevind. Die G20-beraad is in 2024 hier aangebied.


Tydens ons rit deur die stad, ry ons verby die Sambadrome (Sambòdromo). Dan is dit kuslangs op Ipanema-strand waar die bus stilhou vir diegene wat hierdie deel van die stad wil verken. Toerlede wat hier afklim moet selfsien kom klaar om by ons hotel terug te kom. Die uwe klim weer nie af nie. Was al van te vore hier.


Die bus ry verder, om die Rodrigo de Freitas-strandmeer. Geleë in die Lagoa distrik in die Sona-Sul gebied, is dié strandmeer die speelplek vir water geesdriftiges. Die meer is aan die Atlantiese Oseaan verbind sodat seewater deur ‘n kanaal langs die rand van ‘n park, plaaslik bekend as Jardim de Alah kan binnegaan. Die 7.5km wandellaan om die strandmeer is gewild onder fietsryers en drawwers. Hier is ook verskeie eksotiese restaurante en winkels. ‘n Besonderse blik kan van hieraf op die standbeeld van Christus die Verlosser bo-op Corcovado-berg gesien word, asook omliggende berge.


Jou besoek in Rio de Janeiro is nie voltooi voordat jy nie aan ‘n smaaklike caipirinha geteug het nie. Noudat jy hier langs die meer wandel met die pragtige Corcovado-berg (“Boggelrug” vernoem na sy vorm) in jou sig me die Christus-beeld bo-op, is dit die regte tyd om op ‘n stoep van ‘n restaurant te gaan sit en die omliggende atmosfeer geniet. Hierdie internasionaal gewilde skemerkelk-drankie wat sy oorsprong in São Paulo het, is in 2003 as ‘n Brasiliaanse Kulturele Erfenis verklaar. Jy kan ook jou caipirinha-oomblik op die strande van Copacabana en Ipanema nuttig. Vir beter diens is dit raadsaam om by een van die permanente strand-kiosks (barracas) te sit en jou drankie geniet.


Ons toer staan einde se kant toe. Daar is nog net een ikoniese landmark wat oorbly om te besoek, en dit is die standbeeld van Christus die Verlosser bo-op Corcovado-berg. As een van die Sewe Nuwe Wonders van die Wêreld troon hierdie 30-meter hoë standbeeld statig teen die blou hemelruim uit. Die standbeeld weeg 635 metrieke ton en is geleë op die piek van die 700-meter hoë Corcovado-berg in die Tijuca Nasionale Park. Die nasionale park is een van die grootste stedelike woude ter wêreld, wat ‘n welige groen agtergrond vir die stad vorm.




Die standbeeld is die grootste Art Deco-styl beeldhouwerk ter wêreld en dien as ‘n simbool van die Christendom regoor die wêreld. Om by die standbeeld uit te kom, moet ‘n mens met ‘n treintjie, die Corcovado Rack Railway op ‘n tandratbaan deur die Tijuca Nasionale Park tot reg onder die standbeeld ry. Die rit duur sowat 20 minute. Hiervandaan is dit ‘n kort entjie se stap om tot by drie hysbakke te kom wat jou dan weer verder teen die berg op vat tot ‘n punt waar jy met vier roltrappe die standbeeld kan bereik. Vir dié van julle wat fiks genoeg is en kans sien om die 220 trappe tot bo aan te durf, is daar darem ‘n troos deurdat jy op jou eie stoom en teen jou eie tyd die klimtog kan aanpak. Hierdie is ook die ideale geleentheid om die omgewing en natuurskoon te geniet. Wanneer jy die bo punt bereik het, is dit tyd om fotos te neem en die ongelooflike omgewing en natuurtonele te bewonder. Dit is ‘n groot oomblik wanneer jy voor die standbeeld staan. ‘n Mens voel klein en nederig. Gebruik die geleentheid om die kapel binne in die standbeeld te besoek en ‘n heilige oomblik te ervaar. Afhangende of jy op jou eie toer en of saam met ‘n groep is, sal bepaal hoe lank jy hier kan verwyl. Dit was my derde keer wat ek hierdie indrukwekkende geestelike beeldhouwerk kon besoek. Elke keer was ek oorweldig en gevul met emosies.
Ons toerbus ry verder deur die stad en hou by ons laaste besoekpunt stil. Verbaas om te sien wat dit is, gluur ek na die uitheemse keëlvormige struktuur aan. Die is Die Metropolitaanse Katedraal van Saint Sebastian (in Portugese: Catedral Metropolitana de São Sebastião) of ook bekend as die Metropolitaanse Katedraal van Rio de Janeiro (Catedral Metropolitana do Rio de Janeiro) vertel ons toergids ons. Hier in die middestad omring deur talle modern hoë geboue, staan ‘n struktuur wat nie lyk soos die Eurosentriese katedrale nie. Dié katedraal, kon net sowel ‘n gewone moderne gebou gewees het wat die een of ander besigheid gehuisves het, maar dit is nie. Die ontwerp van die katedraal verskil merkbaar van dié van die algemeen bekende tradisonele Eurosentriese kerkargitektuur. Geanker in die antieke Maya kultuur, is die ontwerp van die katedraal in die vorm van ‘n piramiede uit daardie era, en is opgedra aan die beskermheilige van Rio de Janeiro, Saint Sebastiaan.

Die katedraal is tussen 1964 en 1979 gebou met die doel om stukrag te gee aan die toekoms en meelewendheid van die Katolieke geloof in dié snelgroeiende metropool. Hierdie argitektoniese pre-Colombiaanse Maya-piramiedstyl, versinnebeeld Brasilië se eie kulturele uniekheid. Die land se wegbreek van die koloniale Portugese verlede word in die ontwerp van die katedraal vasgevang. Die katedraal het sitplek vir 5 000 kerkgangers, en ‘n staanplekkapasiteit van 20 000 mense. Op ‘n hoogte van 75-meter en 106-meter in deursnee, anker die katedraal gelowiges in die middestad. Die geestelike simboliek van die katedraal se kaal beton buitekant wat smal na bo toe in die rigting van ‘n kruisvormige dakvenster strek, simboliseer eenheid, die hemel en die gemeente se nabyheid aan God. Aan die binnekant van die katerdraal is vier reghoekige gebrandskilderde glasvensters. Inwoners verwys dikwels na die katedraal as Die Nuwe Katedraal.




Terug by die realiteit. Lughawe toe. Nou weer lang tye wat op verskillende lughawens verwyl moet word. Die terug vlieg vanaf Rio de Janeiro na São Paulo verloop nie soos beplan nie en die toergroep beleef ‘n groot terugslag met ampere katastrofiese gevolge. Met die inweeg van ons tasse op Rio, word ons ingelig dat die vlug na São Paulo gekanselleer is. Geskok staan 37 verwese toerlede stomgeslaan en verbaas. Die besef dat ons ons vlug vanuit São Paulo na Johannesburg kan verpas, tref almal met eens. Dan breek die oomblik aan vir iemand om die voortou te neem. Hier en daar probeer van die toerlede om op hulle eie oplossings te vind, maar kom gou agterdit sal nie so maklik wees nie. Ons jong toerleier, vergesel van ons Rio-toergids, begin verwoed gesprekke met lughawe-beamptes voer om vas te stel of daar nie alternatiewe vlugte is nie. Dit is hier waar ek besef hoe kwesbaar ‘n mens is wanneer jy nie die taal van die land waar jy jou bevind kan praat nie. Danksy ons Portugeessprekende toergids, kom daar lig in die tonnel en skarrel ons in drie groepe in verskillende rigtings op die lughawe na vertreksale om alternatiewe vlugte na São Paulo te kry. Alles eindig goed toe almal betyds is om die vlug terug Suid-Afrika te kry Vir ‘n oomblik het ek gedink ons bly nog ‘n dag langer in Rio de Janeiro. Om nie eers te praat van die finasiële impak wat dit op ons sou gehad het. Die les hier uit te leer. Maak seker jou vlugte is op skedule. Leer ‘n paar woorde om in ‘n vreemde land oor die weg te kom. Ons het almal soos afkop hoenders rondgetrippel. Gelukkig het ons toerleier en gids tot ons redding gekom en kon verlig en veilig in Johannesburg aankom. Wat ‘n toer! Dankie VanDyktoere vir ‘n wonderlike Tango deur Suid-Amerikatoer.






Bronne:
The Rough Guide to South America on a Budget. The sixth edition published 2024. Updated by Mark Davidson, Sara Humphereys, Daniel Jacobs, Heather Jasper, Sarah Miles and Robert Savage
https://en.wikipedia.org/wiki/Rio_de_Janeiro
https://www.britannica.com/place/Rio-de-Janeiro-Brazil