Die gedeelte wat vandag bekendstaan as Alexandria was eers Olifantshoek gewees en het veral swaar tye beleef gedurende die eerste helfte van die 19de eeu weens die Kaapse Grensoorloë van 1811, 1819, 1834 en later. Olifantshoek was destyds deel gewees van die Uitenhage gemeente, as tweede oudste gemeente in die Oostelike Provinsie. Graaff- Reinet is die oudste NG Gemeente in die Oos-Kaap of Oostelike Provinsie van vroeëre jare.


Olifantshoek het in die veldkornetskap van Onder-Boesmansrivier geval en was die mees afgeleë deel van die moedergemeente. Die lidmate in die omgewing van Olifantshoek moes per ossewa Uitenhage toe reis vir “huwelike, doop, lidmaatskap en alle ander kerklike voorregte” soos dit opgeteken is die Gemeentegeskiedenisargief van die NG Kerk. Om dinge makliker te maak het die gemeentelede in die wyk op die plaas Brakfontein wat aan Evert Potgieter behoort het, ‘n geboutjie opgerig vir kerkdienste en het dit dan die naam Kerkplaas in die volksmond gekry.
Vir baie jare het ds. Alexander Smith gereeld die moeisame tog aangepak om die Olifantshoekers op Kerkplaas te besoek en te bedien. Uit erkentlikheid het hulle sy naam op 8 Januarie 1854 aan die nuwe gemeente “Alexandria” gegee. Byna 20 jaar lank was die naam van die gemeente Olifantshoek, maar die Sinode van 1873 het dit na Alexandria verander.

Vandag is die NG Kerk steeds in gebruik en kan jy sy kenmerkende toring sien in die middedorp van Alexandria. Die kerk is goed opgepas en het ‘n baie interessante museum wat nie net die kerk se geskiedenis weerspieël nie, maar ook die van die dorp en die omgewing. As jy bietjie meer wil weet kan jy altyd vir Marie Greyvenstein van Alexandria Tours by 068 584 7653 bel. Vir ‘n paar rand gaan sy julle gids wees en saam met julle deur Alexandria loop en die ryke geskiedenis van die klein plekkie vir jou laat lewendig word.
Werd om te weet:
Adres: Voortrekkerstraat, Alexandria. Of met Google https://maps.app.goo.gl/wVFQnYga8BYPVBD28
Toegang: Hoewel die kerk nie besoektye het nie, sal die kantoorpersoneel jou tegemoetkom as jy die kerk se binnekant en die museum wil sien.
Vir meer inligting oor die gemeente kan jy die volgende webadres besoek: https://www.gemeentegeskiedenis.co.za/ng-gemeente-alexandria/ As jy bietjie meer oor Alexandria wil weet, kan jy hierdie skakel besoek: https://kenton.co.za/alexandria-sunshine-coast-eastern-cape/
