Vanaf Bathurst in die Oos-Kaap loop ‘n grondpad kus se kant toe, wat jou met ‘n effense draai by die monding van die Groot Visrivier gaan uitbring. Ongeveer halfpad na die Visrivier, aan die regterkant van die pad, staan daar ‘n beskeie gebou tussen digte bosse en oorskadu deur ‘n reuse boom. Dit is die geskiedkundige klein St Mary’s Anglican Church, of in die omgang as die Cuylerville-kerk bekend. ‘n Paar honderd meter verder, op die oewer van ‘n stroompie, is die kerkie se skilderagtige kerkhof.

Die kerkie se ontstaan is te danke, as mens dit so mag gebruik, aan ‘n noodlottige skietvoorval in 1831. Sou die jong voorlopige veldkornet, Charles Bailie, nie vir Charles Fletcher in die jaar noodlottig gewond het nie, was die Cuylerville Angklikaanse Kerk, dalk nooit gebou nie. Of dit nou uit berou was, en of die skietvoorval ‘n sluimerende geestelike kant in die jong man wakker gemaak het, sal mens nie weet nie, maar kort daarna het Bailie diep gelowig geword en het dit tot die bou van die Cuylerville Anglikaanse Kerk gelei.


Hierdie kerkie wat weggesteek is onder reuse ou bome, het sy spore verdien deur al die grens-oorloë wat so kenmerkend van die Oos-Kaap was in die vroeë jare na die koms van die Britse Setlaars te oorleef.
Vir die gemeenskap was hierdie gebou ‘n kerk, ‘n skool en skuiling wanneer hulle aangeval word. Die oorspronklike kerkie het dus nie vensters gehad nie, maar skietgate waardeur geskiet kon word as die vyand aanval. In 1846 tydens die Oorlog van die Byl het 66 mense vir ‘n jaar in hierdie klein kerkie geskuil.

Vandag staan hierdie kerkie steeds manmoedig en word sy deure gereeld oopgesluit vir eredienste vir die gemeenskap.
Gaan besoek hom gerus, en lees meer van die kerkie in die bygaande dokument wat deur die gemeente opgestel is. Cuylerville kerk finaal.pdf
Werd om te weet:
Adres: Laat Google jou maar lei. https://maps.app.goo.gl/1WbgQAQeWbTrgbPA9
Toegang: Gratis. Hy is nie oop vir besoekers nie, maar gaan kyk gerus en span so bietjie uit onder die ou bome. Stap maar die entjie na sy begraafplaas toe en gaan kyk na die geskiedenis wat daar vertel word.
Nog leeswerk, sou jy wou.
https://www.getaway.co.za/travel-stories/road-trips/looking-back-200-years
https://www.artefacts.co.za/main/Buildings/bldgframes.php?bldgid=11970

Pingback:DIE ALBANY-KARMINO. ‘N ANDERSE OOS-KAAPSE REIS-ERVARING – GOPSE