WITSAND IN DIE KALAHARI: WAAR DIE STILTE VERBREEK WORD DEUR DIE GEBRUL VAN SAND

Wanneer Augustus aanbreek en almal in Gauteng skielik blomme wil gaan kyk in Namakwaland en jy so bietjie opsien teen die N14 wat vir ewig en so ‘n halwe dag aanhou tot jy Springbok bereik, stop vir ‘n slag by Witsand. Nee, nie die een by die see nie, maar die Witsand Kalahari Natuur Reservaat. Diep in die Noord-Kaap. As jy sien die versamelvoëls gebruik elke ding wat effens hoër as kniehoogte is om ‘n nes te bou wat Gauteng se voëlhokkies waarin mense bly na landgoedkomplekse laat lyk, dan weet jy, jou toerwa is naby Witsand, een van die Noord-Kaap se bes bewaarde geheime.

Maar om by die stukkie hemel op aarde uit te kom sal jy die sowat 70km se grondpad, wat maar plek-plek slegte sinkplaat is moet trotseer. Maar as ‘n gesoute Gautenger, weet jy niks kom maklik nie. Nie parkeerplekke by Sandton nie en ook nie vining-vinnig iets gaan soek in die winkels nie. So wees geduldig en kyk na die natuurskoon om jou. Stop en luister na die stilte van die Noord-Kaap. Hou die versamelvoëls dop, want sulke groot neste gaan jy nie weer vinnig sien nie. En as jy die hek van Witsand op jou regterkant sien, dit is net so voordat jy begin dink jy het die uitdraai gemis, dan is daar skielik nie meer sinkplaat nie, en verwelkom die netjiese kantore van die reservaat jou.

Witsand is nie die Kruger nie, en as jy net ‘n Groot-Vyf mens is, gaan dit jou dalk aan die begin teleurstel, maar Witsand is ryk aan dierelewe. Dit is ‘n unieke biosfeer, met die wit duine wat tussen 20m en 60m hoog rys, omring deur die rooigrond van die Kalahari.

Witsand Natuurreservaat is ‘n voëlkykparadys en wemel van voëllewe. Die meer as 170 voëlspesies sluit in die gompou (grootste vlieënde voël in Afrika volgens hulle webtuiste), sekretarisvoël, kelkiewyn of te wel Namakwa sandpatrys, natuurlik die alomteenwoordige versamelvoëls, uile en Afrika se kleinste roofvoël – die dwergvalk, al wagtende vir sy prooi naby die versamelvoëls se neste. Gaan maak gerus ‘n draai by die voëlskuiling. Dit word goed onderhou en is ‘n belewenis.

Die 3 500 hektaar park is die tuiste van  meer as 16 bokspesies soos die gemsbok, rooihartbeeste, steenbokke, springbokke en duikers.

Maar as jy klaar gebraai het vroeg-aand, vat die flits en gaan soek van die nagdiere soos die ietermago, die erdvark, aardwolf of van die talle wilde katte wat Witsand hulle tuiste noem.

Die beste deel van die park is dat jy byna orals kan stap en daar is ook roetes waar jy ‘n gids kan boek om die deel van Suid-Afrika aan jou te verduidelik.

Maar jy wil eintlik by die brulsand uitkom. As jy gelukkig is om by Witsand in ‘n droë tyd uit te kom, gaan jy die brulsand hoor as jy die duine uitklim. Daardie brul-geluid van die droë sandkorrels wat teen mekaar skuur gaan jy nie sommer op ‘n ander plek in Suid Afrika hoor nie.

So as jy teen die duine op en af is, dan kan jy gaan afkoel in die swembad wat beskikbaar is naby die blyplek. Laatmiddag kan jy maar die hout bymekaar sleep vir jou braai en as dit goed donker is kan jy daardie toep oopmaak wat jy jare terug afgelaai het vir die sterre, en wat jy omtrent nooit in Gauteng gebruik nie. Want in die Noord-Kaap is die sterre net so bokant jou tent se dak. Die volgende oggend kan jy maar vroeg roer as jy nog tot in Springbok moet ry, maar as jy kan, stop eers by die Oranjerivierwynkelders in Upington. Die restaurant is bekostigbaar en het goeie kos vir billik pryse. Maar jy sal jou ry moet ken van daar af, want dit is nog ‘n goeie stoot tot in Springbok.

Hoe om daar te kom van Gauteng af, en sommer van ander plekke ook af:

  • 5km wes van Olifantshoek op die N14 is die Witsand-afdraai en van daar na Witsand is dit 75km.
  • Vanaf Griekwastad op die N8 na die Witsand- afdraai is 80km en van daar na Witsand is dit 45km.
  • Vanaf Groblershoop op die N8 na die Witsand-afdraai is 58km en van daar na Witsand is dit 45km.
  • Of soos Google jou verduidelik: https://maps.app.goo.gl/8c9J2Q1xK72NnNXJ8

Jy kan hulle bel: +27(0)83 234 7573 of jy kan maar e-pos ook stuur na  reception@witsandkalahari.co.za of selfs witsandkalahari@gmail.com

Hier is die skakel na die Upinton se toerisme webblad waar jy nog besonderhede kan kry: https://www.upington.com/witsand-nature-reserve-resort-camping/

As jy veiliger voel met die satelliete wat ‘n ogie oor jou moet hou dan gebruik jy die volgende koördinate: S 28˚33.990′ E 22˚29.256′

3 Redes waarom jy Witsand wil besoek:

  • Meeste van jou vriende dink Witsand is by die see.
  • Jy wil teen die duine uitklim om die brulsand te hoor. As jy my nie glo nie, hier het ene Sakkie Coetzee ‘n video op YouTube geplaas waar hy die duine laat brul het. https://youtu.be/EhewfFgdzhM?si=HSwV5V0xWJTDIa4v
  • As jy blomme kyk en kort-kort moet of koes vir ‘n Gautenger wat net stop waar hy wil of ‘n buurman moet groet, gaan julle die heeltyd dink aan die mooi stuk wêreld waarvan so min mense weet.

One Comment

  1. Lekker artikel oor ‘n juweel van die Kalahari wat min aandag kry.