‘N STUKKIE MOERDIJK OP ‘N KOPPIE ALLEEN

Op 4 Maart 1890 is Gerard Leendert Pieter Moerdijk op die plaas Zwaershoek in die Nylstroom-distrik in vandag se Limpopo Provinsie gebore. ‘n Man wat later jare groot en belangrike spore sou los in die argitektuur van Suid-Afrika.  Sy nalatenskap sluit meer as 80 kerke, monumente en hospitale in. Een van sy onbekendste werke staan sedert 1939 op ‘n koppie sowat 30km buite Alexandria, net so ‘n katspoegie se draai-ry vanaf die R72, op pad na Port Elizabeth (Gqeberha).

Die monument is opgerig om die trekleier Karel Landman se trek in 1837  vanuit die geweste waar hy geboer het te gedenk. Dié Voortrekkerleier  het op die plaas Olifantshoek, naby die Boesmansriviermond geboer en het na die Sesde Grensoorlog (1834-1835) moed verloor na hy groot skade gely het tydens die oorlog.

In 1837 het hy met sowat 400 siele die trekroete van Piet Uys gevolg wat sowat 3 jaar voor hom uit die geweste getrek het. Landman het hom veral onderskei tydens die Slag van Bloedrivier waar hy as Tweede in Bevel van Andries Pretorius opgetree het. Hy  is in 1875 naby Pietermaritzburg dood waar hy geboer het. Tydens die herdenking van die Eeufees van die Groot Trek in 1938  het die gedagte aan ‘n monument onstaan om die Eeufees ook plaaslik in Alexandria te herdenk. Dié distrik het immers een van die grootste trekgeselskappe, dié onder Karel Landman, opgelewer.

Hoewel die aanvanklike gedagte was om ‘n ruwe klip of rots op ‘n voetstuk op die stuk grond wat geskenk is vir die doel op te rig het het Gerhard Moerdijk, die argitek, wat in die verband genader is gemeen dat ’n reuse-granietklip op ’n paslike voetstuk onprakties sou wees. Hy het ’n groot, hol aardbol van beton, met ’n ossewa oor ’n kaart van Suid-Afrika voorgestel. In 1939 is die finale ontwerp ontvang en goedgekeur en op 16 Desember 1939 is die monument ingewy.

Vandag word die monument steeds gebruik vir Geloftedagvieringe en mense is welkom om die monument deur die loop van die jaar te besoek. Daar is ‘n paar groot bome waar mense in die skadu kan piekniek hou en die uitsig vanaf die koppie is voorwaar iets besonders.

Besoektye: Die monument se hek staan oop vir besoekers.

Toegang: Gratis.

As jou slimfoon die monument nie op sy eie kan kry nie, hier is die ligging: https://maps.app.goo.gl/W6q36ZHg66jcm19N9

As jy vanaf Port Alfred se kant af ry en jy is deur Alexandria, dan sien jy die aanwysingsbord vir Karel Landman so amper 25km op die R72 na Port Elizabeth (Gqeberha) se kant toe. Die stukkie grondpad wat jy moet ry na die monument toe, sowat 5km, is heel gaanbaar met ‘n gewone voertuig.

3 Redes hoekom jy die Karel Landman monument wil besoek.

  • ‘n Selfie by daardie aardbol, Is dit nodig om dit uit te spel?
  • Jy wil graag by die rigtingwyser gaan staan en kyk hoe ver Alexandria in die VSA van daardie punt af is.
  • Jy wil jou kampstoel onder een van daardie bome oopslaan, ‘n koffie drink en sommer jou gedagtes laat gaan oor die Groot Trek en hoe lank dit geneem het om Natal toe te trek met ‘n wa en osse.

Bronne:

https://weet.co.za/geskiedenis/karel-landman/

https://af.wikipedia.org/wiki/Karel_Landman_Monument

https://scielo.org.za/pdf/it/n36/14.pdf Defining a sphere of influence: Karel Landman’s centenary monument