OM ‘N 2-STROKE TE DRINK, ‘N 6-PONDER TE HOOR EN DIE YSTERSMID SE VUUR TE RUIK

Wanneer die geur van vars gebroude koffie en die gehamer van ’n ystersmid jou vroegoggend by die hekke van die Bathurst-landboumuseum verwelkom, dan weet jy, jy en die familie is betyds vir die Bathurst-plaasfees wat elke jaar hier rondom  27 April aangebied word.

Begin maar met ’n goeie koppie koffie, want John en Natsaha Yasbek het hulle Diesel Bean Craft Coffee-stalletjie reg langs die hoofhek opgeslaan. Die gasstofies blaas reeds van vroegoggend om die eerste brousels reg te hê vir die vroeë-kommers.

Met name vir die koffiebrousels wat ’n verwysing is na enjin-terminologie het John en Natasha baie vinnig ‘n hele groep nuuskieriges wat wou proe en wonder oor die “frothy ATF” of die “oil change” of “2-stroke” wat op die spyskaart is. John sê hy het die name uitgedink as hy so onder ‘n enjinkap van ‘n dieselvoertuig inklim met sy nommer 13-moersleutel. Dieselenjins en koffie is twee van die Yasbeks se groot liefdes en hulle slaan graag hulle koffiestalletjie op by viertreksamekomste in die grammadoelas.

Met ’n vars brousel “frothy ATF” kan jy nou rustig deur die res van die museum en uitstallings stap. Maak maar gou vir die nartjies en die pynappels wat in die skuur verkoop word – mense loop van vroegoggend met bokse vol nartjies en pynappels na hulle motors. Die pryse is goed en die vrugte is soet. Die ander groente is ook vars, maar mens kan net soveel in jou hande dra op een slag.

Daar is talle stalletjies met varsgebakte produkte en die potjiekos-kompetisie kom vroegoggend reeds op dreef terwyl die veteraanmotors stadig en statig hulle plekke langs mekaar inneem sodat die eienaars kan spog met hulle wiele.

Gaan kyk maar na die uitstalling van die Lister-enjins, want as jy oud genoeg is sal jy hulle nostalgiese geluid onthou en as jy te jonk is, is daar verskeie mense wat jou van Lister-enjins sal kan vertel.

Maar dit is die ystersmid wat die aandag trek. Elkeen wat al ‘n vuur gemaak het in hulle lewe gaan staan by die deur en hou Nolan Flanegan dop wat die kole laat gloei en dan kort-kort met ‘n ysterstaaf daarin krap om te kyk of die kole al warm genoeg is om die yster te begin vorm. Sy gesig verklap hoeveel hy dié stokperdjie van hom geniet. Sy gekap en gekrap maak dat elkeen wat daar staan terugverlang na die Middeleeue toe jy jou swaard en perdeskoene by die ystersmid gaan maak het. Die reuk van die vuur en kole en die gekap met ‘n ysterhamer om vorm te gee, maak dat die ystersmid baie vinnig ‘n groot aantal besoekers het.

Laai die kinders op die veteraantrekker se sleepwa vir ‘n pretrit deur die museumgronde terwyl jy gaan kyk hoe hulle in die vroeë jare, daardie tyd waarvan ons pa’s altyd gepraat het oor hoe hulle 7 myl skool toe gestap het sonder skoene, hooibale gemaak het. En as jy dink dit is amper tyd om huis toe te gaan, wag net tot so twaalfuur want dan gaan hulle die 6-ponder kanon vuur. Basil Mills is in beheer van die kanon en hy is ’n gelisensieerde wapenkundige, geskiedkundige en raconteur, wat die woordeboek reken ’n trappie hoër is as ‘n gewone storieverteller en kan staaltjies op ’n vaardige en amusante manier vertel.

As jy dan nou klaar die kanon gesien en gehoor het, jou nartjies en pynappels is in jou wa se bagasiebak, dan het jy nog die hele middag om so drentel-drentel deur Bathurst te kuier voor jy in die pad spring na jou slaapplek.

DRIE REDES HOEKOM JY DIE BATHURST PLAASFEES WIL BYWOON

  • Jy gaan nie weer vinnig ʼn ystersmid sien wat ʼn perdeskoen uit ʼn stuk yster kan maak nie.  Die kuns is besig om dood te loop. 
  • Gaan staan vir ʼn foto langs die 6-ponder. G’n selfies nie, jy en die 6-ponder gaan nie saam inpas nie. 
  • Jy gaan nie sommer weer die geleentheid kry om Diesel Bean se 2-stroke koffie te proe nie. 

Adres:  Sowat 1 km buite Bathurst op die R67 na Grahamstad. Jy kan die museum nie mis nie.

Toegang: R20 vir volwassenes. Moenie suinig wees nie. Die museum is ‘n liefdestaak vir ‘n klein groepie belangstellendes wat die museum aan die lewe hou met skenkings en inisiatiewe soos die Plaasfees.

Tye: Hekke maak 09:00 oop.

One Comment

  1. Mooi stukkie geskiedenis en mooi geskryf ook. Dankie Louis