In die hart van die streek waar die Britse Setlaars in 1820 voet aan wal gesit het, so op die rand van die Sonskynkus met die Frontier country in die Oos-Kaapse binneland, lê die historiese gehuggie van Bathurst, maar net so ‘n kilometer of wat anderkant die histories Pig and Whistle-kroeg is Bathurst se landboumuseum wat in 1978 geopen is met die doel om die landbougeskiedenis van die Oos-Kaap te bewaar en te vertel.
Vanaf ‘n klein begin van sowat 30 uitstalartikels is daar vandag meer as 1 900 artikels, onder andere baie skaars trekkers en ook ‘n ossewa uit die Setlaar-era. Vir slegs R50 (2024) kan nuuskierige grootmense en kinders hulle verkyk aan hoe wasmasjiene (John’s steaming washing machine en die “squirrel” met sy ingeboude stoof) en Philips radio’s gelyk het voor outomatiese wasmasjiene en die internet ‘n ding was. Ou stofsuiers staan langs ‘n ou stoompot wat uit die 1940’s kom, die rakke kreun onder die vleismeulens, roomafskeiers (dis nou van voor mense begin dink het melk kom uit ‘n boks in die supermark) skale en platespelers van weleer.



Die museum het verskeie permanente uitstallings:
TREKKERS EN VOERTUIE
‘n Groot versameling trekkers (baie in lopende toestand) en wat wissel in ouderdom van uit die 1920’s tot 1950’s word uitgestal. Sommige hiervan is ‘n Allis-Chambers, Case, IHC Farmall, Ferguson, Field Marshall, Ford, Fordson, John Deere, ‘n 3-wiel Karl-Richter (Duits-vervaardig), Massey Harris, McCormick, Wallis Nuffield. Daar is ook twee skaars klein marktuintrekkers – ’n Fraser en ’n Gibson.
Die versameling kruipers (Crawlers in Engels) sluit onder andere ‘n Fowler en ‘n John Deere in.
Tydens hulle jaarlikse opedag en ook tydens die Bathurst-skou (Maart) word van die trekkers uit die skure getrek en rondgery sodat besoekers nader aan die werklikheid van boerdery in die 1920’s kan kom. Van die gunstelinge is die John Deere Model R en die Fordson Major Diesel.
BOERDERY-IMPLEMENTE
Tussen hierdie werktuie is daar verskeie ploeë, skeursnyers, skottels, saaimasjiene, hooiharke en , balers, alles nog in ‘n werkende toestand. Daar word gereeld demonstrasies gelewer om besoekers te wys hoe die implemente gewerk het. Die museum het ook ‘n gerestoureerde en werkende emmerpomp wat water uit ‘n put pomp. Dit staan bekend as ‘n bakkiespomp en dit is destyds deur dierekrag aangedryf. Die museum het ‘n video wat wys hoe donkiekrag die pomp gedraai het om die water uit die put te kry.
BOERDERYTOERUSTING
Onder hulle boerderytoerusting-uitstalling is daar skaapskeertoerusting, wolperse, ‘n vagsorteertafel, plaasgereedskap, netdraadheiningmakers en skrynwerkgereedskap en vele meer.
SUIWEL
Die museum se suiweluitstalling neem besoekers terug na die tyd van bottervorms en botterkarrings, skeiers en ander interessanthede.
OUTYDSE KATOETERS EN & TEGNOLOGIE
Onder hierdie uitstalling is daar ‘n unieke kamera-afdeling met verskeie outydse kameras, videokameras en ‘n versameling ou foto’s. Daar is selfs ‘n ou stereoskopiese kyker wat jy kan gebruik om die foto’s wat hulle by die museum het te bekyk. So, as jy graag vir die onder 25’s wil wys hoe kameras gewerk het voor die jongste iPhone of Canon Mirrorless, maak ‘n draai.



HUISHOUDELIKE IMPLEMENTE
‘n Groot versameling kombuisgereedskap wat dinge soos perske/appelskillers, ontpitters, vleismeulens, versappers, koffiemeulens, kersvorms, wasmasjiene, yskaste, baddens en naaimasjiene insluit kan gesien word.
Wat die museum werklik enig in sy soort maak is die werkende ystersmede wat elke dan en wan demonstrasies gee. Van hulle produkte is ook te koop by die museum.
As jy dan voel jy het genoeg gedoen om ‘n bier of ‘n koeldrank te drink kan julle by die Ploughman’s Pub, langs die museum, ‘n draai maak. Maar maak seker jy ry vroeg genoeg huis toe voor die afkopspook van Upper Terrace met sy perd jou dalk die skrik op die lyf jaag. Maar dit is ‘n storie vir ‘n anderdag.



5 REDES OM DIE BATHURST MUSEUM TE BESOEK:
- Dit is uniek in Suid Afrika en daar is nie nog een wat so goed in stand gehou word nie.
- Die ossewa wat die Setlaars se vragte aangery het na hulle nuwe blyplekke.
- ‘n Werkende ystersmid… wie sal nie daarna wil kyk nie?
- ‘n Lewende byekorf in die museum. (Dit is veilig en jy hoef nie bekommerd te wees oor bysteke nie.)
- Die Massey-Harris Wallis trekker van 1928
Kontakbesonderhede:
Adres: Trappes St 723, Bathurst, 6166.
GPS: -33.4968083 26.8250067,17
Webadres: https://bathurstmuseum.co.za/
Of soek sommer net die museum op jou gunsteling soekenjin en steek jou toerwa se neus in daardie rigting. Die Oos-Kaap is elke kilometer werd en lê oop vir ontdekking.


