SIMONSTAD-OMGEWING: WANNEER MEER MENSE NA PIKKEWYNE OP DIE STRAND KYK AS NA SWEMKLERE, EN WAAR DIE LEGENDE VAN DIE VLIEËNDE HOLLANDER ‘N KAAPSE DRAAI MAAK

So kry ons word dat die Suid-Afrikaanse familielid en haar Amerikaner Kaapstad toe kom vir ‘n paar dae, en of ons dalk die pad sal aanpak Kaapstad toe uit die metropool van Bathurst om hulle te ontmoet en so bietjie te kuier.

So gevra en so gedaan.

In Kaapstad gekom het hulle reeds Tafelberg en die akwarium gedoen, maar op die lys is pikkewyne en Kaap  die Goeie Hoop Natuurreservaat.

En so word die Forester se neus in Kaapstad se rigting gedruk om pikkewyne en na Kaap die Goeie Hoop te gaan kyk.

In Kaapstad-omgewing is daar eintlik net een plek waar jy die Afrika-pikkewyn kan sien, en dit is in Simonstad by die Boulders-pikkewynkolonie. Hoewel daar ander pikkewynkolonies langs die Kaapse kus tot by Port Elizabeth, nou Gqeberha, voorkom, dink ek nie daar is een waar jy so naby die pikkewyne kan kom en ook saam met hulle swem nie. Die Boulders gee jou die geleentheid, met drie veilige strande, ‘een ‘n plek waar jy na die pikkewyne kan kyk en drie staproetes. Dit bied ‘n unieke ervaring vir die sowat 60 000 besoekers wat jaarliks na die pikkewyne kom kyk.

Die rotse verskaf ‘n dramatiese agtergrond vir die kolonie en is uitstekend vir foto’s. Op die kleinste strand is daar veilige swemplek en is die besoekers meer geïnteresseerd in die pikkewyne as in almal wat in swemklere en amperse swemklere op die rotse en strand rondlê.

By die uitkykpunt, kyk jy af op die pikkewyne en kan die tyd verbyvlieg terwyl jy na hulle doen en late kyk. Die waggelende diere wat akrobate word in die water, verskaf ure se vermaak aan die besoekers.

Hou jou hande en vingers weg van hulle, daardie bekke is vlymskerp en waarskuwings is orals opgesit.

As jy die Bellveu-weg se parkeerterrein gebruik, koop jou kaartjies en stop eers by die kleiner ene van die drie strande, maar dan moet jy weer uitgaan en om die kaartjiekantoor loop om by die ander hek uit te kom, wat jou na die uitkykpunt neem. Met jou kaartjies in jou hand hoef jy dit net vir die kassiere by die hoofhek te wys en dan stap jy deur, maak nie saak hoe lank daardie tou is van nuuskierige mense nie.

Wanneer om te gaan kyk

Die somer is die beste tyd om die Boulders te besoek en dis wanneer jy die meeste pikkewynaksie sal sien. Jy kan egter die pikkewyne deur die jaar sien. Tussen September en Oktober spandeer die voëls baie tyd om op see te vreet, so daar is minder pikkewyne op die strand. Vir ‘n ware bederf, besoek in Januarie wanneer die jong voëls op die strand vervel. As jy op soek is na kiekies, besoek vroeg in die oggend of laat in die middag wanneer die voëls die aktiefste is.

So bietjie agtergrond oor die Afrika-pikkewyn

Op 26 Mei 2010 is die Afrika-pikkewyne herklassifiseer van ‘n kwesbare tot nou bedreigde status. In 1956 is die eerste  volledige sensus op die Afrika-pikkewyn gedoen en is daar ongeveer 150 000 broeipare getel. In 2009 was daar net 26 000 broeipare in die wêreld oor, ‘n verlies van meer as 80% van broeipare in net meer as 50 jaar.

Die Boulders-pikkewynkolonie is in 1983 gestig. Getalle het vanaf omliggende eilandkolonies toegeneem en in 2005 was daar sowat 3 900 voëls. Sedertdien was daar ‘n afname en in 2011 was daar slegs sowat 2 100  voëls by Boulders-pikkewynkolonie. Kundiges skryf die dramatiese afname toe aan:

  • habitatvernietiging
  • gevolge van oliestortings en ander mariene besoedeling
  • impak van aardverwarming op visreserwes
  • te veel vis wat gevang word
  • onverantwoordelike toerisme-aktiwiteite

3 Redes hoekom jy die Boulder Pikkewynkolonie wil besoek:

  • Julle gaan ‘n selfie saam met ‘n pikkewyn probeer neem.
  • Jy wil onder jou toerkar kyk of daar nie dalk ‘n pikkewyn ingekruip het nie, sodat jy by die volgende wynproe dit met groot vermaak kan vertel.
  • Waar gaan jy weer die geleentheid kry om saam met pikkewyne te swem?

Toegang: Toegang is so R50 vir volwassenes, behalwe as jy ‘n buitelander is, dan is dit R195. En neem jou Suid Afrikaanse ID-boek, of ‘n afskrif of ‘n foto daarvan saam sodat jy minder betaal. Hulle begin by die buitelandse fooi.

Adres: Draai af vanaf die M4 net sodra jy deur Simonstad se verkeer is. Die uitdraaiborde is duidelik.

Tye:

  • Desember en Januarie is hulle vanaf 07:00 tot 19:30 oop.
  • Die ander maande is hulle vanaf 08:00 oop. Die sluitingstye wissel en jy kan gerus op SANParke se webwerf kyk vir die sluitingstye. Hulle sluit nooit voor 17:00 nie.

As jy klaar is met jou selfies by die pikkewyne druk die neus van jou toermotor in die rigting van Kaap die Goeie Hoop Natuurreservaat wat seker so 30 km verder is en gaan kyk na die mees suid-westelike punt van Afrika. Nie die mees suidelike punt nie, dit is by Kaap Aghulas. Maar Kaappunt is ‘n kyk werd. Terwyl jy nou daar is, kan jy na die ligtoring toe stap of as die voete nie meer wil nie, gebruik die funicular om jou en die familie bo te kry. Die uitsig is skouspelagtig en beslis ‘n foto of twee werd. As daar so effens van onweerswolke in die omgewing is dan kan jy die kinders vermaak met die legend van die Vlieënde Hollander wat na bewering so gesukkel het om om die Kaap te vaar dat hy en die Duiwel toe effe van ‘n misverstand gehad het.

Kaap die Goeie Hoop is ‘n goeie wegbreek vir buitelug-entoesiaste en bied stap-, hengel-, piekniek-, strand- en fietsrygeleenthede teen die skouspelagtige agtergrond van die berge en kuslyn van die Kaapse Skiereiland. Maak net seker watter van jou beplande aktiwiteite vereis permitte.

Sommige Sondae is daar gratis begeleide staptogte wat aangebied word.

Swem word egter nie toegelaat nie as gevolg van die sterk skeurstrome en daar is geen lewensredders aan diens by enige van die strande by Kaappunt nie.

As jy nou na al die gestappery teen die bult op lus is vir knaaggoed of stofvergadertjies wil koop is daar ‘n restaurant en ‘n winkeltjie.

3 Redes hoekom jy Kaap die Goeie Hoop Natuurreservaat wil besoek:

  • Jy gaan tog ter wille van vrede die duisende toeriste trotseer om ‘n foto voor die bord te neem wat die mees suid-westelike punt van Afrika aandui.
  • Julle het dalk al met ‘n veerboot ‘n rivier in Suid Afrika gekruis maar nog nie met ‘n funicular, heel gepas gedoop “The flying Dutchman” teen ‘n koppie uitgery na ‘n ligtoring nie.
  • Jy wil daar bo staan en vir jouself mymer dat die klein skippies van die Hollanders en Portuguese darem klein moes gelyk teen die magtige see en storms om die Punt.

Toegang: R100 vir volwassenes en R400 vir buitelanders. En bring jou ID-boekie, ‘n afskrif daarvan of ‘n foto daarvan saam, anders gaan jy R400 betaal. Geen genade nie.

Adres: Cape of Good Hope Rylaan, Kaapstad. Ry net op die M4 uit as jy klaar die pikkewyne besoek het. Aanwysings is duidelik.

Tye:

  • April tot September vanaf 07:00 tot 17:00
  • Ander maande vanaf 06:00 tot 18:00.