DIE St. JOHN EVANGELIST ANGLIKAANSE KERK, ANKER VAN HOOP EN GELOOF IN DIE WINTERBERG

My Albanie Karmino toer neem my na interessante bestemmings diep in die Winterbergreeks waar ek vergange forte uit die tydperk van die Oos-Kaapse grensoorloë en natuurreservate besoek. Dié toer het ‘n interessante kinkel met ‘n onbeplande 4X4 rit oor die skilderagtige Katbergpas en die De Waalskloofpas in die omgewing van die Katberg- en Amathole-berge. Ek het nie geweet wat alles op hierdie roete te siene is nie en groot was my verbasing om die St. John the Evangelist Anglikaanse Kerk in die skilderagtige Post Retief-omgewing in die hartjie van die Winterberge naby Adelaide en Fort Beaufort te ontdek. Hierdie klein witgeverfde Anglikaanse kerk, is ‘n historiese baken wat die hoeksteen van geloof vir die plaaslike boeregemeenskap en soldate wat die gebied tydens die Grensoorloë teen vyandelike aanvalle van die inheemse volke beskerm het. Die kerk en sy omliggende strukture is diep verweef met die vroeë 19de-eeuse Britse setlaarsgeskiedenis, die grensoorloë en die ontwikkeling van afgeleë boerderygemeenskappe in die streek. Die St. John the Evangelist Anglikaanse Kerk is nie net ‘n kerk wat statig op ‘n gedeelte van die grond staan wat deur die 1820 Britse Setlaar, James Moorcroft, en sy skoonseun John Edwards, van die plase “FrischGewaagd” en “Goedgenoeg”, aan die Anglikaanse Bisdom geskenk het nie, maar is vandag ook ‘n nasionale monument.  Voorbereidings werk vir die bou van die kerk het in 1843 begin, maar bouwerk is tydens die 7de en 8ste Grensoorlog ontwrig. Die hoeksteen is op 25 Feruarie 1858 gelê en die kerk is op 1 November 1858 deur  die tweede biskop van Grahamstad, Henry Cotterill, ingewy. ‘n Pastorie is kort daarna  gebou. Die eerste inwonende predikant, was eerwaarde Joseph Wilson (1848-1858). Voor die bou van die kerk, is eredienste by die offisierskwartiere van die Post Retief barrake gehou. Die laaste inwonende predikant was eerwaarde Stumbles wie dienste tot en met 1933 gehou. ‘n Brand het die kerk beskadig en dienste is gestaak. Die kerk is herbou en, word gereeld deur verskillende demoninasies gebruik. Die hou van dienste geskied onder die toesig van die Anglikaanse kerk. Die huis wat as ‘n skool gedien het, is in 1846 deur John Boon voltooi. Die skool was nog tot in 1977 ingebruik en is ook later tot ‘n nasionale monument verklaar. Die inwonende predikant was eerwaarde Martin wie ook die onderwyser hier vir 28 jaar was (1890-1918).

Die Post Retief begrafplaas is op voorhange van die berg, aan die bokant van die kerk geleë. Volgens die kerkregister is hier sowat 250 grafte asook ‘n aantal ongemerkte grafte. Die argitektuur en houtwerk van die St John the Evangelist Anglkikaanse Kerk weerspieël die klassieke Britse invloed van die 19de eeu en is aangepas vir die strawwe Oos-Kaapse grensomgewing. Dit volg die Neo-Gotiese boustyl wat deur biskop Robert Gray en sy vrou, Sophy Gray, in Suid-Afrika gewild gemaak het.

‘n Toneel van die skilderagtige Winterberg-reeks

Die skilderagtige Winterberg-reeks is een van daardie minder bekende dele van ons land wat nie sommer besoek word nie. Vir diegene wat graag ‘n nuwe reisavontuur wil ervaar, is hierdie omgewing net die plek om te verken. Die ruwwe Winterberg-reeks met sy ongerepte wildernis natuurskoon, is nie net vandag die tuiste van ‘n klein boerderygemeenskap, maar is ook die rusplek van honderde slagoffers wat met hul lewens geboet het tydens die Grensloorloë. Post Retief is ‘n historiese militêre vestingplaas net noord van Adelaide in die Amathole-distrikmunisipaliteit. Dit is in 1836 gebou en vernoem na die bekende Voortrekkerleier, Piet Retief, wat sy plaas in die gebied gehad het voordat hy aan die Groot Trek deelgeneem het. Die terrein huisves vandag die Post Retief-kaserne, een van die besbewaarde Oos-Kaapse grensoorlogvestings. Die klipgeboue is ontwerp deur die Royal Engineers om boere teen Xhosa-strooptogte te beskem. Die struktuur is in die afgeleë Winterberg-reeks en sluit offierskwartiere en stalle vir perde in. Die plaas en oorblyfsels dien as ‘n nasionale gedenkwaardigheid en is die mees noordelike fort in die histoiese verdedigingslinie wat nà die Sesde Grensoorlog opgerig is.

Oorblyfsels van die Voortrekkerleier, Piet Retief se woning
Post Retief militêrevesting

Hoe hom hier te kom:

Die R344 grondpad wat vanaf Adelaide (Oos-Kaap) noordwaarts deur die Winterberge na Post Retief lei, sal jou to by die kerk bring. Hierdie roete neem jou verby die Mankazanarivier en die Fort Fordyce-natuurreservaat. Wees daarop bedag dat die R344 hiervandaan ‘n uitdagende gruispad is wat oor die Devil’s Bellows-pas en die Katberg-plato loop en ‘n voertuig met goeie grondvryhoogte (verkieslik ‘n 4×4) word sterk aanbeveel.

Bronne:

My besoek aan die kerk en toer ervaring in die omgewing.

http://samilitaryhistory.org/jnl2/vol186rt.html

Leave a Comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.