Die Albanie Karmino toerpad kronkel langs die Baviaansrivier, diep in die Baviaansriviervallei-bewaringsgebied. Na sowat 30 kilometer noord van Bedford, op die grondpad na Tarkastad, verwelkom die Thomas Pringle Gedenkkerk of amptelik bekend as die 1820 Skotse Setlaar Gedenkkerk, die reisiger met ‘n gevoel van hartlikheid, en ‘n salige rustigheid. Hierdie is nie sommer net ‘n koue klip struktuur nie. Die kerkgebou wat hier staan is ‘n “”lewende” monument, wat die ongelooflike verhaal vertel van ‘n groep Skotse burgers, wat hul vaderland in die 19de eeu verlaat het om na Suid-Afrika te emigreer. Die emigrasie projek was deel van die Britse regering en Kaapse Koloniale regering se plan om setlaars op onbewoonde grondgebied in die Oos-Kaap te vestig. Tussen 300 en 400 Skotse setlaars het hulle in die Oos Kaap kom vestig. Onder hulle was predikante, boere en skrynwerkers en bouers. ‘n Groep van sowat 24 Skotte onderleiding van die ikoniese joernalis/skrywer/digter, Thomas Pringle, het hulle hier in die Baviaansriviervallei gevestig.


Pringle het baanbrekerswerk in die Kaapkolonie verrig toe hy twee publikasies, die eerstes in die kolonie, gedruk het. Sy uitgesprokenheid en kritiek teenoor die regering het mettertyd aanleiding gegee tot die sluiting van die publikasies. As blyk van waardering vir die werk wat Pringle en die Skotse groep verrig het, het die plaaslike boere-gemeenskap asook verskeie ander belanghebbendes uit die omgewing in 1958 ‘n kerk gebou. Die kerk moes dien as ‘n gedenkteken vir die bydrae wat die Skotse Selaarsparty van 1820 tot die ontwikkeling van die Oos-Kaap en land sou doen. Thomas Pringle en sy familie het op die plaas Eildon gewoon waar die kerk vandag staan. Hy is ook later hier her begrawe.


Hierdie Presbiteriaanse kerk wat geanker is in die historiese tradisionele Skotse Hervorming, het ‘n unieke boustyl wat eie aan die omgewing is, en word beskou as ‘n beskeie, inheemse landelike Karoo-boustyl. Die kerk is gebou uit die kenmerkende Oos-Kaapse sandsteen en die onopgesmukte estetieka daarvan, het ten doel om in harmonie en eenvoud by die ruwwe Oos-Kaapse landskap in te pas.

Bekende plase in die omgewing wat vandag nog deur Pringle nasate bewoon word, is Huntly Glen, Eildon, Fair Holt en Lynedoch.


Die plase bied besoekers die volgende:
Op die plaas Glen Huntly, ‘n 5de generasie Pringle plaas, kan besoekers die grootste privaat versameling inheemse skoenlapers, motte en voëleiers op afspraak besigtig. Eildon is ‘n 7de generasie Pringle plaas, en welbekend vir sy pragtige roostuin en geskiedkundige woonhuis. Fair Holt is weer bekend vir die slim metode wat gebruik word om water in die inheemse tuin, en by die Franse panaroasa rose, te bespaar. Lynedoch is die tuiste van ‘n besonderse Sir Herbert Baker woning met ‘n ryk geskiedenis. Tydens die jaarlikse Bedford Country Garden fees, stel van bogenoemde plase hul tuine aan die publiek oop om te besigtig. Glo, my, dit is die moeite werd om ‘n daguitstappie daarheen te onderneem. Hier kan jy rustig deur die pragtige tuine wandel en boonop ook ‘n koppie boeretroos of tee geniet met ‘n soetigheid daarby.
Hoe om by die kerk te kom.
Om by die kerk uit te kom, is werklik ‘n reisavontuur en beslis ‘n besoek werd. Die Baviaansrivier-wildernisgebied is geleë in ‘n pragtige omgewing en die pad wat al langs die Baviaansrivier loop, skep eweneens ‘n rustige en klam atmosfeer. Wanneer jy in Bedford is, neem, die R63 afdraaipad wat aansluiting vind by die N10 na Cradock. Sowat 10km buite Bedford, draai af op die pad na Tarkastad vir die volgende sowat 40 kilometer. Die kerk is aan die linkerkant van die pad geleë. Neem kennis, jy is nou in ‘n beskermde bewaringsgebied. Gehoorsaam asseblief die nodige reëls soos aangedui wanneer jy die area binnery.
Bronne:
My eie reiservaring na die kerk en plase.
https://en.wikipedia.org/wiki/Thomas_Pringle
