KARIEGA BAPTISTE KERK. ‘N VOORBEELD VAN DEURSETTINGSVERMOË

Barcelona het sy Sagrada Familia waaraan hulle vanaf 1852 al bou en hopelik, miskien, dalk, teen 2026 sal voltooi. In Suid Afrika so tussen Port Alfred en Grahamstad (Makhanda) met ‘n uitdraai vanaf die Southwell pad staan die Kariega Baptiste Kerk wat ook onthou word vir die 18 jaar wat dit geneem het om die klein kerkie gebou te kry.

Die Britse Setlaars wat in die omgewing van die kerkie gevestig het, het in 1834 die hoeksteen vir die kerkie gelê en en deel van ‘n muur gebou toe verskeie grensoorloë die bouwerk vir sowat 18 jaar gestop het en die troffels geruil is vir wapens om hulself te verdedig.  Uiteindelik, in 1852, is gewere neergelê en troffels opgeneem onder leiding van Eerw. Hay en die nederige kerkie met ‘n moddervloer en grasdak is in Desember 1854 voltooi. As dit teen die vorige datum, 1834, voltooi was, sou dit die oudste gevestigde kerkgebou in die Baptiste Unie van Suid-Afrika gewees het.

Die gewildheid van die kerk het gegroei, gemeentelede het toegeneem en teen 1865 moes die kerk vergroot word. In 1858 het Ralph Turner grond op die plaas Vaalvlei langs die kerk gekoop en ‘n kamer daarop gebou. Hy het skielik weggegaan, maar die kerk toegelaat om hierdie kamer te gebruik. Dit is as ‘n eetkamer en vir die hou van Bybelklasse gebruik. In 1904 is wettige titel aan die kerk toegeken deur middel van voorskriftelike reg, aangesien hulle die belasting vir 40 jaar betaal het, en die kamer is vergroot om ‘n gemeenskapsentrum met ‘n tennisbaan te vorm. In 1902 het die lidmaatskap op 55 gestaan, met baie Amos-, Bowles- en Webber-name. ‘n Pastorie, met ‘n groot skoolkamer, is omstreeks 1884 opgerig op grond wat deur Daniel Webber, seun van Charles Webber, geskenk is, en Eerw. Kelly het die eerste inwonende predikant en skoolmeester geword. Dit was egter redelik kortstondig en vanaf 1918 het Kariega nie meer sy eie inwonende predikant gehad nie. Van 1902 tot 1960 het die Amos-, Webber- en Bowles-bevolking van 40 tot 6 afgeneem. Die kerk is bedien deur Port Alfred- en Grahamstad-predikante tot 1981, toe die deure vir 14 jaar gesluit is. Gedurende hierdie tyd is die kerkterrein getrou onderhou, maar die gemeenskapsentrum en tennisbaan is verwaarloos en uiteindelik gesloop.

Vandag bly slegs die ruïnes van die pastorie oor. Omstreeks 1994 is ‘n Baptiste-genootskap in Grahamstad gestig op aandrang van Edwin en Olive Dickason, met Brian Still van Grahamstad wat ‘n maandelikse diens gelei het. Die kerk is in 1977 tot ‘n nasionale monument verklaar en die laaste afstammeling van die Kariega-setlaars het in 2002 vertrek. Vandag word die kerk slegs vir spesiale dienste, soos troues en begrafnisse, gebruik.

3 Redes hoekom jy die kerk wil besoek:

  • Dit is nie aldag dat jy ‘n selfie kan neem voor so ‘n klein kerkie wat oor ‘n tydperk van 18 jaar gebou is nie.
  • Jy gaan op Google kyk en besluit jy kan met jou toerwa eerder die rowwer grondpad vanaf Kenton-on-Sea se kant af ry, want jy wil so bietjie slote ry met die wa.
  • Dit is die tweede oudste Baptiste kerk in Suid Afrika.

Werd om te weet:

Toegang tot die terrein is gratis. Die kerkie sal nie oop wees nie. Die beste is maar om of jou GPS of Google te vra om jou te verduidelik, veral vanaf Kenton-on-Sea se kant af. Hier is Google se aanwysings: https://maps.app.goo.gl/mEdsM335tN9Hjbpq5