Wanneer die drenteltoer of die Engelse roadtrip tussen Oos Londen en Port Elizabeth te lank begin raak, is daar ‘n hutspot van kultuur en geskiedenis so in die middel van die twee stede – Port Alfred. Natuurlik kan jy daar stop om bene te rek en iets by ‘n Steers of Wimpy te eet, maar as jy ernstig is met jou drenteltoer en meer wil weet van die Britse Setlaars, die grensoorloë, die vroeëre geskiedenis van die Xhosa en selfs die Blauwkraanzbrug treinramp, dan is die Kowie museum in Port Alfred se ou stasiegebou die antwoord.



Binne-in die netjiese museum wat net deur vrywilligers bedryf word, kan jy in sowat 45 minute die geskiedenis van dié deel van Suid Afrika leer ken. Jy kan leer van die skeepsrampe langs die verraderlike kuslyn, die aankoms van die eerste setlaars, waar hulle plase geleë was en hoekom Port Alfred se naam verander het jare terug. Verkyk jou aan die toerusting wat al die pad van die Britse Koninkryk per see vervoer is, die ontberings van die Setlaars om weer te kom nesskrop so ver van hulle families af. Kyk na die kombuistoerusting wat saamgekom het, die tas van die mediese dokter en lees van die hartseer verhaal van die Dugmore broers.



‘n Model van die Blaaukranzbrug-treinramp vertel die geskiedenis van hierdie ramp op 22 April 1911 waarin amper 30 mense dood is.
Die laaste permanente uitstalling vertel die verhaal en geskiedenis van die Xhosas en die bydrae van die Oos-Kaap se mense tot die struggle.
Daar is talle publikasies te koop wat meer inligting kan gee as besoekers regtig belangstel.
As jy klaar is met die museum, gaan eet iets by die “Old Wharf” gedeelte waar daar verskeie restaurante is.
Van hier af is dit nog net so 140km na Port Elizabeth toe en die pad is meestal enkelbaan. So rus hier, want jou volgende ordentlike stop gaan eers by die Nanaga padstal wees as jy regtig haastig is om in PE uit te kom. Andersins kan jy by die bakkery op Kenton-on-Sea stop vir regte brood en kaas, en sommer ‘n varsgebakte doughnut op die koop toe.



‘N BEKNOPTE GESKIEDENIS.
Die skepping van ‘n Kowie-museum in Port Alfred is die eerste keer deur Ted Morse Jones in die vooruitsig gestel en was ingesluit as ‘n doelwit tydens die stigting van die Lower Albany Historical Society, in Julie 1958.
Van toe af het lede begin om materiaal vir ‘n museum in te samel en in die laat 1970’s is die Kowie Museum-subkomitee gevorm.
In Desember 1982 is die eerste uitstalling gehou in die eerste tuiste van die museum. Toe die gebou verkoop is het die museum in Oktober 2012 na sy huidige uitstalruimte in die ou stasiegebou getrek.



3 REDES HOEKOM JY BY DIE KOWIE-MUSEUM MOET STOP.
- Dit is klein genoeg dat jy ‘n goeie bene-rek sessie kan hê terwyl jy iets leer van die omgewing.
- Die museum sal jou wys hoe belangrik die streek vir die wol-ekonomie was.
- Dit word deur vrywilligers bedryf wat dit as ‘n liefdestaak doen en nie betaal word nie.



Adres: Ou Stasiegebou, Stasieweg, Port Alfred, net so skuins langs die polisiekantoor
Openingstye: Die museum is net Donderdag tot Saterdag oop tussen 09:00 en 12:30. Onthou hulle is vrywilligers en ons hier in Port Alfred gaan loop in die middag langs die see.
Webadres: https://www.kowiemuseum.co.za/