DIE IGUAZU WATERVALLE: ‘N SKOUSPELAGTIGE SIMFONIE VAN BRUISENDE WATER IN KLANK, GEUR EN KLEUR

In my omswerwinge het ek die geleentheid gehad om verskeie watervalle te kon besoek. Op my lysie was die Epupa-waterval, Ruacanna-waterval en die Popa-watervalle in Namibië. Die Victoria-waterval in Zimbabwe. Die Augrabies-waterval en Tugela-waterval in Suid-Afrika, en natuurlik ook die Maletsunyane-waterval in Lesotho. Elkeen uniek met sy eie mooi. Dog, is nie een van hierdie watervalle vergelykbaar met die Iguazu-watervalle in Suid-Amerika nie. Stomgeslaan ten aanskouing van hoe dermiljoene liter water oor die ruwwe rotsagtige raveine en kaskades van hierdie halfsirkelvormige waterval op ‘n hoogte van 80-meter na benede stort, ontbreek dit aan woorde om hierdie natuurwonder te beskryf.

Ek staar in die verte en vergaap my aan die grootste gebroke watervalstelsel ter wêreld. Die stadig vloeiende helder water wat kalm en geruisloos die riviere en strome afvloei, verander in ‘n oogwink in ‘n geokestreerde gedruis wanneer dje borrelende skuimagtige water oor rotswande vir meters ver die donker dieptes na benede stort. Die omliggende groenkleurige reënwoud in die agtergrond en die kristal helder water skep ‘n skilderagtige prentjie. Té groot om in woorde te beskryf kon ek tydens by besoek net in stilte hierdie natuurverskynsel bewonder. ‘n Mens kan baie oor die valle sê of skryf nie, maar dit is fotos wat die storie in beeld vasvang. Die fotos wat hier geplaas is, is ‘n spieëlbeeld van my persoonlike ervaring. Om konteks aan my besoek te gee, lig ek enkele feite en waarnemings uit. As jy meer oor die valle wil weet, besoek gerus die bronne wat ek aan die einde van die storie geplaas het. Daar is veel meer bronne op die internet beskikbaar.

Vir eers net ‘n bietjie agtergrond. Die Iguazu-watervalle is geleë in ‘n subtropiese reënwoud en bestaan uit twee nasionale parke wat gesamentlik sowat 252 982 hektaar beslaan.  Die Foz de Iguazu is in Brasilië geleë en die Puerto Iguazu in Argentinië. Die parke is in 1984 as UNESCO Wêrelderfnisgebiede verklaar en is die tuiste vir sowat 400 voëlspesies. Sowat 2 000 plantspesies, insluitend 80 boomspesies word in die park aangetref.   Die diereryk is eweneens iets besonders met spesies soos tapirs, reuse-miervreters, brulape, oselotte, jaguars, wildekatspesies en kaaimanne wat algemeen voorkom.

Ondanks die watervalle se Wêrelderfenis status, het nog ‘n eer die valle te beurt geval toe dit as een van die jongste natuur wonders van die wêreld aangewys is.  Die valle begrens die provinsie van Misones in Argentinië en staat van Paranà in Brasilë. Verstommend om te glo, is die feit dat die Iguazu-watervalle, groter is as die Niagra-waterval in Kanada, en breër as die Victoria-waterval in Zimbabwe.

Elkeen van die 275 losstaande valle wat oor ‘n breedte van 2.7km strek, is prentjie mooi. ‘n Mens kan nie anders as om klein en nederig te voel nie. Die volume water wat oor die valle stort, wissel na gelang van die seisoene. Ons toerleier noem dat sowat 1.5 miljoen liter water per sekonde die betrokke dag van ons besoek oor die valle gestort het. In die reënseisoen styg die watervlak van die riviere, en kan tot 8 miljoen liter water per sekonde oor die valle stort. Indrukwekkende syfers en moeilik vir die menslike brein om te verwerk. Die Iguazu-rivier ontspring naby die stad Curitiba en vloei in die San Antonio-rivier om die grens tussen Argentinië en Brasilië te vorm. Saam vorm die twee riviere hierdie indrukwekkende watervalstelsel.

Besoekers het die keuse om die twee verskillende kante (Brasilië of Argentinië) van die valle te besigtig. Die Brasiliaanse kant het uitkykpunte oor die hele waterval. Aan die Argentynse kant kan jy deur die oerwoud stap en op platforms oor die waterval loop om van naderby te kom.

Op ‘n georganiseerde toer is ‘n mens gebind aan dit wat die toerprogram jou bied. Alles is vooraf gereël en betaal. Jy gaan maar net saam en geniet alles. Wanneer jy egter op jou eie toer, is jy nie aan iemand gebind nie. Tyd is dan ook nie ‘n faktor nie, maar jy moet self-sien kom klaar met verblyf en reisreëlings. Ons toergroep vlieg vanaf Buenos Aires en kom laat die aand in die dorpie Iguazu aan. Hier het ons plaaslike toergids ons ingewag om ons na ons hotel aan die Brasiliaanse kan te vergesel. Na ‘n goeie nagrus en ontbyt vertrek die toergroep per bus vir ‘n uitgebreide besoek aan die Argentynse kant. Hier stap ons deur die tropiese reënwoud op twee van die goed uitgelegde wandelroetes.

Ons het met ‘n klein dieseltreintjie vanaf die Gargantua-stasie na die Duiwel de Keel vertrek. Kenners sal jou gou vertel dat dit die “cool” kant van die valle is.  Maar wat is nou sò “cool” aan hierdie kant? Wel, om mee te begin. Nagenoeg 80 persent van die valle is aan hierdie kant sigbaar. Om hierdie massa water te sien die dieptes afrommel, is ‘n meesleurende ervaring. Gevul met ‘n emosie van vergenoegdoening en adranalien wat deur jou are pomp, kan ‘n mens nie anders as om ‘n stil gebed op te skiet nie om jou dankbaar teenoor die Skepper te betoon.

Om “Die Duiwel se Keel”/Devil’s Throat” (Garganta de Diablo) van nader te sien, is ‘n gesig wat vir ewig in jou geheue vasgepen is. Om tot by die punt te kom waar die bruisende water oor die valle op ‘n hoogte van 82-meter na benede stort, is beslis nie vir iemand wat aan hoogtevrees ly nie, of bang is om deurdrenk nat te word nie. Sopnat gaan jy beslis word want die sproei van die valle is intens.  Dit watersproei sorg vir ‘n skouspel en skiet ‘n hoogte van tot 30-meter die lug in. Talle reënboë kleur die hemelruim in om ‘n prentjiemooi toneel te skep. Om tot hier te kom het jy by ‘n stasie afgeklim en op ‘n stewige staal wandelpad wat zig-zag oor groot dele van die rivier strek, geloop. Na net meer as ‘n kilometer se wandel, is jy by die uitkykpunt. Voor jou openbaar Die Duiwel se Keel hom in sy volle glorie. ‘n Water skoonheid en natuur verskynsel uit ‘n ander wêreld. Jy het ‘n ongelooflike mylpaal bereik deur tot hier te kon kom want nou het jy inderdaad die hoogtepunt van jou besoek aan die magtige Iguazu-watervalle bereik.

Die Iguazu Nasionale Park aan die Argentynse kant het benewens Die Duiwel se Keel nog vyf ander roetes wat die besoeker kan ervaar naamlik Die Voortreflike Kringloop, Die Onderste Kring, Die Macucu-roete, Die Reënwoud Ekologie Trein en Die Groen Roete.

Die volgende dag was die Brasiliaanse kant aan die beurt. Hier kom die meeste van die riviervolume voor, maar nie soveel van die losstaande watervalle nie. Dit was baie makliker om die watervalle in hul geheel van hierdie kant af te besigtig omdat jy ‘n baie wyer uitsig gekry het. Die wandelpaaie bring jou tot naby aan die vele afsonderlike valle waar jy ure kan vertoef om die spektakel te bewonder en fotos te neem. Maak net seker jy het gemaklike stapskoene aan. ‘n Sambreel of ‘n reënjas is te aanbevele as jy nie wil nat word nie.

Die Brasilië kant ontbloot sy vele gesigte met ‘n panoramiese uitsig oor die lengte en breedte van die valle. ‘n Mens kan hier vir ure rond dwaal en die omgewing in al sy mooi geniet.

Jy kan natuurlik ook die valle uit die lug tydens ‘n kort helikoptervlug ervaar. En dan natuurlik, is daar vir die avonturiërs en waaghalsiges, wat ‘n adrenalien oomblik wil ervaar, ‘n bootrit wat jou feitlik tot onderaan die valle neem. Bang is ek nie, maar betààl, betaal ek beslis nie om nat te word nie…. hahahahaahaa! Met die besoek aan die valle afgehandel is dit terug lugawe toe.

Die volgende bestemming – Rio de Janeiro.

Wenke:

  • Moenie jou paspoort vergeet nie. Jy het dit nodig wanneer jy die een land vir die ander verlaat of binnekom.
  • Maak seker jy het gemaklike stapskoene.
  • Sorg dat jy genoeg drink goed byderhand het of ook ‘n peusel dingetjie.
  • ‘n Reënjas of sambreel sal help om jou droog te hou.
  • Bring ekstra klere saam  om aan te trek nadat jy deurdrenk nat afgeklim het na jou adrenalien gedrewe bootrit ervaring.
  • Om teleurstellings te vermy koop jou kaartjies vir die helikopter rit of die bootrit voor die tyd aanlyn.
  • Net ‘n ligte waarskuwing. Maak seker dat jou bagasie wat in inweeg nie op binnelandse vlugte in Argentinië, nie 15kg oorskry nie. Ek het $30 skoolgeld betaal omdat die twee tasse, myne en wederhelfte, elk sowat 18kg geweeg het.

Skakels en Bronne:

https://en.wikipedia.org/wiki/Iguazu_Falls

https://whc.unesco.org/en/list/303

The Rough Guide to South America on a Budget. Publikasie 2024. Sesde Uitgawe.

Leave a Comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.