‘N REISAVONTUUR DEUR SUID-AMERIKA – AKA TANGO EN SAMBA

Vasgenael sit ek voor die rekenaar. Met rollende uitpeul-oë verken ek angstig ‘n wavrag reiswebblaaie, soekend na ‘n interessante reisavontuur. Nie dat toer nou juis op my reis horison was nie, En dan, karklaps, net daar, vang my oog die regte een – “Tango deur Suid-Amerika Maart 2026”.  Met ‘n onblusbare aptyt om die anderste, of selfs die minder bekende of gewilde toeristebestemmings te besoek, word my belangstelling onmiddelik geprikkel. Ek bestudeer en ontleed hierdie reisagent se toer aandagtig. Suid-Amerika was nie juis op my reisradar nie, maar wat wou. Nét daar en dan hou ek en wederhelfte van bykans ‘n halwe eeu, kajuitraad. Die sommasjien word nader getrek. Ons bekyk, en herkou die program en reisdatum uit alle hoeke. Eureka! Ons bereik konsensus, ons wil nie hierdie interessante toer misloop nie. Selfoongesprekke volg. Whatsapp boodskappe en e-posse vlieg heen en weer. Betalings word gedoen, die nodige dokumente word ingevul en versend, en siedaar, Suid-Amerika word geboks. “Nie sò gou nie!”, kom dit van my geesgenoot. “Eers moet ons ‘n geelkoorsinspuiting kry soos wat dit internasionaal vereis word wanneer ‘n mens Suid-Amerika wil besoek”. Gelukkig stel ons plaaslike huisdokter ons gerus. Volgens haar hoef diegene bo die ouderdom van 65 jaar nie die inspuiting te kry nie, maar dit word nogtans vereis dat ‘n reiskliniek jou met ‘n vrywaringssertifikaat uitreik. So gesê so gedaan vat ons die pad na die reiskliniek in Oos-London. Met die sertifikaat in die hand, bly daar nog een laaste takie oor om af te handel – ons moet Dollars kry. Met dit ook afgehandel, word die tasse afgehaal, klere en skoene vir alle weersomstandighede word gepak en sela, ons is reg vir die groot vertrek. En wat ‘n reisservaring was dit nie! Vinnig begin, vinnig verby.  Verseker nog ‘n avontuur wat ons nog lank sal onthou.

Hoe sien hierdie toer daarna uit. Toerdatum – 15 tot 26 Maart 2026. Vertrek uit Johannesburg met Latam Lugredery na Saò Paulo. Vanaf Saò Paulo is dit na Buenos Aires. Tussenin maak ons ‘n draai in die historiese dorpie Colonia, in Uruguay. Terug in Buenos Aires vertrek ons na Iguassu om die indrukwekkkende Iguassu watervalle van nader te bekyk vanaf Argentinië en Brasilië kant met Paraguay ‘n katspoegie op die horison. Dan is dit weer tasse pak op pad na Rio de Janeiro om hierdie stad van samba te ervaar. En moenie van die sokker vergeet nie. Nes al die buurlande, is die Brasiliane ‘n sokkermal nasie. Nadat al die belangrikste besienswaardighedes afgemerk is, is dit terug Saò Paulo toe vir ons terugvlug Johannesburg toe.

Terug op eie bodem, vlugvoos, en bondels wasgoed wat wag, lang gras om te sny na die goeie reën tuis, is die reiservaring vas gepen in ons geheue. Wat ‘n toer was dit nie gewees.

Suid-Amerika, met sy 12 onafhanklike state en twee territoriale gebiede naamlik, Frans Guiana (Frankryk) en die Falkland Eilande (Brittanje), is straks nie op almal van ons se voorkeur reisbestemmings nie. Waarskynlik omdat sommige van die lande deur onstabiliteit gekenmerk word. Maar tog is lande soos Argentinië en Brasilië gesogte toeristebestemmings en betower die reisiger met wegslaan besienswaardighede en bied wêreldklas akkommodasie. Hierdie storie was net ‘n lusmaker. In die aflewerings wat volg, vertel ek meer oor die interessanthede wat op hierdie toer ervaar is.

Enkele reis gedagtes:

  • Die lughawens hier is nogal intimiderend groot en besig. ‘n Mens kan gou verlore voel. Oriënteer jouself tuis deur navorsing oor die lughawens te doen. YouTube is ‘n goeie bron om te raadpleeg.
  • Soos met enige ander land, moet ‘n mens maar bewus wees van die vinnige veranderde weerpatrone. In ‘n land soos Brasilië wat in die subtrope geleë is, wissel die weerstoestande letterlik van dag tot dag.
  • Dit is beslis voordelig om stapfiks te wees, en juis te meer as ‘n mens in die gevorderde jare is. Om interessanthede en besienswaardighede te wil sien en te ervaar, beteken dit jy moet stap en byhou. Hiervoor moet ‘n mens ook gemaklike klere en stapskoene aan hê.
  • Kyk uit vir mekaar. Ai, almal is nie ewe oud nie en sommige raak gou verlore, agter, moeg, kwaad, moedeloos, ongeduldig noem maar op. Die medisyne hiervoor is om maters te maak en vriensdskapsbande te smeë. Vat mekaar maar aan die hand en help waar jy kan.
  • Hoe ligter jou reistas, hoe geriefliker toer jy. Neem kennis. Gedink jy word toelaat om ‘n tas met ‘n gewig van 20 of 23kg in die ekonomiese klas en veel meer in besigheids- of eersteklas te hê? O nee, wees gewaarsku, in sommige van hierdie lande wanneer jy binnelands rond vlieg, is die toelaatbare gewig vir jou tas sommer baie minder met ‘n toelaatbare gewig van 15kg. Die uwe se tasse was net onder die 20kg elk en hiervoor moes ek ‘n boete van $30 vir die 2 tasse betaal.
  • Sorg dat jy jou voorgeskrewe medikasies byderhand het met die nodige geskrewe voorskrifte van jou dokter.
  • Hou altyd ‘n wakende ogie oor jou besittings. (sommige toerlede het stelle afgetrap. Binne ‘n oogwink was van hul kosbare items/handbagasie weg. Gelukkig met kameras wat oral ‘n wakened ogie hou, en eerlike toeriste onder al die derduisende wat elkeen in sy eie rigting inslaan, kon die verlore goedere teruggekry word).
  • Leer gerus ‘n paar Portugese en Spaanse woorde en frases aan. Engels word hier min gepraat. En as jy jou in die vertreksaal bevind en net wanneer jy jou tasse wil inweeg en hoor jou vlug is gekanselleer, skrik jy jou in ‘n ander bloedgroep. Op jou beste Engels probeer jy uitvind waaroor die krisis gaan net om met ‘n emmer koue water getref te word dat die persoon oorkant jou geen word verstaan wat jy vra of wil weet nie. Al wat jy hoor is “Cancelled”. Vra jy “What”,”Why”, “What must I do?” Kom die antwoord met swaaiende hande, “No English”. En daar staan jy, spartel rond totdat jy na ‘n lang gesukkel by ‘n inligtingstoonbank aanland, jou lot beklae en vinnig planne maak hoe jy ‘n ander aansluitingsvlug na jou bestemming kan kry. Dit is hier waar ‘n toerleier sy staal moet wys om ‘n groep van meer as 30 moeë siele spreekwoordelik deur die woestyn te lei.
  • Dit is belangrik om met ‘n goeie tas te toer wat gemaklik kan trek of sleep.
  • Kry so gou as moonlik ‘n paar Peso en Real om noodsaaklik drink of ‘n eet dingetjie te koop. Die meeste internasionale lughawens het forex toonbanke.
  • Hou jou selfoon of kamera se battery altyd volgelaai want hier is ‘n magdom fotogeleenthede wat vasgevang moet word.
  • Hoe ironies is dit nou nie. Met al die massa water wat hier voorkom, kan jy nêrens water uit ‘n kraan tap om te drink nie. Niè eens in hotelle nie. Sorg dat jy te alle tye genoeg gekoopte water by jou het.
  • Moenie vergeet om vir ‘n paar minute of selfs ‘n uur of wat voor die talle ou geboue met hul indrukwekkende argitektuur stil te staan nie. Die Portugese invloed in die argitektuur in Brasilië is oral te siene, terwyl in Buenos Aires staan jy in verwondering om die Italiaanse invloed gade te slaan.