SÃO PAULO: VAN ‘N NEDERIGE GEHUGGIE TOT ’N MODERNE WÊRELDSTAD

‘n Tyd gelede kom ek op ‘n baie interessante artikel in ‘n Turkse dagblad af. Die artikel handel oor ‘n uitstalling in Istanbul wat die eeu oue reiservarings van die toentertydse Ottomanreisigers uitbeeld. Wat my met die lees van die artikel getref het, was die benadering wat hulle volg deur die gebruik van die konsep “framing”, om hul reiservarings te vertel. Die reisgers se benadering was om reis nie net as ‘n fisiese aktiwiteit nie, maar ook as ‘n bewuste daad van waarneming, keuse en rapportering te beskou. In hierdie proses is die reisigers aangespoor deur nuuskierigheid, godsdiensgedrewe gebeure en wat ook op slagvelde gebeur het. Die middeleeuse Ottoman reiservarings vergestalt op ‘n baie interessante wyse in wat bekend staan as die konsep “The Art of Travel”.

As ek gevra sou word wat my beweegrede vir die besoek aan Suid-Amerika was, sal ek antwoord: “Nuuskierigheid”. Die andersheid van Suid-Amerika, die kultuur, natuurskoon en unieke besienswaardighede, was verseker my motivering vir die besoek.

Suid-Amerika is straks nie op almal van ons se besoek horison nie, maar tog is lande soos Argentinië en Brasilië baie gewilde toeristebestemmings. Nuuskierig, en vasgenael voor die rekenaarskerm, doen ek ‘n soektog na toere in Suid-Amerika. ‘n Interessante toer: “Tango deur Suid-Amerika” vang my oog, en nét daar, begin my twee weke lange toer saam met VanDyktoere, met ‘n eerste stop in São Paulo vir twee nagte. Eintlik was dit net ‘n oorstaan om aansluitingsvlugte na ander stede in Suid-Amerika te kry.

Om ln ‘n wêreldstad van hierdie grote te wandel en dan ook te dink jy gaan àl die top besienswaardighede in ‘n kort tydtjie te siene kry, is wensdenkery.  Vir die besoeker wat op sy of haar eie reis, is dit maklik om ‘n kortlys van voorkeur besoeke op te stel. Vir toeriste soos ek, wat op ‘n georganiseerde toer reis, is dit jou nie beskore nie. Jou halwe dag toerprogram is vooraf bepaal en jy moet maar net daarby inval. Ek het São Paulo met gemengde gevoelens verlaat. Oorweldig deur die omvang van die stad met sò baie om te sien, moes ek verlief neem met net enkele besoek hoogtepunte. Terleurgestel was ek glad nie. Daar was net eenvoudige baie ou geboue om jou aan te vergaap. En dan nie eers om van te praat van al die duisende wolkekrabbers wat oral teen die hemelruim uittroon nie. Die Italiaanse en Portugese invloed is duidelik in die argitektuur van geboue en katedrale waarneembaar. Die detail waarmee fasades afgerond is, spreek boekdele van vakmanskap.

Met sy ongelooflike ryk geskiedenis wat oor ‘n tydperk van meer as vyf eeue strek, het São Paulo van ‘n nederige gehuggie, in ‘n ultramoderne wêreldstad ontplof. Vandag word hierdie wêreldstad met sy meer as 12 miloen inwoners as die hoofstad van Suid-Amerika beskou. Binne die metropolitaanse gebied rondom “Groter São Paulo”, is die São Paulo Makrometropolis ontwikkel. Met sy meer as 30 miljoen inwoners, was dit die eerste metropolis in die Suidelike Halfrond en word vandag gereken as die vyfde grootste metropool in die wêreld. Die eerste inwoners was die Portugese Jesuïetepriesters wat hulle in 1554 op die oewer van die Tietê Rivier gevestig het. Die Jesuïete-Orde was ‘n godsdienstige orde van geestelikes met regulêre pouslike reg vir mans in die Katolieke Kerk. Gebeure soos onder andere kolonisasie, die ontdekking van goud, die florende koffiebedryf gepaardgaange met grootskaalse immigrasie, asook industrialisasie, sou São Paulo maak wat dit vandag is.  Brasilië was tot en met 1822 ‘n kolonie van Portugal.

Die middestad is die hart van Sao Paolo. Hier is nie net talle stalletjie met allerhande handwerke te kope nie, maar ook talle eetplekke

Sedert die 20ste eeu sou industralisasie ‘n keerpunt in die vooruitgang van Brasilië wees. Hierdie nywerheidsontploffing het van São Paulo ‘n kosmopolitiese smelkroes gemaak met die tuiste van die grootste Arabiese, Italiaanse en Japannese diasporas ter wêreld, met etniese woonbuurtes soos Bixiga, Bom Retiro en Liberdade wat ‘n beduidende stempel op die karakter van die stad afdruk. São Paulo is vandag nie net ‘n vooruitstrewende nywerheidstad wat veral in die vervaardigingsektor ‘n wêreldleier is nie, maar word ook as die finansiële hartland van Brasilië beskou. Voorts is daar nie ‘n tekort aan van die voorste skole en universiteite in Suid-Amerika nie. Die kunste en kultuur is sterk geanker in die hedendaagse samelewing, met talle feeste en kunsuitstallings wat besoekers van regoor die wêreld lok.

Die skakels hiernaas sal gewis jou belangstelling in São Paulo prikkel.

https://en.wikipedia.org/wiki/S%C3%A3o_Paulo

https://www.britannica.com/place/Sao-Paulo-Brazil

https://www.cntraveler.com/story/sao-paulo-eat-stay-play

https://en.wikipedia.org/wiki/S%C3%A3o_Paulo_(state)

https://en.wikivoyage.org/wiki/S%C3%A3o_Paulo

My lughawe ervaring

Nog taamlik uitgerus na die lang vlug met Latam Lugdiens uit Johannesburg, land ons op Guarulhas Internasionale Lughawe in São Paulo, alias “Sampa” soos die stad onder inwoners bekend staan. Dit is net na 20:00. Die lughawe is ‘n miernes van bedrywighede. Dit is net massa mense waar jy kyk, en vliegtuie wat kom en gaan. Dit is Sondagaand. Naweekgangers vlieg terug na hul onderskeie tuistes. Maar vir eers is dit toustaan tyd. Die elle lang toue by die doeane beweeg stadig. Mense om my lyk moeg en afgemat, ander is sigbaar gespanne. Hier en daar is darem ook gesigte wat glinster en ‘n gelaggie hier en daar. Dit is passpoort uit. Die beampte in die hokkie kyk uitdrukkingloos na my paspoort. Ek moet in die kamera kyk. Ons gluur mekaar versigtig  aan. Verlig met paspoort gestempel en in die hand, groet ek die beampte met ‘n vriendelike glimlag. Sy mond is effens skeef getrek. Ek wonder nou of hy nou eintlik vriendelik, moegof gatvol is, en net wag dat sy skof tot ‘n einde kom. Nou is dit sulke tyd. Sekuriteit toe. Dit is altyd ‘n senutergende ondervinding. Gestroop van privaatheid en identiteit, beweeg ek deur die x-straalhokkie. Die geskree pla en onstel my nie meer nie. Ek weet, maar hulle weet nie. Ek word eenkant toe gewink. Staan hier kom die opdrag. Strek die arms sywaarts uit vir deursoeking. ‘n Vreemde apparaat kom te voorskyn. Die toestel gly oor my lyf. Dan kom twee hande uit. Emosieloos en gestroop van my eer en trots, staan ek. Ek word betas en gevoel voel. Die manlike sekuriteitsbeampte is heel tevrede en wys met ‘n handgebaar – “Next”. Die rede vir die oponthoud en deursoeking, is die twee heup- en ‘n knievervanging. Wat verwag jy nou eintlik as die alarm ten hemele afgaan vir al die ysters in my lyf.  Hierna sou dit die prosedure by al die lughawens wees. Guarulhas Internasionale Lughawe staan algemeen onder plaaslike inwoners bekend as Cumbica-lughawe, vernoem na die distrik waarin dit geleë is.  As die grootste lughawe in Brasilië, bedien dié lughawe vlugte na alle uithoeke van die wêreld. Nou is dit bagasieband toe. Die groep van 37 toersiele vleg deur die massa mense en storm na die bagasieplatform. Dan is dit bus toe. Hier word ons hartlik deur ons plaaslike toergids welkom geheet. Die hotel is nie ver van die lughawe af nie. Daar aangekom is dit kamers toe vir ‘n welkome nagrus.

Ons stadtoer begin

Na ‘n goeie nagrus en ‘n heilsame ontbyt, is almal gereed om die stad vir die volgende sesuur per bus en per voet te verken. Dit neem ongeveer ‘n uur om tot in die middestad te kom. Tydens die rit van sowat 50km, vleg die toerbus deur die druk oggendverkeer.

Soos die bus deur die stadsverkeer vleg, vertel ons plaaslike toergids, Arthur, ons meer oor die stad. Ons eerste fotostop is by die spoorwegstasie. Weer terug in die bus ry ons deur verskeie stadsgebiede, een daarvan die Japanse gedeelte. Oral is graffitie op geboue en strukture langs strate sigbaar. Die bus hou stil vir ‘n fotostop. In die middestad wat bekend is vir omtrent al São Paulo se top besienswaardighede, kry ons geleentheid om die munispale katedraal, stadskouburg, hoërhof, en verskeie ander plekke van nader te besigtig.

Kort voor lank is dit weer die lang uittog terug hotel toe. In retrospek het ons nie veel van hierdie ernome groot stad met sy vele besienswaardighede gesien nie. Hoe anders. Die volgende dag was die uittog Buenons Aires toe.

Maar vir eers vertel ek julle kortliks iets oor die plekke en besienswaardighede wat ons tydens ons kort besoek van ses uur deur die ou middestad van São Paulo gesien het. Eerste op die sienlysie was die indrukkwekkende Luz-stasie.

Luz-stasie:

Luz-stasie is ‘n pendeltrein- en interstedelike spoorwegstasie in die Bom Retiro-distrik van São Paulo en aanvanklik gebou met die doel om as verbinding te dien met die hawe van Santos en die stad Jundial. Ons kon ongelukkig nie die stasiegebou van binne besigtig nie omdat die horlosie teen ons was. Ons kon darem tydens ‘n vlugtige stop ‘n paar fotos van buite neem. Dit is interessant om te weet dat die stasie onder andere die Museum van die Portugese Taal huisves.

Kliek gerus op die skakels hiernaas om meer oor hierdie mooi en interessante stasie te lees.

https://en.wikipedia.org/wiki/Luz_Station

https://artsandculture.google.com/story/120-years-of-luz-station-museu-da-lingua-portuguesa/RAURhHm2wnzb1g?hl=en

Klooster van Saint Benedict (In Portugese: Mosteiro de São Bento)

My beperkte kennis van kunsvorme, ontwerpe- en boustyle, laat my altyd met ‘n rooi gesig. Ek is ‘n totale leek wanneer dit kom om die eeu oue katerdale, kloosters, moskees, christen kerke of sinagoges in woorde te beskryf. Oorweldig deur die grootsheid van hierdie heilige plekke, gluur ek dit net in verwondering aan, en probeer dan fotos neem wat die storie vertel. In São Paulo met sy meer as twaalf katerdrale en kloosters wat wag om besoek te word, het ons die geleentheid om by twee van hulle in te loer. Dit is nogal interessant om nuuskierige en begeesterde toeriste dop te hou wanneer hulle hierdie heilige plekke binne gaan. Ieder en elk spat in sy of haar eie rigting in om fotos te neem.

Ek gebruik die geleentheid om in stilte, die nodige respek te betoon. Die Klooster van Saint Benedict waar ons besoek aflê, huisves meer as 54 priesters wie daagliks aktief besig is met kerk verwante sake. Nie net moet daar na die kerklike plige omgesien word nie, maar ook na die skool en klooster se filosofie fakulteit. Die klooster is in 1598 gestig en tussen 1910 en 1914 gebou. Die argitektoniese boustyl is geskoei op die Romaanse Herlewing wat in die middel van die 19de eeu gebruik is en geïnspireer is deur die 11de en 12de-eeue Romaanse argitektuur. Inteenstelling met die historiese Romaanse styl, was die Romaanse Herlewingsgeboue geneig om meer vereenvoudigde boë en venster te hê as hul historiese eweknieë. Die beeldhouwerk, loodkristalvensters, houtsneewerk en algemene konstruksie, spreek van professionele vakmanskap.

Raadpeeg gerus Google en laat die soektog jou lei na die verskeie kloosters en katedrale wat in São Paulo besigtig kan word. Jy het ten minste ‘n week nodig om al die kloosters en katedrale behoorlik te besoek. Die skakel hiernaas vertel jou meer oor hierdie besonderse klooster.

https://pt.wikipedia.org/wiki/Mosteiro_de_S%C3%A3o_Bento_(S%C3%A3o_Paulo)

São Paulo-Katedraal of ook bekend as Metroplitaanse Katedraal van Onse Lieve Vrouwe Hemelvaart en Paulus:

Elke besoek aan ‘n kerk bly ‘n besonderse en unieke ervaring, Ongeag of dit nou ‘n besoek aan ‘n Rooms-Katolieke katerdaal, moskee, synogoge, Boedha-tempel of Christelike kerk is, die gevoel van heiligheid, kalmte, warmte en innerlike saligheid omarm jou met ‘n gevoel van dankbaarheid. Woorde ontbreek my elke keer om met diepe kennis en insig, die skoonheid en heiligheid van hierdie instellings vas te vang. Met my besoek aan die Metropolitaanse Katedraal van Ons Lieve Vrouwe Hemelvaart en Sint Paulus, ook bekend as die Seekatedraal, was ek sprakeloos en met stomheid geslaan. Met sy Gotiese Herlewingstyl en Renaissance-styl koepel, is hierdie katedraal in die middestad van São Paulo, voorwaar ‘n blink diamant en flitsende lig wat ‘n welkome warmte uitstraal. Dit is dan ook nie vreemd dat hierdie katerdraal hoog op elke toeris se besoekprogram is. Sommige kenners meen dat die katedraal die vierde grootste neo-Gotiese katerdraal ter wêreld is.

Bouwerk aan die katedraal het in 1589 begin en is eers in 1616 voltooi. Sedertdien het die katedraal verskeie struktuele verandering ondergaan tot waar dit vandag staan. Hierdie katedraal is nie net ‘n gebou nie. Dit is ‘n simbool van geloof, geskiedenis en vakmanskap wat in ‘n besonderse argitektuur vasgevang is. Elke toring, klok, komplekse brandgeskilderde vensters, beelde, stoele, banke en vloere uitgelê in mosaiëk, vertel ‘n storie van toewyding, vakmanskap en kulture bewaring.

https://en.wikipedia.org/wiki/S%C3%A3o_Paulo_Cathedral

https://catedraldasesp.com/wp-content/uploads/2025/12/livro-site-1.pdf

Altino Arantes-gebou:

Die Edifício Altino Arantes wolkekrabber op ‘n hoogte van 161meter met sy 40 verdiepings is tans die vierde hoogste wolkekrabber in Brasilië en is ‘n ikoniese landmark in São Paulo. Dié indrukwekkende gebou, was eens die hoofkwartier van die Bank van die Staat São Paulo en is tussen 1939 en 1947 opgerig. Vir twee dekades sou dit die hoogste gebou in die stad wees totdat dit deur die Mirante do Vale oortref is. Die Alitino Arantes is na voltooiing aangewys as die wêreld se grootste struktuur wat uit gewapende beton bestaan. Die indrukwekkende Empire State-gebou in New York en die Amerikaanse argitek, Frank Lloyd Wright, was die inspirasie vir die ontwerper, Plinio Botelho do Amaral. Die gebou het deur die jare van vele eienaarskap gewissel. Na uitgebreide opknappingswerk in 2015 is die kompleks weer in Januarie 2018 vir die publiek heropen onder die naam Farol Santander en dien tans as ‘n kulturele en vermaaklikheidsentrum. Die gebou huisves ook die Banespa Museum, wat die geskiedenis van die bankwese uitbeeld met ‘n groot versameling van fotos, voorwerpe wat deur vakmanne gebruik is, asook oosterse en nasionaal gemaakte matte.Die skakel hiernaas vertel jou ‘n bietjie meer oor hierdie wolkekrabber en ander in die land.

https://en.wikipedia.org/wiki/Altino_Arantes_Building

https://www.skyscrapercenter.com/building/altino-arantes/3280

https://audiala.com/en/brazil/sao-paulo/edificio-altino-arantes

https://en.wikipedia.org/wiki/Mirante_do_Vale

Die Munisipale Teater van São Paulo:

Na ‘n kort stappie oor ‘n paar strate bestyg ek die trappe aan die voorkant van die imposante  Munisipale Teater van São Paulo of onder inwoners bekend as Theatro Muncipal De São Paulo.

Die teater word beskou as een van die landmerke van die stad en is betekenisvol vir beide sy argitektoniese waarde sowel as vir sy historiese belangrikheid. Tewens dit was hier waar die Week van Moderne Kuns in 1922 gehou is en wat die kunste in Brasilië omskep het.

 Die gebou huisves onder andere die São Paulo Munipale Simfonieorkes, die Coral Lírico (Liriese Koor) en die Stadsballet van São Paulo.

Die teater word daagliks vir uitvoerings gebruik en ons is nie toegelaat om die teater in sy volle glorie te besigtig nie. Die skakels hiernaas sal gewis jou belangstelling in die stad se skone kunste prikkel. Die bietjie wat ek wel van binne kon sien het my beïndruk.

https://en.wikipedia.org/wiki/Theatro_Municipal_(S%C3%A3o_Paulo)

https://www.alamy.com/sao-paulo-sp-brazil-february-27-2019-facade-of-theatro-municipal-municipal-theater-at-downtown-ramos-de-azevedo-square-building-with-architec-image244774910.html?imageid=5222B5F3-80FA-4CD9-8E26-EF41D7A0DE1F&pn=1&searchId=545db6654eabaae9fb33d325db43fd08&searchtype=0

Liberdade distrik – Japanstad:

Ons toerbus vleg deur die besige stadsverkeer. Die strate is belyn met die een indrukwekkende gebou op die ander. Dit is haas onmoontlik om fotos in die verbygaan te neem, wat nog te sê om die één skoonheid op die ander op te slurp. En dan met eensklaps bevind ons ons in die Japanse distrik Liberdade. Liberdade vertel toergids, Arthur ons, heet eintlik​​ Japantown. Japannese immigrante het hulle in 1912 in die streek begin vestig. Baie lmmlgrante kon nie op koffieplase aanpas nie, en het toe vir beter werksgeleenthede na Sao Paulo getrek. Vandag is die buurt bekend vir sy tipies Japannese restaurant, winkels en Japannese lanterns vir straatligte, sowel as sy Oosterse elites en tekens in Japannees. Arthur noem dat die meerderheid Japannese mense en hul afstammelinge nie meer in die buurt woon nie, maar handhaaf slegs hul kommersiële ondernemings in die streek. Met die vertrek van die Japannese het die streek baie Chinese en Koreaanse immigrante begin ontvang. Die skakels hiernaas vertel jou ‘n bietjie meer wat in hierdie interessante woorbuurt aangaan.

https://en.wikipedia.org/wiki/Liberdade_(district_of_S%C3%A3o_Paulo)

https://www.britannica.com/place/Liberdade

Paleis van Justisie:

Die toerbus hou by die Paleis van Justisie van São Paulo stil waar ons ‘n paar minute verwyl en fotos neem.  Hierdie hoogste hof is ‘n bekende historiese baken in die stad, en dien ook as die hoofkwartier van die Hof van Justisie van São Paulo. Die hof is geleë in die historiese middestad van São Paulo, aan die Praça da Sé (‘n plein). Volgens inligting is die hof een van die grootste geregtelike departemente ter wêreld, met meer as 20 miljoen regsake. Die argitektuur beide binne en die buitenste fasades, is eklekties van aard met ‘n kombinasie van barok en neo-klassieke elemente. Tyd het dit nie toegelaat om die hof van binne te besigtig nie. Kliek gerus op die skakel hiernaas vir meer inligtigting oor die hof.

https://en.wikipedia.org/wiki/Palace_of_Justice_of_S%C3%A3o_Paulo

https://en.wikipedia.org/wiki/Court_of_Justice_of_S%C3%A3o_Paulo

My reiswenke:

  • Besluit hoe lank jy in São Paulo wil vertoef. Dit is ‘n baie groot stad wat jou oorweldig.
  • Engels as voertaal is baie beperk. Om ‘n paar Portugese woorde en frases te ken, gaan jou beslis help.
  • Maak seker wat jy in die stad wil doen. São Paulo word as een van die top kulininêre stede in die wêreld beskou met duisende eetplekke om van uit te kies. Hier is ook net soveel verskillende soorte museums om te besoek.
  • Doen genoeg navorsing oor São Paulo. As jy die stad op jou eie wil verken, is my raad om die dienste van ‘n plaaslike toergids te oorweeg.

Bron: The Rough Guide to SOUTH AMERICA ON A BUDGET. Six Edition. 2024