ZAGREB: ‘N ONDERSKATTE HOOFSTAD

Kroasië se boeiende hoofstad, Zagreb, speel dikwels tweede viool naas sy sonnige kuslyn, maar hierdie lewendige binnelandse stad bied ‘n boeiende mengsel van geskiedenis, kultuur en kontemporêre styl. Twee dae in Zagreb bied genoeg tyd om sy veelsydige persoonlikheid te ontdek, van Middeleeuse sjarme tot moderne kuns.

Begin jou Zagreb-avontuur in die historiese Bo-Stad (Gornji Grad). As jy haastig is, gebruik die funicular of kabelbaan in die soetste taal, of gebruik jou voetezukis om op te stap en sommer die lang vlug se moegheid ook uit te stap. As jy stap, stop gerus en kyk na die uitgestrektheid van Zagreb onder jou. As jy bo kom maak die Bo-Stad voor jou oop en stap jy in die geskiedenis in. Die ikoniese St. Markus-kerk, met sy helder teëldak wat die Kroatiese en Zagreb se wapens uitbeeld, is ‘n onmiskenbare hoogtepunt. Omdat regeringsgeboue, onder andere die President se kantoor, in geboue rondom die kerk gehuisves word gaan jy slegs die kerk se binnekant sien as jy die daaglikse mis of een van die ander eredienste bywoon.

Die kant van die ikonie St Markus-kerk wat die toeriste altyd sien.
Die unieke agterkant van die St Markus-kerk.

Nabygeleë lok die Porta di Pietra of die Ou Kliphek, wat ‘n vergulde beeld van Maria huisves wat na bewering ongeskonde ‘n brand  in die 17e eeu oorleef het , duisende  pelgrims en bied aan almal , besoekers en inwoners van Zagreb, ‘n rustige blaaskans. Net om die draai van hierdie eerbiedige stopplek is die oudste apteek in Kroasië wat steeds gebruik word. Stap in en gaan gesels met die apteker, hulle is altyd gewillig om te verduidelik oor hoe die ou apteek gewerk het en watter kruie destyds gebruik is, en hoe daarvan steeds vandag gebruik word. Verken die bekoorlike strate verlig deur gaslampe, struikel oor panoramiese uitkykpunte, en delf in die eienaardige Museum van Gebroke Verhoudings – ‘n verrassend aangrypende en humoristiese versameling aandenkings van vorige liefdes.

Die ou apteek se laaikassies

Net so straat-op van die museum is die museum vir naïewe kuns. ‘n Unieke museum vir die kunsvorm wat op Kroasië se platteland begin het in die 20e eeu. Gaan kyk gherus, die museum is nie vreeslik groot nie, maar daar is ‘n eerlikheid aan die kuns wat dit die moeite werd maak om die paar Euro uit te haal.

Die museum vir naïewe kuns.

Tussen die twee museums is daar ‘n argitektoniese juweeltjie – die Grieks Ortodokse Kerk wat deur Hermann Bolle ontwerp is. Bolle het drie ander belangrike geboue in Zagreb ook ontwerp, onder andere die Zagreb Katedraal en die Mirogoj Begraafplaas. Wat die Griekse Ortodokse Kerk so uniek maak, is dat dit die enigste een is met ‘n hout plafon en houtbalke en dit het waarskynlik gehelp dat die gebou in die hewige aardbewing van 2020 ongeskonde gebly het terwyl soveel ander geboue, onder andere die Zagreb Katedraal skade opgedoen het. Gaan kyk gerus, na die talle kunswerke binne die kerk en raak rustig in die skemer van die kerkie se binnekant terwyl jy wag vir die klokkespel.  Daar is drie klokke in die 50 m hoë katedraal se kloktoring. Die grootste klok weeg 782 kg en is gewy aan die heiliges Cyrillus en Methodius, die medium klok wat 395 kg weeg, is gewy aan die Moeder van God en die kleinste klok wat 230 kg weeg en is gewy aan Basilius die Grote.

Moenie die Lotrščak-toring misloop nie. Elke middag sedert 1877 word daar ‘n kanon afgevuur om die inwoners van Zagreb te laat weet dit is 12:00. As jy kans sien, en reeds jou eerste koppie koffie agter die blad het, en dalk daardie roomys ook, dan kan jy teen die steil trappies uitklim tot by die uitkykpunt heel bo. Die hele Zagreb lê dan voor jou. Snuffel so deur die Bo-Stad tot jy die tonnels kry wat vir die 2e Wêreld Oorlog gebou is om die die inwoners van Zagreb te beskerm. Vandag verbind die tonnels die Bo-Stad en die Laer Stad en is dit ‘n unieke ervaring om so deel van die stad se geskiedenis te beleef.

Die kanon staan op die heel boonste vloer van die toring.
Die tonnels wat gebou is om die inwoners van Zagreb teen lugaanvalle te beskerm.

Dag twee kan gewy word aan die Laer Stad (Donji Grad) en sy Oostenryks-Hongaarse argitektuur. Begin by die Ban Jelačić-plein, die bruisende hart van die stad, en dwaal dan deur die ‘Groen Hoefyster’, ‘n reeks onderling gekoppelde parke en pleine. Hier vind jy argitektoniese juwele soos die Kroatiese Nasionale Teater en die Kunspaviljoen. Wees gewaarsku heelwat van hierdie geboue is besig om gerestoureer te word na die verwoestende aardbewing van 2020 en is nie oop vir die publiek nie.

Gaan soek na die beelde van die planete wat volgens skaal in Zagreb uitbeeld en orals deur die stad versprei is. As jy genoeg tyd het, gaan soek almal, of gaan soek net een of twee terwyl jy van die een koffiewinkel na die volgende een dwaal.

Ban Jelačić wat ‘n wakende oog oor die gelyknamige plein hou.

 Vir ‘n meer ontspanne oggend, geniet ‘n koffie by een van die vele kafees langs Bogovićeva-straat, of dwaal deur die stalletjies by die Dolac-mark, ‘n lewendige opelugmark vol plaaslike produkte en kunsvlyt.

Op hierdie laaste dag, waag effens van die gebaande paadjies af om Zagreb se artistieke en boheemse kant te ervaar. Die buurt van Tkalčićeva-straat, eens ‘n rivier en nou ‘n voetgangerparadys, is perfek vir ‘n ontspanne vroeë middagete en mensekyk. Verken die straatkuns en onafhanklike boetieks wat die stad sy kontemporêre sjarme gee.

Die Nasionale Teater
Venus wat deel van die kunswerk van planete is wat regoor Zagreb versprei is.

Zagreb, met sy unieke mengsel van tradisie en kontemporêre denke, is ‘n stad wat lank nadat jy vertrek het, steeds in jou gedagtes maal.

3 Redes hoekom jy Zagreb wil besoek.

  • Jy wil ‘n Kroatiese bier drink met jou aankoms.
  • Gaan loer by die Zagreb Katedraal hoe sorgvuldig hulle die restourasiewerk aan die gebou doen en hoe elke klip en baksteen met sorg gemerk word om weer op die regte plek in te gaan.
  • Gaan soek vrugte op hulle stadsmark (Dolac) naby die Zagreb Katedraal. Hou maar kontant byderhand, hulle het nie kaartmasjiene nie. Hierdie is nog ‘n regte mark, daar is nie soveel snuisterye nie. Gaan kyk ook sommer na die vismark in die gebou langs die mark.
Die mark het ‘n groot blomme mark net so ‘n paar treë van die hoof mark af.

2 Comments

  1. Lekker gelees sommer lus vir draai maak!

  2. Maak darem baie lus om draai te gaan maak!