‘N EEU-OUE MENSLIKE SKEDEL, VREEMDE VLIEȄNDE VOORWERPE, MONUMENTE, ‘N UNIEKE FORT, ALLES PLATTELANDSE JUWELE EN NOG VELE MEER

Landskap net buite Middelburg op die R398 onderweg na Richmond

Om padlangs te reis kan soms bra vervelig en uitputtend wees. ‘n Klein bietjie waagmoed kan die rit in ‘n aangename en interessante avontuur omskep. Maak werk daarvan en trek die stoute skoene aan en gaan verken die onbekende. Beplan jou reis op so ‘n wyse dat vreemde en die minder bekende besienswaardighede deel van hierdie ontdekkingstog uitmaak. Wees ‘n nuuskierige agie en delf diep in die literatuur rond om die talle besienswaardighede te ontsluit wat die oog dikwels nie raak sien nie.

Ek benader my reis in Februarie 2025 na Namibië met die veronderstelling dat ek spesifieke interessanthede op my roete sal sien en ervaar. Die keuse van dorpe aandoen met die gaan slag, en weer met die terug reis vanaf Windhoek, laat my wederhelfte in verstomming. Die vraag kom: “Maar hoekom in hierdie dorp of daardie dorp oornag of aandoen”. My antwoord kom borrelend. “Op elkeen van hierdie dorpe waar ons gaan oornag of deurry, is daar ’n storie wat wag om vertel te word, en op die koop toe, ook ‘n foto of twee om te neem.

 Instinktief maak ek ‘n denksprong in die wyse hoe ek my reisavonture aanpak. ‘n Bekende militêre besluitnemingsmodel stel my in staat die om besienswaardighede wat ek wil besoek op ‘n holitiese wyse te ervaar. Ek verfyn die model in die kuns om interessanthede te vind, daaroor te peins, besluit wat gedoen moet word, en dan daaroor te skryf. Hiedie metode van doen, om ‘n besonderse toeristebesienswaardigheid te ervaar, word op ‘n baie interessante en praktiese wyse in die besluitnemingmodel van die legendariese Amerikaanse vegvliënier kolonel John Boyd, met sy “OODA LOOP Model”, verduidelik. Vier stappe word gevolg wat breedweg omskryf word as: “observation (O), orientation (O), decision (D) and action (A)’. Boyd verduidelik dat hy as vegvliënier net breekdele van sekondes gehad het om besluite te neem hoe om vyandelike lugaanvalle af te weer. Hierdie militêre benadering van optrede het ook mettertyd na die sakewêreld oorgespoel en vind vandag nog groot aanhang. Ek volg hierdie proses met groot opgewondenheid wanneer ek die grammadoelas invaar in my opsoeke na nuwe avonture. As jy meer oor hierdie baie interessante besluitnemingsmodel wil weet, kliek gerus op die skakel hiernonder. Daar is nog baie meer webstuistes wat die model verduidelik. https://thedecisionlab.com/reference-guide/computer-science/the-ooda-loop

Maar terug by die Namibië besoek. Om iets oor elke dorp wat besoek is te skryf, sou in hierdie aflewering nie moontlik wees nie. Die fokus is net op enkele van die dorpe wat my nuuskierigheid geprikkel het. Die landskap op hierdie roete en veral die skilderagtige berglandskap en die wye oop vlaktes is prentjie mooi. Wat ‘n plesier om deur die ongerepte wye platteland te ry met kleurryke en asemrowende natuurskoon.  Die Noord-Kaap is in een woord net eenvoudig pragtig. Die lower groen gras staan hoog na die goeie reën wat oor groot dele van die provinsie geval het. Eweneens is die Groot-Karoo landskap en velde net so mooi en dan om nie van die Oos-Kaap te praat nie.

Wat ‘n mens wel moet noem en of jy nou daarvan hou of nie, is die swak toestand waarin sommige paaie in van hierdie plattelandse dorpe is. Die agteruitgang van die paaie en verval van infrastruktuur in dorpe, is iets vreesliks wat nie in woorde omskryf kan word nie. Op sommige van die plattelandse dorpe is die agteruitgang om dit ligtelik te stel, ontstellend. Die honderde swaarvragmotors wat daagliks erts na hawens vervoer, verniel die paaie en skep ‘n groot gevaar vir motoriste. Motoriste probeer met groot sorg die slaggate op die hoofroetes en paaie in die dorpe te vermy, maar soms tref die noodlot hulle. Bestuur asseblief uiters versigtig op hierdie paaie.

VREEMDE VLIEȄNDE VOORWERPE (VVV’s)

Rosmead, waar ‘n Vreemde Vlieënde Voorwep (VVV) glo op die skool se tennisbaan geland het

Eerste op my lysie van besoeke waar ek spreekwoordelik ‘n koue rilling ervaring gehad het, was die besoek aan Rosmead.  Hierdie spoorwegstasie net buite Middelburg, was in die verlede baie bedrywing omdat dit op ‘n hoof trajak na hawens geleë is. Daarbenewens, was die naby geleë strategiese brandstofopgaarinstallasie, ‘n uiters belangrike fasiliteit wat soldate van die destydse Suid-Afrikaanse Weermag moes beskerm. Die fasiliteit is intussen uit bedryf gestel, maar die opgaartenks staan nog. Die spoorwegstasie lyk vandag ook glad nie meer soos wat dit in sy glorieryke dae gelyk het nie. Die geboue is verrinneweer en beskadig maar die trajak funsioneer darem nog en is steeds operasioneel vir die vervoer van erts, graan en ander lewensmiddele na hawens en stede.  

Rosmead spoorwegstasie en die kilometer lange trein vol mangaan onderweg na een van die hawens

Nuuskierigheid oorweldig my toe ek ‘n slaghuis naby die verlate stasie opmerk. Instinktief hou ek stil, klim uit met gedagtes wat in my kop rondmaal oor wat binne hierdie slaghuis tussen niks en nêrens aangaan. Met baie vrae wat in my kop rondmaal, maak ek die deur oop en stap in. ‘n Sterk geboude jongman sit agter ‘n lessenaar, besig op sy rekenaar. Binne die slaghuis hang ‘n magdom karkasse van skape. Slagters en werkers is ywerig met vleisverwerking en verpakking besig. Ek stel myself voor en nuuskierig om meer te weet vertel die jong slagter van Rosmead, Johan Louw, my met groot geesdrif en passie waarmee hulle besig is. Hy vertel dat hul plaas nie ver daarvandaan is en dat die slaghuis reeds meer as 70 jaar ‘n familiebesigheid is.

Die een vraag lei na die ander en antwoorde spoel spreekwoordelik oor Johan se lippe. Die gesprek is stimulerend en borrelend, Ek wag totdat die oomblik reg is en gooi ‘n opslagbal na sy kant met die vraag, oor wat het vlieënde vreemde voorwerpe (VVV’s) hier op Rosmead kom maak. En net daar met spontaniteit vertel Johan die storie soos deur sy pa vertel toe ‘n vlieënde vreemde voorwerp op die laerskool se nuutgeboude tennisbaan kom land het. Ek was die ene ore. Met gespitste ore wat soos radarantennas staan, hoor ek Johan se VVV storie aan. Die hare op my arms raak kiewelrig soos ek hoendervleis kry. Johan vertel met groot opgewondheid die storie soos sy pa dit aan hom oor vertel het. Volgens sy pa het feitlik die ganse laerskool en baie inwoners, die petalje in skok en verwondering aanskou. Net so vining as wat die vreemde vlieënde vaartuig geland het, het dit weer opgestyg en soos ‘n weerligstraal die blou hemelruim van Rosmead ingeskiet. Diegene wat die petalje gesien het, was ook verstom om die merke op die tennisbaan te sien wat die vaartuig agtergelaat het.

Net daar en dan besef ek dat ek ooggetuies vir hierdie verstommende storie moet hê en roep my wederhelf wie in die voertuig op my wag, nader. Teensinnig stap sy saam en ontmoet Johan. So vertel hy die hele storie toe weer oor, maar hierdie keer met ‘n verdere kinkel daarin. Hy vertel van sy eie ondervinding toe hy en sy broer ‘n paar jaar gelede vanuit dorp (Middelburg) onderweg plaas was toe ‘n VVV sy verskyning in die nagruim maak. Johan is ene hoendervleis soos hy die storie vertel en ek besef hierdie is nie ‘n wolhaarpraatjies nie, maar ‘n weergawe van ‘n aand se gebeur wat by die twee jongmanne ‘n blywende indruk gemaak het. Kopskuddend en koue rillings wat met my ruggraat af snel, groet ons Johan. Met die vertrek, is my oë en dié van wederhelfte vasgenael op die blou lug bo ons soekend na ‘n VVV. Wat ‘n ervaring om na hierdie gebeure te kon luister. Onwillekeurig laat Johan se die storie my terug dink aan die televisiereeks op DSTV Kanaal 186, getiteld “The Curse of Skinwalker Ranch”. Kyk dit, gerus want daarna sal jy dalk anders saans na die hemelruim kyk. Kliek gerus op die volgende skakel om meer oor die gebeure by Rosmead te lees.

https://en.wikipedia.org/wiki/Rosmead

https://www.sahistory.org.za/place/rosmead

https://karoospace.co.za/alien-spotting-in-the-karoo/

https://en.wikipedia.org/wiki/UFO_sightings_in_South_Africa

https://en-academic.com/dic.nsf/enwiki/10587654

SKILDERAGTIGE KAROO LANDSKAP

Die vorige dag op Middelburg, doen ons navraag oor die toestand en begaanbaarheid van die paaie na Steynsburg en Hofmeyr, en ook die roete vanaf Middelburg na Cradock. Wetend hoe besig die N10 roete is met die honderde ertsvragmotors, besluit ons op die R56 roete na Steynsburg, maar draai af op die R390 na Hofmeyr, en dan na Cradock. Ek is baie opgewonde oor hierdie besluit. Goed ingelig oor ‘n uiters onskatbare en interessante argeologiese fonds wat op Hofmeyr te sien is, verlaat ons Middelburg. Die landskap op die roete na Steynsburg en daarvandaan na Hofmeyr is pragtig. Die Suurberg in die noorde en Bamboesberg in die ooste is prentjie mooi. Golwende grasvlaktes skep ‘n groen tapyt en verhelder die blou berge in die verte. Voorwaar ‘n toneel wat net in die Karoo te siene is.

Teebus en Koffiebus

Twee ikoniese berge, Teebus en Koffiebus maak in die verte hul verskyning. Namate ek nader aan diè twee berge kom, word ek opnuut diep bewus van die natuur se geologiese uniekheid. Die pad kronkel tussen die twee interessante berge deur met die uitgestrekte grasvlaktes wat ‘n reisrustigheid oor my bring. Hierdie paaie is nie gebou om op te jaag net omdat dit nie swaar verkeer dra nie. Dit is daar om die Karoo se natuurskoon in al sy glorie te waardeer. Kliek gerus op die volgende skakels as jy meer oor Teebus en Koffiebus wil weet.

https://www.karooheartland.com/listings/ https://southcape.mcsa.org.za/2019/08/17/teebus-and-koffiebus-nr-steynsburg-eastern-cape-9-to-11-august-2019/koffiebus-and-teebus/https://www.geocaching.com/geocache/GC8NM8P

‘N EEU OUE MENSLIKE SKEDEL

Met my aankoms op Hofmeyr merk ek dadelik op dat dié klein Karoo dorpie ‘n oplewing toon. Wat my dadelik opval, is die skoon strate, en die gedaante wat plaaslike hotel en padstal ondergaan het. Die hotel is vernuwe tot ‘n pragtige en gewilde vierster boutique hotel, terwyl die padstal net oorkant die hotel, ook ‘n gedaantewisseling ondergaan het. Trakteer jouself en koop gerus van die verskydenheid tuisgemaakte pasteie en gebak. Dit is heerlik. Ek het nie Hofmeyr toegekom om te eet nie. Gewis nie, want ek weet dat in die padstal daar ‘n replika van die “Hofmeyr skedel” te sien is. Hierdie eeu oue menslike skedel wat beskou word as diè van ‘n man, is van ‘n 36,000 jaar oue modern mens. Die skedel is in 1952 in ‘n droeë loop van die Vlekpoortrivier naby Hofmeyr gevind. 

‘n Replika van die Hofmeyer skedel wat hier in “The Farmhouse” padstal besigtig kan word

Paleontoloeë en antropoloeë beweer dat die Hofmeyr skedel moontlik die vermiste skakel kan wees in die teorie rondom die migrasie van die modern mens wat oorspronklik vanuit sub-Sahara Afrika afkomstig is en tussen 40,000 en 60,000 jaar gelede ge-emigreer het om Europa en Asië te kolonialiseer. Die oorspronklike skedel kan vandag in die museum in Oos-London besigtig word. Die skakels hiernaas vertel jou meer oor die skedel.

https://en.wikipedia.org/wiki/Hofmeyr_Skull

https://www.mpg.de/research/hofmeyr-skull-supports-out-of-africa-theory

https://www.dailymaverick.co.za/article/2024-06-07-karoo-museums-i-discovering-big-skulls-giant-clock-faces-and-war-trinkets

https://link.springer.com/chapter/10.1007/978-3-031-07426-4_2 https://brandsouthafrica.com/108450/news-facts/hofmeyr-skull/

https://www.graaffreinetadvertiser.com/News/Article/Local-News/hofmeyr-skull-replica-now-home-202404191242

https://pubmed.ncbi.nlm.nih.gov/17218524

MONUMENTE EN ‘N UNIEKE FORT

Monumente versinnebeeld gewoonlik gebeure wat die gang van die geskiedenis onuitwisbaar beïnvloed of verander het. Op my roete terug huiswaarts, stop ek by enkele van hierdie baie interessante monumente.

Die Stoelmonument

Die een monument op my roete wat my aangeraak het, was die baie interessante “Die Stoel” net buite Middelburg (Oos-Kaap), op die R398 pad na Richmond. Die monument wat langs ‘n peperboom teen die hang van die Ouberg koppie geleë is, vertel die verhaal van die hartseer gebeure tydens die Anglo Boereoorlog toe twee boereoffisiere, Kommandante J.C. Lötter en P.J. Wolfaardt, respektiewelik op 12 en 15 Oktober 1901 voor ‘n vuurpelonton tereggestel is nadat hulle van hoogverraad aangekla is.

Die monument is uit doleriet klippe en drie marmerklippe gebou, met ‘n afdruk van ‘n riempiestoel daarop gegrafeer met die name van die twee oorledenes daarop. ‘n Derde steen bo-aan lees. “Wat beteken hierdie klippe vir julle? Johannes 4:5”. Kliek gerus op die onderstaande skakel om meer oor hierdie gebeure te lees asook ander interessanthede wat op Middelburg besigtig kan word.

https://www.middelbhttp://monument-sa.co.za/stoelmonument-middelburg-hans-lotter/urgkaroo.co.za/listing/stoel-monument-20-2020-ad

https://www.karooheartland.com/listings/middelburg-stoel-monument

http://monument-sa.co.za/stoelmonument-middelburg-hans-lotter/

https://www.middelburgkaroo.co.za/listings/history_and_culture_activities

Prieska

Min besoekers sal moontlik geïnteresserd wees om in hierdie oënskynlike slaperige Noord-Kaaplandse dorpie, geleë langs die Oranjerivier, vir ‘n wyle te vertoef en die omgewing verken. Sou jy een van daardie besoekers wees wat deur nuuskierigheid gedryf word om meer oor die dorp te wil weet, sal jy beloon word met verskeie interessanthede om te besigtig. Die skakels hier onder vertel jou ‘n bietjie meer oor Prieska se vele interessanthede. Prieska is nie net bekend vir sy vooruitstrewende landboubedrywighede nie, maar ook vir mynboubedrywighede in die omgewing waarvan die jongste die beoogde ontginning van koper (Cu) en sink (Zn) is. Hierbenewens sal die beplande ontwikkeling van ‘n ammoniak- en groenwaterstofaanleg in die nabye toekoms, verder tot die vooruitgang van die streek bydra.  Die naby geleë wind- en sonkragaanlegte, het reeds tot ‘n ekonomiese inspuiting vir die dorp gelei met ‘n aantal nuwe gesighede en nywerhede wat gevestig is.

Waarskynlik die interessanste besienswaardigheid op die dorp, is die unieke fort op die Prieska Koppie wat tussen 1899 en 1902 deur die Britse Leër gebou is. Wat die fort uniek maak, is dat hierdie seskantige fort uit tieroog klip gebou is. Tieroog is ‘n semi-edelgesteente wat in groot hoeveelhede in die omgewing aangetref word. Kliek gerus op die onderstaande skakels om meer oor Prieska te lees.

https://en.wikipedia.org/wiki/Prieska

https://www.south-africa-info.co.za/country/town/506/prieska

https://southafrica.co.za/places-of-interest-prieska.html

https://en.wikipedia.org/wiki/Prieska%E2%80%93Total_Solar_Power_Station

Orania

Om oor hierdie baie interessante dorp wat langs die Oranjerivier geleë is te skryf, kan nogal uitdagend maar tog ook verfrissend wees, afhangend hoe ‘n mens dit benader. Vir eers is dit nodig om politiek en persepsies opsy te skuif, en dit wat die dorp bied, met hartelikheid en ‘n oopgemoed sonder enige vooroordele te benader. Of jy nou verras, ontnugter of verbaas gaan wees, dit maak geensins saak nie. Hier spreek die werklikheid boekdele. My eerste indruk van Orania, is die skoonheid en hartlikheid waarmee jy begroet word. Dit is ‘n dorp wat vininig besig is op te ontwikkel en dit sal nie baie jare neem voordat dit in ‘n stad gaan verrys nie. Hier werk alles. Die dorp wek sy eie krag op, strate is skoon, en mense is oral hard aan die werk om ‘n suksesvolle bestaan te voer. Dit is nogal interessant om mense op elektries aangedrewe motorfietse te sien rondry besig om aflewerings te doen of om dagtake uit te voer. Voorwaar ‘n veer in die hoed van Orania vir vooruitgang en die ontwikkeling van ‘n skoon omgewing.

Een van die bekendste bakens op die dorp, is die “Koeksister” monument. Besoek dit gerus. Net buite die dorp op ‘n koppie, wapper die dorpsvlag trots. Bronsbeelde van sommige Presidente en Eerste Ministers, wat in vorige bewindstydperke in Suid-Afrika regeer het, kan ook op die koppie besigtig word. Nog ‘n interessante standbeeld wat daar besigtig kan word, is dié van die “Klein Reus”. Dié standbeeld simboliseer ‘n jong man wat sy moue oprol en wat die gedagte uitspreek dat die daad by die woord gesit moet word. Die slagspreuk “Skep u toekoms self” is op die standbeeld uitgegraveer.‘n Paar meter daarvandaan, is ‘n monument ter nagedagtes aan die vrywillige Ierse kommandolede wat tydens die Anglo Boereoorlog aan die kant van die boere geveg het. O, en moenie vergeet. Orania het sy eie geld eeheid, die “Ora”. Moenie bekommerd wees nie, jou Randis welkom op die dorp. Een Ora is gelykstaande aan R1.

Vir meer inligting oor Orania, kliek op die onderstaande skakels.

http://monument-sa.co.za/orania-koeksistermonument-klein-reus-ierse-monument-paul-kruger-staatshoofde-eerste-ministers-monumentkoppie/

http://www.scielo.org.za/scielo.php?script=sci_arttext&pid=S0041-47512021000200008

Douglas

Die landskap tussen Groblershoop en Douglas op die N8 is na die goeie reën besonders mooi. In Campbell draai ek af op die grondpad na Douglas. Dit is ‘n korter roete om by my oornag bestemming te kom. Dit is beeswêreld hierdie en die streek is ook bekend as een van die vooruitstewendste landbou gebiede in die land. Ek besoek “Die Neus”, genoem na die punt waar die Vaalrivier en die Oranjerivier ontmoet om een rivier naamlik die Oranjerivier te word. My terleurstelling is groot. Die terrein is besaai met vullis en die infrastruktuur is vervalle. Dit is hartseer om te sien in watter toestand die terrein by hierdie besondere besienswaardigheid is. Dit tref my ook in watter toestand die dorp se paaie is. Soos die meeste ander plattelandse dorpe waardeur ek gery het, is die paaie vol slaggate en rommel wat die wêreld vol lê. Hoe hierdie toestand omgekeer gaan word, weet nugter alleen. Wanneer ek sò deur die dorper ry, dink ek aan die woorde wat op die “Die Reus” in Oraniauitgegraveer is, naamlik: “Skep u toekoms self”. Dan wonder ek, hoe maak jy iets heel wat stukkend is. Verandering begin deur jou moue op te rol en doen, maar dan moet almal verantwoordelikheid aanvaar. Sela. Die onderstande skakels vertel jou meer van Douglas.

https://af.wikipedia.org/wiki/Douglas,_Noord-Kaap

https://www.karoo-information.co.za/routes/town/495/douglas

https://www.sa-venues.com/attractionsnc/douglas.php

Vanderkloofdam

Op my roete terug huiswaarts, besluit ek om die Vanderkloofdam en die toeriste dorpie, Vanderkloof te besoek. Dit was my eerste besoek hier. Ek was aangenaam verras om te sien hoe goed die dorpie versorg en ontwikkeld is.

 Die Vanderkloofdam is die tweede grootste dam in Suid-Afrika en is in die Oranjerivier geleë. Die dam is ook een van twee damme waar hidro-elektriese krag opgewek word. Die damwal bereik ‘n hoogte van 108m wat dit die hoogste damwal in die land maak en strek in lengte oor ‘n afstand van 765m. Wanneer die dam vol is, stoot die water tot ‘n afstand van ‘n 100km vanaf die damwal op. Die dorpie Vanderkloof wat sowat 9km vanaf Petrusville in die Noord-Kaap geleë is, is ‘n baie gewilde vakansiedorp. Die dam bied verskeie watersportaktiwiteite aan en is ‘n paradys vir die hengelaar.  Besoek gerus die dam en dorpie, dit is gewis die moeite werd. Die skakels hiernaas vertel jou meer oor die dam en die dorpie.

https://www.northern-cape-info.co.za/provinces/town/509/vanderkloof