
Ek kies koers Namibië toe. My eindbestemming – Windhoek, vir ‘n kort familie kuier. Die opgewondenheid om hierdie uitgestrekte land met sy verstommende en anderste natuurskoon, asook vriendelike mense vir die soveelste keer te besoek, is oorweldigend. Met my verblyf ‘n aantal jaar gelede, het ek elke denkbare geleentheid benut om die land van hoek tot kant te deurkruis. Sedert my terugkeer na Suid-Afrika, was ek weer n paar keer terug. Namibië is groot en uitgestrek. Per oppervlakte net ‘n rapsie kleiner as Suid-Afrika. Dit is nie moontlik om al die groot toeriste-aantreklikhede op eenslag te besoek nie, behalwe as jy tyd aan jou kant het om dit te doen. ‘n Streek wat my nog altyd ontwyk het om te verken, is die misterieuse Groot Karasberge in die suide van die land. Ek flits net elke keer daar verby, reguit grenspos toe om so vining as moontlik by my volgende bestemming te kom. Wetend dat daar op hierdie roete interessanthede is wat my nog altyd ontwyk het om aan te doen, maak ek ‘n punt daarvan om hierdie plekke nou te besoek. Met goeie navorsing en reiswenke neem ek met groot afwagting kennis van die interessante wegsteek besienswaardighede.


Om Namibië in Februariemaand te besoek is dalk nie ‘n goeie keuse nie. Die koeler wintermaande of vroeër lente is dalk ‘n beter tyd om daarheen te gaan. Die omgewing lyk ook heel anders omdat alles vaal en droog is, maar ook tog bitter mooi. Ek trotseer die baie warm weer in Februarie wetend dat die reënseisoen hier vanaf Januarie/Februarie begin en tot diep in Mei/Junie aanhou. Swaar weerstoestande gepaard met donderbuie en oorstroming kom gewoonlik op onvoorspelbare tye en ook wyd verspreid voor. Die binneland en ook die noordelike gedeel van die land kry gewoonlik die meeste reën terwyl die suidelike streke goeie of op baie plekke, geen reën kry nie. Wanneer dit wel in die suide van Namibië reën gaan dit soms gepaard met oorstromings, met droë rivierlope wat in verwoestende vloede afkom en in die see aan die weskus uitvloei.
Die rit van net minder as 2 000km vanaf Kleinemonde na Windhoek neem my drie dae om af te lê. Ek wil immers rustig en veilig reis om die mooi groen Karoo natuurskoon, asook diè van die Noord-Kaap en Namibië, met genot te kan ervaar.
Die eerste oornag verblyf is in Prieska. Dit is Sondagmiddag. Dit is vrek warm. Met net ‘n paar uur daglig tot my beskikking besluit ek om vining ‘n paar interessanthede op die dorp te besoek, maar meer hieroor in ‘n ander Gopse avontuur aflewering. Die rit vanaf Prieska oor Upington verloop seepglad. Vroegoggend verkeer is skaflik, maar wanneer ek die pad vanaf Upington na die grenspos by Ariamvlei aanpak, begin strome groot vragmotors van vooraf aankom. Almal op pad terug vanaf die Lüdritzhawe. Dit is ertstrokke wat mangaan of ystererts by die hawe aflaai. Hierdie is ‘n korter en stiller roete vir hulle vanaf Kathu daarheen. Ofskoon die vragmotors by die spoedgrens hou, is die paaie geleidelik besig om plek-plek tekens van verval te vertoon. Sake by die twee grensposte verloop glad sonder enige oponthoude.



Met brandstof aanvulling op Karasburg afgehandel, is my volgende stop, Die Withuis waar ek oornag. Die volgende dag is dit noordwaarts Windhoek toe. Hier vertoef ek vir sewe nagte. Benewens kuiertyd by die familie, benut ons die geleentheid om Windhoek en omgewing te verken. Die stad bars behoorlik uit sy nate. Ek was vyf jaar gelede in die stad en toe reeds kon ‘n mens die geweldige oplewing sien. Meer paaie is intussen gebou met verskeie breë ompaaie in aanbou terwyl ’n magdom nuwe woonbuurtes, winkelsentums en besighede opgeskiet het.
Ek sal ook nooit weer oor die prys van ‘n sappige skaaptjoppie of ‘n goed verouderde biefstuk kla nie, en ook nie oor die prys van varsprokukte nie. Gemeet aan my pensioenaris inkomste, is hierdie produkte asook vele ander vir eers buite my bereik. Gelukkig is daar darem vele ander pluspunte wat hierdie skokke versag. Min lande kan by Namibiërs se vriendelikheid en gasvryheid kers vashou. Werkloosheid is baie hoog en daarmee ook armoede, maar tog gaan mense uit hul pad om jou welkom te laat voel. Ek was ook aangenaam verras om te sien hoe sterk Afrikaans as voertaal nog in groot dele van die land gebruik word. En dit dertig jaar na onafhanklikwording. Van die suide tot in Windhoek gesels mense tog te lekker in Afrikaans.
Die omgewing rondom Windhoek is lowergroen na die vroeë reën wat mildelik oor die streek geval het. Ook die Khomas Hochland bergreeks is oortrek met lowergroen gras wat knie hoogte staan.
DIE SLAG VAN GIBEON
“Gibeon Village War Cemetery”
Commonwealth War Graves Commission
Die tyd om huiswaarts te keer het aangebreek. Die plan is om met die terug draai huistoe, die plekke wat ons nog altyd wou besoek, te verken. Onderweg na Keetmanshoop vang my oog die naambord “Gibeon”. Dit was eens op ‘n tyd ‘n bedrywige spoorwegtasie op die hoofroete vanuit Suid-Afrika na Windhoek. Al wat nou sigbaar is, is die oorblyfsels van vervalle geboue wat nog staan. Die stasie het ‘n baie interessante storie om te vertel. Tydens die Eerste Wêreldoorlog tussen 1914 en 1918, het Duitse soldate hierdie stasie beskerm omdat dit ’n belangrike verbindingsroete was om ammunisie en proviand na soldate te Vervoer.



Op 27 April 1915 vind die Slag van Gibeon hier plaas en boet 39 soldate onder wie 6 Duitsers en 20 Suid-Afrikaanse soldate van die “Natal Light Horse Regiment” hier met hul lewens. Hier, feitlik tussen niks en nêrens, vertel dié goedversorgde begraafplaas die verhaal van die bloedige konflik wat hier op die dorre oop vlaktes van Namibië plaasgevind het. As jy meer oor oorlog tussen die destydse Suid-Afrikaanse Unie Magte en die Duitse Gewapende magte in die toenmalige Duitswes-Afrika (vandag Namibië) asook die begraafplaas en die veldslag wil weet, kliek gerus op die onderstaande skakels.






https://www.southafricawargraves.org/search/view-paginated.php?page=1®iment=501&locality=1&cemetery=939 https://www.graves.eggsa.org/world/Namibia/nam%2014%20Apr_010/Namibia%20%20HARDAP%20Streek%20Gibeon%20station%20%20Memorial%20cemetery/
https://www.netwerk24.com/netwerk24/terugblik-suid-afrika-en-die-eerste-wereldoorlog-20180926
KOKERBOOMWOUD
Ek groet Giboen en draai suidwaarts op die hoofroete in die rigting van Keetmanshoop. Dit is in die middel van die dag en snikheet warm met warrelwindende wat plek-plek oor die dorre landskap stofwolke die hemelruim inblaas. ‘n Paar kilometer voor Keetmanshoop sien ek die bord “Kokerboomwoud”. Ons wou nog altyd hierdie gewilde besienswaardigheid van nader bekyk, maar tyd en omstandighede was nooit geskik om stil te hou en daarheen te gaan nie. Hierdie keer is dit anders.Ons het meer as genoeg tyd omdat my oornagplek nie te ver daarvandaan is nie. Ek draai af op die C29 pad in die rigting van Koës. Na ‘n paar kilometer se ry begin die een na die ander kokeboom op die horison te voorskyn kom. Skielik is daar meer en nog meer. Magies en trots pronk die kokerbome op die heuwels.



Op die plaas Gariganus, 14 km noordoos van Keetmanshoop is ‘n digte versameling van ongeveer 250 kokerbome. Ons draai by die plaas in en nadat ons die nodige toegangsgeld betaal het, begin ons met die wandeling deur hierdie skouspelagtige sprokies woud. Die grootste kokerbome is na raming tussen die 200 en 300 jaar oud. Sommige bome bereik ‘n hoogte van tot 9 meter. Die eerste blomme maak eers tussen sowat 20 tot 30 jaar hul verskyning. Die groot kokerbome het ‘n dik hoofstam wat naby die grond tot 1 meter in deursnee is. Die stam word van die middel af geleidelik slanker en dunner tot by die kroon wanneer talle take uitsprei. Die dorrre rotsagtige langskap verander in blomtyd in ‘n pastel van kleur wat wissel van heldergeel of oranje blomme wat ‘n verskeidenheid van voëls en insekte lok. ‘n Kokerboom is ‘n alleenlewende plant en kom wydverspreid in hul habitat voor, maar groei selde in groepe. Die bome kom gewoonlik voor in omgewings waar ysterklipformasies gevorm is wat dan ook sommer die bome stewig vas anker. Koperbome wat in groepe voorkom word net op drie plekke aangetref naamlik Kenhardt, Nieuwoudtville en Keetmanshoop. Op Vanrhynsdorp is daar ‘n kokerboomkwekery.



Volgens plantkundiges is die kokerboom (Aloidendron dchotomum, voorheen (Aloe dichtoma) nie ‘n eintlik ‘n boom in die ware sin van die word nie, maar eerder ‘n vetplant, en wat aan die aalwyn spesie (Asphodelaceae) verwant is. Die San en Hottentot gemeenskappe van toentertyd het die bas van kokerbome gebruik om kokers vir hulle gifpyle te maak. Die kokerboomwoud op die plaas Gariganus, is op 1 Junie 1955 tot ‘n nasionale gedenkwaardigheid verklaar. Die onderstaande skakels vertel jou meer oor hierdie kokerboomwoud.
https://af.wikipedia.org/wiki/Kokerboomwoud
https://en.wikipedia.org/wiki/Quiver_Tree_Forest
https://www.thegreendirectory.net/listings/quiver-tree-forest-kokerboom-woud-restcamp
Web. www:quivertree forest.com
SPEELPLEK VAN DIE REUSE
Namibië spog met verskeie asemrowende en besonderse geologiese en geomorfologiese rotsformasies. In die een of ander sprokiesverhaal word die storie vertel van hoe Julius Caesar gepoog het om die woud waar Asterix en sy volgelinge gewoon het, te ontbos en te omskep in ‘n moderne woonkompleks vir die Romeine wat dan sou heet “speelplek van die gode”. ‘n Mens sou jou wrintiewaar kon glo dat die Speelplek van die Reuse, hierdie modern woonkomplek vir die Romeine sou kon wees. Maar heelaas nie, want die Romeine het in die noordelike halfrond gewoon en Namibië is in die suidelike halfrond geleë.


Ek kom in Windoek te hore van die “Speelplek van die Reuse” en word met groot geesdrif meegedeel dat hierdie minder bekende besienswaardigheid, ‘n moet is om te besoek. Met die nodige navorsing om vas te stel wat hierdie besienswaardigheid nou eintlik sò besoekwaardig maak, val ons in die pad daarheen. ‘n Ent verder aan op die plaas Gariganus waar ons so pas ‘n baie interessante en betekenisvolle besoek aan die kokerboomwoud Gehad het, verrys rotsagtige heuwels. Sover as wat die oog kan sien is net klipstapels op klipstapels van wisselende grotes en hoogtes. Die indrukwekkende “Speelplek van die Reuse” tussen die honderde kokerbome openbaar homself in ‘n skouspel van ‘n geologiese formasie wat sowat 180 miljoen jaar gelede gevorm is. Dit was tydens die Jura tydperk (Engels: Jurassic),’n verwysing na een van die drie tydperke toe dinosourusse op die aarde rond geswerf het.






Met sy fassinerende doleriet rotsformasies en uitsigte staan jy verstom voor die natuur se rots skouspel. Lawa wat gesmelt het, het hier massiewe rotsformasies gevorm. Die rotsformasies is oor duisende jare weens klimaat skommelinge erodeer tot hoe dit vandag daarna uitsien. Talle voetpaadjies lei die avonturiër al dwalend en konkelend deur die skouspel van rotsformasies en elkeen is so indrukwekkend soos die ander. Kliek gerus op die onderstaande skakels om meer oor Speelplek van die Reuse te lees.
https://www.geocaching.com/geocache/GC5NTAZ
https://gondwana-collection.com/blog/what-is-the-giants-playground-in-namibia
https://www.mme.gov.na/files/publications/5cf_A4_Dolerite%20Hills_en.pdf https://www.mindonmap.com/af/blog/dinosaur-timeline/#:~:text=Trias%2Dtydperk%20ge%C3%ABindig.-,2.,met%20welige%20en%20tropiese%20omgewings. https://www.nhm.ac.uk/discover/dino-directory/timeline/late-jurassic/gallery.html
ROOSKWARTSMYN EN GROOT KARASBERGE SIRKELROETE
Met die besoek aan die Speelplek van die Reuse afgehandel en met ‘n geheue propvol mooi herinneringe, is dit terug hoofpad toe. Die De Wet familieplaas, Mickberg, is net om die draai, en dit is waar ons tuisgaan. Die oorspronlike plaashuis, genoem Die Withuis, is vandag wêreldbekend as ‘n oornagtuiste vir toeriste wat Namibië besoek. Die plaas dateer sover terug as 1912 toe dit deur ‘n Duitse egpaar gekoop en ontwikkel is. Die uitbreek van die Eerste Wêreldoorlog het rampspoedige gevolge vir die egpaar tot gevog gehad. Hulle moes die plaas inderhaas verlaat en sou nooit weer daarheen kon terugkeer nie. Verskeie geslagte het hierna diep voetspore op die plaas getrap totdat dit die eiendom deur die De Wet familie gekoop is. Vandag woon Dolf, Nita,hul seun asook Dolf se Ma op die plaas waar hulle met skape en beeste in hierdie dorre deel in die suide van Namibië boer. Toerisme en ‘n rooskwartsmyn skep egter nuwe en groot geleenthede.






Die indrukwekkende Groot Karasberge in die omgewing het ‘n magiese bekoring. Min besoekers sal dié geweste sommer verken omdat hier niks is wat die toeris eintlik daarheen lok nie. My belangstelling om agterpaaie te ry en nuuskierigheid om die onbekende te verken, kry die oorhand. Immers wil jy tog weet watdaar nou eintlik agter die berge lê. Terloops, dit is verbasend om te sien in watter goeie toestande die grondpaaie in Namibië is. Sommige is in ‘n beter toestand as van ons eie land se teerpaaie. Dolf verduidelik die roete. Vanaf Die Withuis terug op die B1 die hoofroete na Keetmanshoop en dan die regs afdraai op die D203. Vir die volgende sowat 150km ry ek deur hierdie pragtige minder bekende deel van Namibië. Dit is ongenaakbare harde wêreld. Die berge en landskap is prentjie mooi, Ook hier is honderde kokerbome te sien.
Met die sirkelroete voltooi is dit terug Withhuis toe. Dolf vertel ons van sy mynbedrywighede waar ‘n skatkis van rooskwarts voorkom en gemyn word. Die uitvoermark lyk belowend en hou groot vooruitsige in. Die volgende webblad vertel jou meer oor Die Withuis en mynbedrywighede.



www.withuis.net
Verblyf in Namibië
Reiswenke:
- Hou by die spoedgrens.
- Die inneem van vars suiwelprodukte of vleis na Namibië is taboe.
- Maak seker daar is ‘n ZA plakker op jou voertuig.
- Padvervoerbelasting was R439.00.
- Maak seker al jou voertuigregistrasie-dokumente is in orde en daarmee saam jou paspoort.
- Wees op die uitkyk vir rondlopende diere langs die pad.
- Wees versigtig vir slaggate in sommige paaie.
- Probeer om voor donkerte by jou bestemming uit te kom.
My Namibië Roete Die roete wat ek vanaf Kleinemonde na Windhoek gery het, was die volgende: Port Alfred, Bathurst, Makhanda, Fort Beaufort, Adelaide, Bedford, Cradock, Middelburg, Hanover, De Aar, Britstown, Prieska, Groblershoop, Upington, Karasburg, Grunau, Keetmanshoop, Mariental, Rehoboth en Windhoek. Met die terugdraai is dit weer dieselfde roete tot in Upington, maar hiervandaan draai ek weg by Groblershoop, Griekwastad, Campbell, Douglas, Hopetown, Orania, Vanderkloofdam, Petrusville, Phillipstown, Hanover, Middelburg, Steynburg, Hofmeyer, Cradock, Bedford, Adelaide, Fort Beaufort, Makhanda, Bathurst, Port Alfred en Kleinemonde. Dit was ‘n reis van bykans 5 000 km