Op ‘n heuwel net so ‘n amperse katspoegie buite Grahamstad (Makhanda) staan die Grahamstad toposkoop. ‘n Amperse miskyk gedenkwaardigheid, was dit nie vir twee wêreldrekords wat daar opgestel is nie.
Op 23 Mei 1931 het die Seiners van die “First City Regiment” van Grahamstad, die voorloper van die huidige Hoofman Makhanda Regiment, die wêreldrekord opgestel vir die langste nag-sein met ‘n militêre naglig. Die groepie seiners het vanaf die toposkoop se posisie op Seinheuwel, ‘n sein gestuur wat deur ‘n militêre basis op die Katberg, sowat 70 lugmyle (sowat 112km) vanaf Seinheuwel gesien is.
Militêre naglampe is hoofsaaklik vir seine en navigasie gebruik. Hulle was dikwels klein, draagbare lanterns wat maklik gedra en versteek kon word. Hierdie lampe het tipies olie of keroseen as brandstof gebruik en het ‘n sluiter of lens gehad wat gebruik kon word om die ligstraal te beheer.
Militêre personeel het hierdie lampe gebruik om in die donker met mekaar te kommunikeer, roetes of landingsones te merk en na skepe of vliegtuie te sein. Die ontwerp van hierdie lampe was dikwels eenvoudig en funksioneel, en het duursaamheid en gebruiksgemak vooropgestel.
Hulle was gemaak van stewige materiale soos metaal en glas om die strawwe militêre gebruik te weerstaan. Soos die ou gesegde lui, in die weermag moet ‘n ding “troop proof” wees. Daar is in die stadium nie ‘n foto van hoe die naglig gelyk het wat die span seiners gebruik het nie.
First City was die Senior Hoogland Regiment in Suid-Afrika en die vierde oudste Infanterie-regiment in die land en sy wortels kom van die Queenstown Volunteer Rifles en die First City Volunteers van Grahamstad wat op 1 Julie 1913 saamgesmelt is om die 4de Infanterie (First Eastern Rifles) te vorm. Hulle het so gebly tot 1924 toe hulle 4de Infanterie (First City) geword het en toe in 1932 het hulle bloot First City geword.

Die groepie seiners van First City se kamerade van 8 Veldartillerie Battery van 3 Infanterie Brigade (8th Light Battery of the 3rd Light Brigade) het in 1940 met ‘n heliograaf die tweede Wêreldrekord opgestel toe hulle met ‘n drie duim (76mm) heliograaf verskeie boodskappe vanaf Seinheuwel by Grahamstad na ‘n militêre basis naby Hogsback, 64 lugmyle (sowat 103 km) ver gestuur het. En so het Grahamstad se toposkoop deel van twee militêre wêreldrekords geword. Die heliograaf is ‘n slim en eenvoudige toestel wat ‘n spieël gebruik om sonlig oor lang afstande te laat flits. Dit was ‘n deurslaggewende hulpmiddel vir militêre kommunikasie in die laat 19de en vroeë 20ste eeue, voor die wydverspreide gebruik van radio.


TOPOSKOOP
Sou jy gewonder het. ‘n Toposkoop, topograaf of oriëntasietabel is ‘n grafiese uitstalling wat by uitkykpunte op heuwels, berge of ander hoë plekke opgerig word wat die rigting, en gewoonlik die afstand, na noemenswaardige landskapkenmerke aandui wat vanaf daardie punt gesien kan word.
Die topskoop is op ‘n grondpad en jou toerwa behoort dit gemaklik kaf te draf. Die uitkyk van die topskoop af is iets besonders en binne die topskoop is die bekende landmerke rondom Grahamstad asook hulle afstande opgesit vir besoekers.
Om daar te kom. (Waarskuwing: Die kortpad vanaf die Southwell pad is net op die kaart korter, dit gaan jou langer neem en jou toerwa moet ‘n redelike grondvryhoogte hê om daar teen Seinheuwel uit te beur. So, as jy nie lus is vir skrape en ‘n stamprit nie, neem die afdraai vanaf die N2.)
https://maps.app.goo.gl/RJR1nXAcgppQTsky9
Koste: Gratis.
Toegangstye: Altyd oop.




As jy meer wil weet:
- Inligtigting oor First City www.rfdiv.mil.za
- Meer oor ‘n heliograaf https://en.wikipedia.org/wiki/Heliograph
- Die video verduidelik meer van dié nuttige toestel. https://youtu.be/zhFevbuwS88?si=o–xGiY2lrEVkm5f