WANNEER TUINE GEDEEL WORD

Elke jaar, teen die einde van Oktober en begin November, vind daar in die skilderagtige Oos-Kaapse dorpie, Bedford, ‘n fees van blomme plaas wanneer die hekke van spogtuine vir die publiek oopgegooi word sodat besoekers die blomme en tuine kan bewonder. Die Bedford Country Gardens-geleentheid is amper 20 jaar oud en mense van reg oor die land gebruik die paar dae om die tuine te kom bewonder en raad uit te ruil oor hoe om jou tuin op sy beste te laat lyk as jy soms honderde kilometers van die naaste kwekery of plantsentrum is.

Afgesien van tuine in die dorp wat oop is vir besoekers, is daar ook verskeie ander roetes wat mens deur of die bergstreke van die Oos-Kaap of deur die valleie van die gebied na tuine neem.

Vir gereelde besoekers is dit al ‘n instelling om hulle dag by die Oude Fabreeck te begin waar hulle oor ‘n koppie koffie en ontbyt kan besluit oor watter roetes om te ry.

De Oude Fabreeck is ‘n restaurant en deli in Bedford en  bied ‘n verskeidenheid geregte, van pizza en hamburgers tot slaaie en sop, sowel as ‘n verskeidenheid kuns en handwerk, tuisgemaakte konfyt en plaaslike produkte. Die hoogtepunt is sekerlik die houtmeubels wat daar vervaardig en verkoop word.

Gedurende die blommefees heers daar amper ‘n outydse basaar gevoel waar jy van “flippen lekker pannekoek” tot ingelegde vrugte van die “Bedford retired butterflies” kan koop.

As jou toerwa dan nou gereedstaan, kan jy kies uit vier roetes (volledige kaarte word gratis verskaf):

  • Die bergroete (wat bietjie lank is as jy net vir een dag in die omgewing is.)
  • Die Bedford-roete in die dorp.
  • Die Kowie vallei roete
  • Die vlakte-roete.

Elke roete is uniek en wys ‘n ander deel van die omgewing se biosfeer.

As jy iets soek om aan te knaag, kan jy seker wees daar word by baie van die plase knaaggoed aangebied.

As jy van die naweek ‘n regte lang-naweek wil maak, vrees nie, daar is genoeg slaapplek en doendinge in die omgewing en nabygeleë dorpe. Gaan kyk na die argitektuur van die ou geboue in Bedford en Adelaide. Besoek ‘n wildsplaas, gaan doen viertrek-roetes, ry fiets op die plaaspaaie of sit net op die agterstoep van jou blyplek en kyk na die natuur.

3 REDES HOEKOM JY BEDFORD MOET BESOEK.

  • Waar anders gaan jy krieket kan kyk op ‘n Saterdagmiddag neffens ‘n ou werkende watermeule?
  • Die SA Rosarium het talle ou Suid-Afrikaanse oorsprong-rose wat daar bewaar word en wat jy nie sommer op ander plekke gaan sien nie.
  • Die houtmeubels wat te koop is by die Oude Fabreeck is elkeen uniek en met die hand vervaardig.

One Comment

  1. Dankie _ hierdie klink na ‘n moet beleef uitstappie!