
‘n Potpourrie van kleur en geure uit die kraakvars vrugbare landbougrond, soet reuk van druiwe, vrugteboorde en veldblomme, spoel uit alle windrigtings en begroet die besoeker in die hoofstad van die Boland, Wellington. Diè sprokiesmooi dorp, geseënd met ‘n ryk Franse Hugenote en Kaap-Hollandse karakter en kultuur, is skaars ‘n honderd kilometer vanaf Kaapstad geleë. Knus geleë in ‘n vrugbare vallei, omring deur toringhoë immergroenblou berge, begroet Wellington sy besoekers, wagtend om te verken. Trots en statig troon die Groenberg in die noordweste en ‘n ent verder, die Limietberg, die Hawequas en twee Sneewkoppe, wakend oor mens en dier wie daagliks hierdie stukkie ryk en vrugbare grond bewaar en bewerk.
Wellington het ‘n skatkis van siendinge, doendinge, en helaas, verskeie topgehalte eetplekke en winkels. Van ons land se voorste wynplase is hier geleë. Dit is ook hier waar die toeris of besoeker, ‘n watertandlekker van spys en drank kan geniet. Dit is veral Wellington se ryk geskiedenis, kultuur en argitektuur, wat die hart en siel van die besoeker of toeris met ‘n warm gevoel en nostalgie aanraak.
Met ‘n lysie van besienswaardighede om te besoek, om al die lekkerte van Wellington te ervaar, het ‘n mens tyd nodig Dit is ongelukkig iets wat nie altyd vir die besoeker of toeris beskore is nie. Dit sal jou baie pyn en lyding spaar as jy voor die tyd ‘n doenlysie op stel van plekke wat jy graag wil besoek, en dinge wat jy graag wil doen. Glo my, hier is net té veel om te sien en te doen. Met ‘n skamele dag tot my beskikking, en bewapen met my kamera, goeie stapskoene en ‘n breërand hoed op die kop, om die warm Bolandse somerhitte weg te hou, vaar ek die state van Wellington al verkennend in.
Dit is ‘n goeie idee om met die afskop van jou verkenning, eers by die plaaslike toeriste-inligtingkantoor in te loer om genoeg inligting te bekom. In Wellington, is die kantoor neffens die Moederkerk in die ou Marksaal geleë. Die Marksaal dateer terug tot en met 1847. Die gebou was eens die bymekaar kom plek vir handelaars van oral af, waar produkte uit omliggende dorpe soos Ceres, Tulbagh en Malmesbury verhandel is. Die vriendelike personeel by die toeriste-inligtingskantoor prop ‘n handvol brosjures in my hand. Passievol en met ‘n oorvloed van gasvryheid, word ek ingelig oor alles wat om in hul prentjiemooi dorp te sien. Die kaart oor die erfnisroete waarop al Wellington se geskiedkundige besienswaardighede aangedui en omskryf word, vang onmiddelik my oog. Dit was nét die regte inligting om my uitstappie met geesdrif aan te pak, en ‘n groot avontuur daarvan te maak.
MEER OOR WELLINGTON SE ONTSTAAN
Die eerste Europese setlaars het hulle in 1677 in die vallei wat as Limietvallei bekend gestaan het, kom vestig. In 1699 word 15 plase aan ‘n groepie Franse Hugenote van wie sommige kennis van wingerbou gehad het, toegeken. ‘n Wamakersbedryf is ook gevestig, en kort voor lank, was die omgewing bekend as die “vallei van wamakers”. “Wagenmakersvallei” of ook meer bekend as Val du Charron, het ook met verloop van tyd die middelpunt geword waar ossewaens van òral af, gebou en instand gehou is. Die ossewaens wat tydens die Groot Trek gebruik is, is ook hier aanmekaar getimmer.
Hierdie eerste generasie landbouers en vakmanne, het die grondslag vir die streek se ontwikkeling gelê. As gemeenskap, vestig hulle ook ‘n ryk kultuurerfenis wat vandag nog duidelik in die argitektuur en geskiedenis sigbaar is. Verskeie historiese geboue en huise in ‘n Kaap-Hollandse boustyl, is tot nasionale gedenkwaardighede verklaar en kan op die erfenisroete besigtig word.
Andrew Geddes Bains, het in die 1850s ‘n reuse projek aangepak toe hy met bouwerk aan die prentjiemooi Bainkloofpas begin het. Hierdie legendariese Skotse padbouer, kon daarin geslaag om die dorp meer toeganklik te maak. Met sy meer as 62 000 inwoners, is Wellington vandag een van die Boland se welvarendste en vooruitstrewende landboustreke. En as jy dalk gewonder het waar die naam Wellington vandaan kom, moet jy die antwoord in die anale van geskiedenisboeke gaan opsoek. Die stadsvaders van die tyd het in 1840 dit goed gedink om die dorp na Arthur Wellesley, die 1ste Hertog van Wellington, wie bekend was vir sy oorwinning oor Napoleon by Waterloo in 1815, te vernoem.
Die vestiging van die Hugenote-Seminarie in 1874, nou bekend as die Hugenote Kollege, was die eerste hoër onderwys inrigting in Suid-Afrika wat hom op die onderig van vroue toegespits het. ‘n Verdere opvoedkundige mylpaal is bereik met die vestiging van ‘n afdeling van die Kaapse Skiereiland Universiteit van Tegnologie. Vandag kan met reg gesê word dat Wellington nie net ‘n vooruitstrewende landboustreek is nie, maar ook ‘n studente dorp, waar die jeug en leiers van môre onderig en geslyp word.
Van die meer as 40 geskiedkundige plekke op die dorp se bekende erfnisroete om te besoek, het ek net tyd om die volgende op my voorkeurlysie te plaas. Ek besluit om die Wellington Museum, die Moederkerk, die Old Tannery, en die Blokhuis te besoek. Om my besoek- en doenlysie af te rond, besluit ek ook om Bainskoofpas rustig uit te ry. Die ander sienplekke en doendinge, moet oorstaan tot ‘n volgende keer. Ek skop my verkenning af met die besoek aan die Wellington Museum. Ondervinding deur die jare, het geleer dat dorpsmuseums oor ‘n skatkis van interessanthede beskik. Om deur ‘n museum te drentel, is soos om op reis in die verrre verlede van ‘n dorp te gaan.
WELLINGTON MUSEUM
Die Wellington Museum het sy onstaan te danke aan ‘n groepie toegewyde inwoners wat in die 1970’s besluit het om nie net die geskiedenis van die dorp, maar ook die mense wat diep spore in die ontwikkeling van die dorp en streek sou speel, se geskiedenis en nalatenskap te bewaar. Soos dit die geval is met die meeste museums, is die Wellington Museum ook voortdurend besig om te vernuwe en uit te brei. Museum het hul eie unieke temas. In die geval van die Wellington Museum, word die rol wat die landbou en meer spesifiek wingerdbou, asook godsdiens en onderwys, op die ontwikkeling en voortuigang van die dorp gespeel het, op ‘n kleurvolle wyse geïllustreer en vertel.



Eerwaarde Dr. Andrew Murray. ‘n Groot deel van die museum word gewy aan die invloedryke rol wat Eerwaarde Murray op die dorp gespeel het. Met sy filosofiese benadering tot hoër Christelike onderwys vir jong meisies, het hy die grondslag gelê vir tersiêre onderrig in Suid-Afrika. Die bekende Hugenote-universiteitskollege is vandag ‘n toonaangewende tersiêre inrigting en internasionaal bekend. Die besoeker kan gerus hier vir ‘n oomblik in stilte deurbring om ‘n diep geestelike blik in die persoonlike lewe van eerwaarde Andrew Murry te ervaar.
Die Egiptiese Versameling.
As jy nog nie die geleentheid gehad het om Egipte te besoek nie, maar dit op jou reisplan is om wel eendag die land van faros en piramiedes te besoek, is dit dalk heel gepas om eers ‘n lusmakertjie in hierdie museum te kom kry. Die baie interessante Egiptiese uitstalling sy unieke en rare versameling antieke oudhede gaan beslis jou reislus prikkel. In hierdie uitstalling word nie net interessante artifakte tentoongestel nie, maar word ook die leefwyse van die Antieke Egiptenare grafiese uitgebeeld. Die artifakte was eens die eiendom van die eertydse Hugenote-universiteitskollege waarna dit aan die museum geskenk is.


Kliek gerus op die skakels hiernaas om alles oor die interessanthede in die museum te lees.
http://wellingtonmuseum.co.za/
WELLINGTON NEDERDUITSE GEREFORMEERDE MOEDERKERK
Die witgeverfde Moederkerk, met sy hemelhoë kerktoring, troon statig op die besige T-aansluiting van Kerk- en Hoofstaat. Die kerk is verseker die dorp se bekendste baken en toeriste-attrraksie. Dit verg beslis ‘n fotostop tydens jou uitstappie op die erfnisroete. Voor by die ingang na die kerk, begroet die standbeeld van die legendariese eerwaarde Andrew Murray, sittende op ‘n stoel, die besoeker. Sy graf is net ‘n entjie verder daarvan af geleë, wagtend om te besoek. Stap gerus nader en betrag in ‘n oomblik van heilige stilte, die standbeeld van hierdie groot kerkman. Met my besoek kon ek ongelukkig nie die kerk van binne bekyk nie. Reëling kan vooraf getref word om toegang te verkry. Die skakels hiernaas sal jou alles oor die kerk se ontstaan vertel en die rol en invloed wat eerwaarde Murray op Wellington gehad het.

https://af.wikipedia.org/wiki/NG_gemeente_Wellington
“OLD TANNERY”
Die storie van hierdie geskiedkundige leerlooiery, bekend as die “Old Tannery”, kan beter verstaan word as ‘n mens ‘n paar treë terug in die geskiedenis stap. Ene John Henry Coaton, het baanbrekerswerk verrig toe hy ‘n leerlooiery bekend as Western Tanning & Boot Company in 1871 op sy plaas Olyvenhout net buite Wellington gevestig het. Coaton was ‘n gewone spoorwegwerker in Yorkshire, Engeland, en het sy uitgebreide kennis van leerlooiery en die maak van skoene, na Suid-Afrika gebring en dié bedryf kom vestig. Die leerlooiery het deur die jare van krag tot krag gegaan, maar so ook het eienaarskap verwissel tot en met die sluiting daarvan in 2006 toe werksaamhede onder ‘n nuwe eienaar, elders op die dorp gevestig is.
‘n Besoek aan die “Old Tannery” is beslis ‘n moet. ‘n Groepie ywerige en talentvolle entrepreneurs het deur die jare verskeie ondernemings in die kompleks gevestig. My tyd was beperk, en kon nie by al die ondernemings inloer nie.Ek noem graag enkeles wat my oog gevang het.

Bederf jouself by die “Chocolatier Farmer” met ‘n stukkie hemelse soetigheid so eg uit die Franse sjokolade tradisie. Die sjokolade en ander lekkernye is meesterlik met die plaaslike fynbos bygewerk, om ‘n eg Suid-Afrikaanse proeseltjie op te lewer.
As jy ‘n voorliefde vir ou motors en ou motorgoeters het, loer gerus by die “Classic Car Café” in. Geniet ‘n heerlike koppie koffie met ‘n ligte versnappering terwyl jy die oues uit vervloeë dae in verwondering gade slaan.



By “die 3 sister books, etc”, kan jy rond krap op soek na jou gunsteling boek of ‘n kosbare aandenking.
Glo my, na al die ronddwaal en veral op ‘n warm dag, gaan jou lus vir ‘n nattigheid, jou vining na die “Garasgista Beer Co” lei. Hier kan jy rustig sit en ‘n ligte maaltyd nuttig, terwyl ‘n smaaklike “craft beer”, of is dit nou vakmanskapbier, jou innerlike af koel.
Loer ook by die “Uil Craft Stookhuis” in en stel hul gedistilleerde “craft gin” op die proef. Geregistreerde byeboere en boere uit die omgewing, lewer heuning en olyfolie aan “Hemelnektar”. Loer gerus in en koop jou gunsteling produkte. As jy nog lus voel vir ‘n koppie boeretroos, is die “Old Tannery Coffee Shop” net die plek om by te gaan ontspan..
Kliek gerus op die onderstaan skakel wat jou na die “Old Tannery” se weblad sal neem waar jy alles oor hierdie baie interessante plek kan lees.
ANGLO-BOEREOORLOG BLOKHUIS
Besoekers of toeriste sal dalk nie die bouvallige blokhuis langs die R44 net buite die dorp sommer raaksien nie, wat nog te sê om af te draai en van nader te bekyk. Maar vir iemand met ‘n belangstelling in geskiedenis en soveel te meer, die geskiedenis oor die Anglo-Boereoorlog tussen 1899 en 1902, was hierdie blokhuis op my besoeklysie. Volgende keer as jy hier verby ry, draai gerus af en gaan verken hierdie rowwe struktuur tussen die wingerde op die plaas Versailles aan die Kromrivier. Met ‘n bietjie naslaanwerk om meer oor die blokhuis te wete te kom, sal jy vining antwoorde op al jou vrae kry en gou tot die besef kom watter belangrike rol hierdie blokhuis in die oorlog gespeel het. Die Britse Leër het as deel van sy verdedigingstrategie, verskeie blokhuise regdeur die land opgerig. Die doel daarvan was om strategiese roetes en spoorlyne tussen Kaapstad, die Vrystaat en Transvaal teen die Boeremagte te beskerm. Rondom 1901 is verskeie blokhuise in die Wellington-omgewing vir hierdie doel opgerig. Ongelukkig laat die toestand van die blokhuis veel te wense oor. Kliek gerus op die skakels hiernaas om meer oor hierdie blokhuis en ook die ander blokhuise elders in die land te lees.

https://www.theheritageportal.co.za/thread/western-cape-blockhouse
https://www.ancestors.co.za/britains-last-castles-still-guard-the-rails
BAINSKLOOFPAS
Die Bainskloofpas is verreweg een van die mooiste bergpasse in die Wes-Kaap. Vir diegene van ons wat graag ‘n bergpasavontuur wil ervaar, is hierdie pas beslis ‘n moet om te ry. Ek het die pas geensins uitdagend of gevaarlik gevind nie, maar wees tog bedag op druk verkeers- en skielike veranderde weerstoestande. Wees veral op die uitkyk vir groot aankomende vragmotors of motors wat van bane op die talle draaie verwissel. Die pas is ‘n kunswerk en lus vir die oog met die pragtige berglandskappe uit alle hoeke sigbaar. Die pad kronkel deur van ons land se mooiste natuurskoon met ‘n verskeidenheid van welige plantspesies wat vir ‘n onvergeetlike sintuiglike en strimulerende reiservaring sorg. Die pas is in 1980 tot ‘n nasionale gedenkwaardiggheid verklaar, en is op die R301 noordoos van Wellington in die Hawequasberge geleë. Die immergroen padbouer, Andrew Geddes Bain, het in 1849 met bouwerk aan die 28 km lange pas begin en gedurende 1853 voltooi.



Vir meer inligting oor die pas, kliek gerus om die volgende skakels:
https://en.wikipedia.org/wiki/Bainskloof_Pass
https://bainskloof.com/about/index.html
https://sahistory.org.za/place/bains-kloof-pass-western-cape
Ek het ook die volgende brosjures geraadpleeg wat by die plaaslike toeriste-inligtingskantoor beskikbaar is:
- Winelands Meander: Volume Three. Paarl, Wellington, Hermon, Gouda, Saron, Simondium. Your Destination Guide.
- Wellington: The Heart of the Cape Winelands: Heritage Trail.
- Wellington Museum.
- Wellington Museum: Egiptiese Versameling.
- Wellington: Dutch Reformed Mother Church
