Suid-Arika word dikwels na verwys as “n Wêreld in Een Land”. Hoe dan anders. Ons land is immers geseënd met van die mooiste natuurskoon denkbaar, beskik oor ‘n ryk natuurlewe, het ‘n verskeidenheid van unieke plantsoorte en eksotiese biosfere wat net wag om verken en ervaar te word. Heelwat van hierdie natuurskoon is soms net buite die meeste van ons se bereik omdat dit sò weggesteek is, en dit té moeilik is om te verken. Vir my is hierdie plekke in die grammadoela, en om by hierdie natuurskoon en plekke uit te kom, te sien, en te ervaar, het jy dikwels ‘n viertrekvoertuig nodig, óf anders, is dit met dapper en stapper óf te perd.
Ek kies koers Wellington toe vir ‘n belangrike afspraak. Op my roete daarheen, wag ‘n paar interessante plekke om te verken. Dit was wys om met ‘n ompad deur die Oos-Kaapse Karoo te ry, dan deur die Klein-Karoo, tot in Wellington. Dit is ‘n baie mooi en stil roete. Die besige N2 deur die Tuinroete is verseker baie mooi, maar ek verkies om dit net in ‘n noodgeval te ry. Die feit dat ek ook al soveel keer vantevore die R62 deur die Langkloof gery het, laat my besluit om die roete van my huis in Kleinemonde via Makhanda, Addo, Kirkwood, Steytlerville, Willowmore, De Rust, Oudtshoorn, Matjiersrivier, Calitzdorp, deur Seweweekspoort na Laingsburg, Matjiesfontein, Touwsrivier, Ceres, Wolseley, Tulbagh, Gouda, Hermon tot in Wellington, te volg.
Hoog op my te doen en te sien lysie, is ‘n besoek aan die Gamkaskloof Natuurreservaat, of beter bekend, “Die Hel”. Met hierdie besoek afgemerk, wag Seweweekspoort om te verken. ‘n Reis deur die Klein-Karoo moet nie afgejaag word nie. Wees rustig, neem jou tyd om die plekke te besoek en te verken wat jy voorheen dalk nog nie besoek het nie, of dalk lank terug, daar was. Die omskrywing en definisie van waar die grammadoela is, is bekend. Dus, “Die Hel”, ook bekend as die Gamkaskloof Natuurreservaat, en geleë in ‘n diep vallei in die Swartbergreeks, is dan volgens my mening ‘n teksboek geval van ‘n plek wat in die grammadoela geleë is. Dit is ook heel gepas dat hierdie stuk ruwwe en ongerepte berglandskap wat in ‘n Wêreld Erfnisgebied geleë is, ook tot ‘n Kulturele Historiese Terrein, verklaar is. Hierdie natuurgebied beskik oor ‘n ryk ekologiese en argeologiese skat wat ten alle koste vir die nageslag bewaar moet word. Die diversiteite van plantegroei wissel van renosterveld tot bergfynbos en spekboomveld. Gedurende herfs is die reservaat ‘n skouspel van kleur en ‘n lushof om te besoek met die proteas wat vol in blom staan. Verskeie wildsoorte, bobbejane, dassies en soms ook luiperds, daar is nòg meer, word hier aangetref.



Die eerste bewoners was trekboere wat hulle teen 1830 in die gebied kom vestig het en vir meer as ‘n honderd jaar, feitlik ‘n geïsoleerde bestaan gevoer. Die eerste inwoner was Pieter Swanepoel, maar later het die Cordier, Marais, Joubert, Nel en Mostert families hulle ook hier kom vestig.
Hulle was in vele opsigte, totaal en al, selfonderhoudend. Die eerste pad na die nedersetting is eers in 1962 gebou. Oor waar die naam “Die Hel” vandaan kom, is al baie oor geskryf, en ook bespiegel. Oorvertelling wil dit hê dat die naam verwys na helling of hel, betekende ‘n steil laagte of skuinste. Tòg is daar diegene, wat van mening is, dat die naam verwys na die vee-inspekteur Piet Botha se vertelling, toe hy glo die vallei in die 1940s besoek het. Botha het die nedersetting langs ‘n uiters uitdagende roete, bekend as Die Leer, bereik. Hy het sy ervaring as “hel” beskryf, vandaar dan die verwysing, na “Die Hel”. Vandag sal besoekers by aankoms by hierdie nedersetting, vinnig daarop gewys word dat na hulle as “Klowers” verwys moet word. Pieter en Marinette Joubert, huidige eienaars van Fontein Gasteplaas, sal jou met hul hartlikheid laat tuis voel, en alles wat jy van “Die Hel” wil weet, vertel.


Om hierdie stukkie paradys te bereik, en glo my, dit is seer sekerlik een van die mooiste roetes in ons land om te ry, maar moet jy in die Swartbergpas af weg draai. Dit is ‘n sielsverrykende ervaring om in hierdie deel van ons land te kan rond ploeter. Wees gewaarsku, jou rit kan ook baie uitdagend wees afhangende van weersomstandighede. Staal jou vir ‘n bestuurservaring wat die adrenalien behoorlik gaan laat pomp. As jy eers in die poort is, is daar min om plekke om in om te draai.
So terloops. Neem met aandag kennis wat op die kennisgewingbord by die ingang na die poort geskryf staan. Die sowat 40km tot by jou eindpunt onder in die kloof, bekend as “Die Hel”, gaan jou bestuursvernuf, tot die uiterste beproef, en kan dit jou so tussen twee na drie ure neem om die rit daarheen af te lê. En dan is dit weer al die pad terug. Dus. Dink twee keer voordat jy hierdie roete sommer net so planloos te wil aanpak, want jy kan jou gruwelik vasloop teen die klok, wat geduldig tyd weg tik. En voordat jy jou kom kry, is dit donker, en glo my, hier wil jy nie in die donker vasgevang wees nie. Met die naaste dorpe Prince Albert en Oudtshoorn etlike kilometer daarvandaan en met die Swartbergpas nog tussen in, is goeie beplanning nodig indien jy ‘n daguitstappie daarheen wil aanpak. Dié uwe het hom amper liederlik misgis met faktor tyd, en wie gedink het om hierdie uitstappie sommer vir ‘n vinnige heen en weer te wil aan pak. Tyd om stil te hou om die asemrowende wegslaan berglangskap gade te slaan, is min. Die meeste mense bespreek ‘n nag of drie by gewilde verblyfplekke in die poort.


Oom Koos se Klip op die Otto Du Plessispad (terloops dit is ook die amptelke naam van die pad wat by die afdraai in die Swartbergpas sy weg na “Die Hel” vind, en is vernoem na ‘n voormalige administrateur van Kaapland, Dr Otto du Plessis), is ‘n gewilde stilhouplek om die omgewing te bekyk en te ervaar. Meneer Koos van Zyl en ‘n klein span padwerkers was in 1962 besig om hierdie deel van die pad te bou toe hierdie reuse graniet rotsblok bykans die hele padwerke totstilstand gebring het.

Die adrenalien begin eers inskop wanneer jy die bopunt van Elandspas in die Gamkaskloof op ‘n hoogte van 1442m bereik het. Met ‘n afstand van nog sowat 5km na benede om die nedersetting te bereik, daal jy in ‘n kort tyd nagenoeg 480m na benede. Maar vir eers, wag daar vyf baie skerp haarnaald draaie, en sowat 49 ander moeilike draaie van wisselende omvang, wat jou bestuursvernuf, tot die uiterste gaan beproef. Hierdie deel van die roete is straks die mees uitdagendste deel van jou reis, en verg konsentrasie, kalmte, mannemoed en tyd, om vreesloos jou bestemming te bereik. Van omdraai is daar nou nie meer sprake nie, en soos hulle sal sê, hier word die kaf van die koring geskei. Van hier af is dit net die braafste onder ons wie hul bestemming met ‘n breë glimlag òf al giggelend bereik, en dan ook op die koop toe, dan al die spanning met ’n knertsie vuurwater af te sluk om die senuwees weer tot ruste te bring. Onthou, soos jy gekom het, sò moet jy weer terug. Al die pad boontoe om net weer twee uur later by die Prince Albert en Oudtshoorn kruising op die Swartbegpas aan te sluit. Wees rustig, ontspan, en geniet die skoonheid van die Swartberge.



My raad is, maak seker jy het akkommodasie by een van die plekke in die omgewing. By Fonteinplaas Gasteplaas is ‘n restaurant waar heerlike eet- en drinkgoed asook allerlei plaaslike produkte, en ook hulle bekende “vuurwater”, te kope is. Op die koop toe, sal die huidige Klowersjou meer oor die interessante geskiedenis van “Die Hel” vertel.



Jy gaan beslis ander voertuie op hierdie roete kry. Wees dus altyd op die uitkyk vir ‘n stilhou of ‘n afdraaiplek, want dit is maar min, en op sommige plekke nogal gevaarlik. ‘n Goue reël is om voertuie wat van onder af na bo aangery kom, voorrang te gee om verby jou te ry. Maak dus seker jy het ‘n veilige stilhouplek sodat die aankomende voetuig veilig verby jou kan beweeg. Die voorhandliggende rede hiervoor is dat die bestuurder in die voertuig wat hoog is, sig op aankomende voertuige het. As jy ‘n vrees vir hoogtes of engtes het, bly liefs by die huis. Die roete kan nogal vol verrassings wees, veral wanneer goeie reën geval het, of as dit gesneeu het. Dit kan dan in ‘n modderige spulletjie ontaard met vasval wat moontlik jou voorland kan wees. Ek weet daar sal diegene wees wat sal sê ja, ‘n voertuig met goeie grondvryehoogte sal die ding doen, maar my beskeie persoonlike raad is, durf Gamkaskloof eerder met ‘n erkende viertrekvoertuig aan.

Dit maak nie saak hoeveel keer jy die streek al voorheen besoek het nie, elke keer lewer hierdie pragtige omgewing met sy indrukwekkende blou berge, iets nuut op om te ervaar. Geseënd met bergreekse soos onder andere die indrukwekkende Swartberge, skimmige Kammanasieberge, lowergroen Outeniquaberge en die prentjie mooi Langeberge, bly dit vir die reisiger wat waardering vir die natuurlandskap het, ‘n voorreg om met rustigheid en teen ‘n slakkepas die Klein-Karoo te verken. Met dit als oor die berge gesê, is daar nog ook die vele passe en poorte met hul imposante rotsformasies, ravyne en omvangryke verskeidenheid plantsoorte.




Maar moenie vergeet om die pragtige Robinsonspas tussen Mosselbaai en Oudtshoon op die R328 te verken en dan natuurlik ook Noorspoort op die R329 net voor Steytlerville vanuit ‘n noordelike rigting.


Skakels en Bronne
Die skakels en bronne hiernaas is lusmakers wat jou ’n bietjie meer oor “Die Hel”, Gamkaskloof en Swartbergpas en Seweweekspoort, inlig. Daar is nog veel meer wat op die internet besoek kan word.
“Die Hel”:
https://www.gamkaskloof.co.za/index.php/8-about
https://www.capenature.co.za/reserves/swartberg-nature-reserve-gamkaskloof-die-hel
https://www.capenature.co.za/uploads/files/Resources/Gamkaskloof-Info-Sheet_2021.pdf
https://www.diehel.com/contact_us
https://tracks4africa.co.za/listings/item/w137108/die-hel-gamkaskloof-wilderness-valley
https://www.redstone.co.za/maps/map
Swartbergpas
https://princealbert.org.za/listing/swartberg-pass
https://en.wikipedia.org/wiki/Swartberg_Pass
https://en.wikipedia.org/wiki/Swartberg_Pass
https://onsknk.co.za/Businesses/SeeDo/swartbergpas/2097
Seweweekspoort
https://www.mountainpassessouthafrica.co.za/find-a-pass/western-cape/263-seweweekspoort.htm
