Dit wil voorkom of daar in Suid Afrika drie soorte museums is. Dié wat deur die Staat onderhou word en darem af en toe geld kry. Dié wat deur entoesiaste begin en in stand gehou word soos Bathurst se landboumuseum, en dan die wat deur die munisipaliteit of plaaslike regering in stand gehou word.
Makhanda is die tuiste van die Albanie-museum. Dié natuurwetenskappe museum is reg langs Rhodes-universiteit se gebouekompleks en het al die geleenthede in die wêreld om ‘n eersteklas museum te wees. Tans loop dit gevaar om in die vergetelheid te verdwyn omdat dit wil voorkom of daar weinig belangstelling is in die museums.
Die museum dateer uit 1855 en is dus die tweede oudste museum in Suid-Afrika. Die Iziko-museum in Kaapstad is die oudste en dateer uit 1825.



Maar om die museum sommer af te skryf as nie ‘n besoek werd tydens jou Kunstefeesprogram of tydens jou drenteltoer deur die Oos-Kaap nie, sal wees om die baba met die badwater uit te gooi.
Die uitstallings in die museum het uitstekende inligting. Ja, die uitstallings raak so bietjie lank in die tand, want daar is geen multimedia of interaktiewe uitstallings nie, maar die inligting wat daar gehuisves word, oor veral die Oos-Kaap en die natuurlewe, is boeiend.
Loop stadig deur die uitstalling van plante wat deur die Xhosas gebruik word vir medisyne en skoonheidsmiddels, die dinosourus-tydperk en die ontstaan van dié deel van die wêreld. Gaan lees oor die Coelacanth en die rol wat Suid-Afrika se kundiges gespeel het in die ontdekking van ‘n lewende vis van die spesie.



Kyk na die talle voorbeelde van fossiele vasgevang in rotse. As jy klaar is met die grondvloer, stap met die trappe op om die skelette van ‘n kameelperd, renoster en ‘n krokodil te sien. Die uitstalling oor die geveerdes het voorbeelde van ‘n kiwi, en die olifantvoël van Madagaskar. Daar is ook verskeie voorbeelde van eksotiese voëls wat uit ander dele van die wêreld kom. Maar die eintlike uitstalling is weggesteek op die derde vloer. Die ongewerweldes. Van skulpe tot voorbeelde van die reuse spinnekopkrappe tot die verkorte geskiedenis van Shell sal jy hier kry. Hoewel daar by van die ander uitstallings ook QR-kodes beskikbaar is, het die uitstalling talle QR-kodes om jou meer agtergrond te gee oor al die ongewerweldes – vVan die skulpdiere tot seekatte.



So gaan kyk gerus, maar as jy dink dit gaan op die Wieg van die Mensdom se standaard wees, gaan jy teleurgesteld wees. Dit gaan jou sowat ‘n uur en ‘n half uit die koue hou as jy bietjie stilte soek. As jy klaar is, stap jy sommer skuins oor na die Handmade-koffiewinkel waar jy ‘n goeie brousel kan koop wat regtig die moeite werd is. Die koffiewinkel is in die ou tronk. Waarom die tronk destyds oorkant die universiteit gebou is, kan net bespiegel word.

3 REDES HOEKOM JY DIE MUSEUM WIL BESOEK
Gaan wys jou kinders hoe lyk dit onder ‘n kameelperd se kollevel en dat hy regtig net 7 nekwerwels het.
Stap op na die spinnekop-krap en dink dit is beter om jou kanse in die Kgalagadi met ‘n luiperd in die aand te vat as met die spinnekop-krap in die donkerte.
Laat die kinders los om selfies te neem by die kameelperd of die olifant-voël.
Toegang: R20 vir volwassenes en R15 vir pensioenarisse.
Tye: Vanaf 09:00 in die oggend, behalwe Saterdae, Sondae en Openbare Vakansiedae. Want hoekom sal mense nou ‘n museum oor ‘n naweek of op ‘n vakansiedag wil besoek?
Adres: Somersetstraat 40, Makhanda.





