Deur Charl de Klerk

Om die stofpaaie van die uitgestrekte Oos-Kaap aan te durf, bly nou maar eenmaal ‘n groot lekkerte en ‘n opwindende avontuur. Meer nòg, en veral wanneer die stofpad kuslangs strek. Een sò ‘n pad, is die grondpad kuslangs deur ‘n paar van ons land se voorste melkplase. Maar dit is nie al nie. ‘n Nog groter verrassing wag op die motoris en sy passasiers deurdat dié pad vir ‘n kort afstand deur die internasionaal bekende Addo Nasionale Park kronkel. Hierdie deel van die Addo staan bekend as die Woody Cape Kusgebied en is internasionaal bekend is vir sy indrukwekkende reuse wit sandduine en duinewoud.
Die Gopse se geïdentifiseerde “Melkplaaspad”, begin by Cannon Rocks en eindig net voor Alexandria aan die westekant van die dorp, waar die pad by die R72 aansluit en dan sy weg na Gqeberha vind. Die pad is net meer as 15kilometer lank en kan met ‘n gemaklik spoed gery word. Dit by gesê, hang dit af van die weerstoestande, want in nat weer, kan hierdie pad nogal ‘n uitdaging wees vir sommige bestuurders wat nie daaraan gewoond is om op nat grondpaaie te ry nie. Die pad is as ‘n reël in ‘n goeie toestand, maar na goeie reën is daar plekke waar daar redelike diep slote is wat deur melkvragmotors getrap is en wat dan toestande vir ligte klein motors nogal uidagend maak. Sorg maar dat jy die weerstoestande dophou as jy strak die roete wil aandurf en neem jou voertuig se grondvryehoogte ook in ag. Hoe hoër die grondvryehoogte, hoe gemakliker gaan jy die pad kan aandurf.
Die Gopse het dit goedgedink om hierdie kort roete die “Melkplaasroete-kuslangs” te noem synde die pad deur ‘n paar melkplase strek. Oral langs die pad kan groot troppe melkbeeste gesien word. Dikwels is hulle aan die wei op die pragtige groenlandskap van die omgewing, en wat tiperend van die Britse Eilande se groen landskappe is, òf staan die beeste in lang toue, gereed om gemelk te word. Melkvragmotors word gereeld en ook enige tyd van die dag op die pad aangetref. Wees dus versigtig wanneer jy daar rondry.


Die pad kan van twee kante af benader word. Waar die pad na Boknes na regs afdraai, kan jy jou voertuig na die pad op die linkerkant draai en dan net aanhou ry tot by die R72. ‘n Ander keuse is om wanneer jy jou dalk in Cannon Rocks bevind, die roete vanuit die dorp te neem wat dan weer by die Melkplaaskuspad aansluit.


My raad aan die reisigers op hierdie pad, is om dit stadig aan te durf. Sorg dat jy jou kamera gereed het en ook sommer jou selfoon, om fotos te neem, want daar gaan soveel verrassings op jou wag om op beeld vas te lê. ‘n Verkyker sal ook handig te pas kom sodat jy alles om jou, hetsy die pragtige golwende heuwels of skeepsvaartuie op die see te kan besigtig. Afhangend van watter tyd van die jaar, kan jy net verras word deur walvisse wat in die see baljaar. O, en moenie vergeet om oor die see die verte in te tuur nie, want op ‘n mooi sonskyn dag, is “Bird Island” sigbaar. Dié eiland is die broeikolonie van die wêreld se grootste versameling Kaapse malgasse. Rob-eiland is weer die tuiste van ‘n broeikolonie Kaapse robbe. Die groep eiland is ‘n wêreldbekende marine bewaringsgebied. Die Addo is immers bekend as ons enigste nasionale park wat kan spog met die groot “sewe”. Op dié lys natuurlik, en wat min mense mee bekend is, is die “Walvis”, en natuurlik ook die “Miskruier”.


Die grootste verrassing natuurlik op die roete is die skouspelagtige reuse wit sandduine in die verte. Die Woody Cape Kuslyn van die Addo Nasionale Park, wat deel uitmaak van die Alexandria Duineveld, strek oor ‘n afstand van 60 kilometer, wat strek al langs die Algoabaai-kus vanaf Cannon Rocks naby Kenton-on-Sea tot by die Sondagsriviermond. Dit is die grootste en mins versteurderde duineveld langs die kus in die suidelike halfrond, en bereik van die duine, hoogtes so hoog soos dié in die Namibwoestyn in Namibië.
Die woud by Wood Cape herinner ‘n mens aan die Knysnawoude en staan ook bekend as die Alexandria-woud. Dié woud is enig is sy soort in die Oos-Kaap, en uit ‘n bewaringsoogpunt, ook uiteraard baie kwesbaar. Die woud huisves ‘n unieke verskeidenheid houtsoorte waaronder geelhout, koraal, Kaapse kiaat, witstinkhout, die Alexandria broodboom en vele meer.

Maar wat is daar nog om op hierdie roete te sien en te doen. Dit sal alles daarvan afhang hoeveel tyd jy tot jou beskikking het. Maar hier is ‘n besondere avontuur wat jy gerus kan oorweeg:
- Bespreek ‘n staptog op die bekende Alexandria Voetslaanpad. Maar wees gewaarsku, hierdie 32kilometer lange tog kan nogal uitdagend wees. Dan is daar ook die 7 kilometer lange Boomdassie Voetslaanpad wat minder vermoeiend is. Meer inligting oor die staproetes kan by die kantoor van die Addo Nasionale Park op hierdie roete verkry word. Wees op die uitkyk vir die aanwysings na die kantoor. Of, besoek die Suid-Afrikaanse Nasionale Parke se webblad: www.sanparks.org vir verdere inligting.
Bronne:
Die Gopse besoek hierdie omgewing gereeld.
Brosjure: MAPS: Addo Elephant Nasional Park with Mountain Zebra & Camdeboo National Parks: Published by HONEYGUIDE PUBLICATIONS CC. www.honeyguidepublications.com. First issue produced: March 2018.