
COLONIA DEL SACRAMENTO: VAN ‘N BESKEIE KUS NEDERSETTING, GEBEITEL UIT KONFLIK EN IDEALISME, TOT ‘N JUWEEL TOERISTEBESTEMMING
Om op vreemde grond voet aanwal te sit, en dan in die voetspore van vervloeë ontdekkingsreisigers, seevaders en krygshere te wandel, is ‘n sintuiglike ervaring wat ‘n wavrag emosies by die besoeker aanwakker. Die besef dat hierdie mense sovéel uitdagende ontberings op see en land moes trotseer om tot hier te kom, laat jou klein en nederig voel. In die aangesig van die dood, het hierdie reisigers ter wille van hul nageslag vyandelikhede, en natuurrampe oorleef. Hierdie gedagte, laat ‘n mens met baie vrae. Antwoorde vind jy vining, omdat dit opgesluit is in die talle nederig kliphuisies, klipstrate en wandelane. Alles gebou en uitgelê met wilskrag en deursettingsvermoë. In my wildste drome sou ek nooit dit kon raai om eendag een van die wêreld se mees ikoniese en minder bekende hawedorpies te kon besoek nie. Meer spesifiek, omdat hierdie dorpie as ‘n UNESCO-wêrelderfenisgebied verklaar is. Tydens my Suid-Amerika-toer, duik die geleentheid op om ‘n vinnige ekskursie van ‘n paar uur na Colonia del Sacramento in Uruguay mee te maak. Terugskouend was dit die perfekte plek vir ‘n daguitstappie, en om ook nie eens te praat van nog ‘n land se stempel in die paspoort nie.

En wàt ‘n verrassing was hierdie besoek nou nie gewees nie. Dit is ‘n dorp waar tyd spreekwoordelik gaan stilstaan het. Dit is asof jy in ‘n tydkapsule instap en die geskiedenis van die dorpie tree vir tree in al sy glorie ervaar. Elke dag om 08:30 vertrek twee veerbote, die Buquebus en Colonia Express vanuit die hawe van Buenos Aires onderweg na Colonia del Sacramento. Tot agt vaarte word per dag onderneem. Die rit van sowat 50km duur sowat ‘n uur.en vyftien minute. Die veerbote neem nie net toeriste na die dorpie nie, maar ook duisende mense wat hul daaglikse loon daar verdien. Die Buquebus waarmee ek reis, vaar grasieus oor die magtige Rio de la Plata (wat beteken letterlik ‘Rivier van Silwer”) ook in Afrikaans bekend as Rivierplaat. Die Rio de la Plata is die modderige riviermonding van die Paranà- en Uruguay-riviere en vorm die grens tussen Argentinië en Uruguay. Die samevloei van vars rivierwater en soutwater van die Suid-Atlantiese Oseaan, is die resultaat van die modderige riviermonding. Wat die Rio de la Plata nou eintlik is, sal deur jou eie beskouing daarvan bepaal word. Dit kan ‘n rivier, ‘n riviermonding, ‘n golf, of ‘n randsee wees. Sou jy van mening wees die Rio de la Plata is ‘n rivier, sal dit daarop neerkom dat dit die breedste rivier ter wêreld sal wees met ‘n maksimum breedte van 220 kilometer. ‘n Mens se persepsie van wat groot nou eintlik is, verander vinnig wanneer die veerboot oor die massa water vaar. Dit laat jou dadelik stom en klein voel, met die gedagte dat ons grootste rivier hier in Suid-Afrika, die Oranjerivier is. Die geskiedenisboeke wil dit hê dat verskeie Portugese en Spaanse seevaarders, die Rio de la Plata sedert 1512 verken en gekarteer het.


Suid-Amerika is ‘n polsende kontinent waar konflik en kolonialisme vir eeue hoogty gevier het. Nader aan Uruguay, het Portugese en Spaanse imperialisme tot kolonialisasie en bloedige konflik gelei. Colonia del Sacramento is in 1680 deur die Portugese gestig, maar nomadiese inheemse mense het die Rio de la Plata-streek reeds vir duisende jare bewoon voordat Europese setlaars daar aangekom het. Afstammelinge van hierdie inheemse mense woon vandag nog in die streek. Colonia del Sacramento is een van daardie kusdorpies langs die Suid-Atlantiese Oseaan, waar die geskiedenis nie net beperk is tot historiese en argeologiese plekke nie wat losstaan van die daaglikse leefwyse nie. Elke straat, hoek, struktuur en seeuitsig is ‘n helder herinnering van die beskawings wat eens hier floreer het.
Die Historiese Kwartier (Barrio Histórico ‘n verwysing na die oud deel van die dorp), is ‘n pragtige en goed bewaarde koloniale skat, en amptelik ‘n UNESCO Wêrelderfenisterrein. Hier tref die unieke mengsel van Portugese en Spaanse argitektuur die besoeker en toon hoe naatloos die historiese geskiedenis by die hedendaagse moderene leefwyse van inwoners ineengevleg is. Besighede soos restaurante, kafees en winkels word uit verskeie van hierdie historiese geboue bedryf en getuig van hoe die verlede en die hede ‘n plek geword het waar bestaan onaangeraak is. Die dorp het nie volgens tradisionele dorpsuitleg praktyke van die tyd ontwikkel nie, maar het toegelaat dat die vroeëre ontwikkelaars sy topografiese kenmerke van die terrein hulle lei. Voorts moes die dorp teen vyandige aanvalle beskerm word vandaar die fort wat opgerig is.

Om deur die geplavleide klipstrate en sypaadtjies van Colonia del Sacramento te dwaal, is om die onheilspellende verlede van hierdie koloniale nedersetting te ervaar. Raak jy ‘n bietjie nostalgies en gaan op ‘n verbeeldingsvlug sien jy voor jou geestesoog hoe mans en vroue van daardie tyd, elegant in snyerspakke, met hoë hoede en hoepelrokke, die straat afstap, gesprekke voer, en inkopies doen. Die graniet geplavleide strate tref ‘n mens met die besef dat hier geswoeg en gesweet is. Die vakmanskap waarmee die strate gebou is, getuig van durf en deursettingsvermoë. Wanneer jy die strate van nader beskou is dit interessant om twee uiteenlopende ontwerpe waar te neem. Die Portugese setlaars het met hul aankoms in 1680 smal strate wat deur die dorp kronkel uitgelê. Afloop water is na sentraal dreine gelei. Die Spanjaarde weer, het verskillende metodes gehad soos om byvoolbeeld om aan die kant van die strate, afleivore te bou.


Die tekstuur van die dorp tref ‘n mens onmiddelik. Die Portón de Campo, gebou in 1745 tref jou dadelik. Die ou stadspoort kompleet met ‘n hout-hysbrug en grag, moes dien om die dorp en sy inwoners teen vyandelike aanvalle te beskerm. Vir ‘n oomblik sien ek ons eie Kasteel in Kaapstad voor my geestesoog. Van die kanonne wat gebruik is om die stad te verdedig, staan vandag nog feitlik onaangeraak op die gebroke stadsmure.


Die Colonia del Sacramento Vuurtoring (El Faro) is ‘n bekende landmark op die dorp vertel die verhaal van die belangrike rol wat hierdie 34meter hoë vuurtoring in die skeepsvaart geskiedenis sou speel. Die vuurtoring is in 1857 bo-op die ruïnes van die Sint Franciskus Xavier-klooster opgerig en bied pragtige uitsigte oor die Rio de la Plata. Die klooster is in 1690 deur Portugese setlaars opgerig. Die kapel se toring sou ‘n belangrike baken vir skepe wees wat op die Rio de la Plata vaar. Die klooster is in 1705 deur ‘n brand in puin gelê. Dog was alles nie verlore nie en die toring is herbou en in ‘n vuurtoring omskep. Dele van die klooster se mure is vandag nog duidelik om die vuurtoring sigbaar.

Die Plaza Mayor is ‘n bekoorlike historiese landmark waar toeriste hulleself in die ryk kultuur erfenis en kleurvolle omgewing kan verdiep. Hierdie plein is sentraal geleë en toeganklik na al die interessante besienswaardighede. Die plein is ‘n sentrale spilpunt vir die plaaslike lewe en bied ‘n kykie in die dorp se koloniale verlede. Die boomryke strate en helderkleurige bouganvillas skep ‘n rustige, vriendelike en welkome atmosfeer. Dit is opvallend hoeveel eetplekke hier is. Oral sit besoekers luilekker en kuier. Smaaklike geregte, eie aan Uruguay, word genuttig en om dan nie eers te praat van hul heerlike wyne nie. Vir diegene wat ‘n koffie en soetigheid wil geniet, hier is meer as te kies en te keur.


As antieke kerke een van jou gunsteling moet-sien-plekke is, is Die Basiliek van die Heilige Sakrament (in Spaans: Basilica de Santisimo Sacramento) gewis ‘n besigtiging werd. Gestig in 1680 is dit een van die oudste kerke in Uruguay. Die Basiliek is in 1995 saam met die Historiese Kwartier van die Stad Colonia del Sacramento deur UNESCO tot ‘n Wêrelderfnisgebied verklaar.


Die Plaza de Los Toros was eens die arena waar skouspelagtige stiergevegte aangebied is. Ietwat verlate vandag nadat stiergevegte verbied is, is dit nou die middelpunt waar op sekere dae en tye van die week, kunsuitstallings en operavertonings gebou word. Die boustyl van die arena is deur die Moorse invloed in Suid-Spanje geïnspireer is, en kon sowat 10 000 luiddriftige toeskouers huisves.

Die Avenida General Flores is die hoofstraat in Colonia del Sacramento. Die lowergroen straat met sy menigte wildevyebome gee ‘n rustige koel atmosfeer aan die omgewing. Loer gerus tydens jou luilekker drentel uitstappie in hierdie straat by van die vele interessante boetiekwinkels in.

Een ding is baie duidelik. Om hierdie juweel van ‘n dorpie te verken, het jy beslis meer as ‘n dag nodig hê. Hier is baie meer om te sien en te doen as wat hierbo genoem is. Dink maar hoe heerlik dit sal wees om teen skemer op ‘n pragtige somersaand langs die promenade te gaan stap en later ‘n heerlike aandete by ‘n restaurant wat ‘n seeuitsig bied, te nuttig. Ongelukkig was dit my nie beskore nie. Die veerboot het gewag en ek moes huiswaarts keer, terug Buenos Aires toe. Dit was beslis die moeite werd om ‘n vinnige verkenning van Colonia del Sacrament te doen. Volgende keer kuier ek langer. Wanneer weet ek nie, maar een ding is seker, Argentinia en Uruguay sien my beslis weer in die toekoms.























Hier is net ‘n ‘n paar van my eie wenke:
- Trek gemaklike stapskoene aan. Die geplaveide granietstene maak dit nie vir almal stapvriendelik nie. ‘n Kierie of stapstok kan jou dalk help om meer gemaklik op hierdie interesanbte klipstrate te stap.
- Neem genoeg fotos om al jou herinneringe vas te lê.
- Hou genoeg Dollars of Uruguay pesos saam en moenie bang wees om jouself te bederf nie. Jy kan oral metkredietkaart betaal.
- Hier is baie om jou mee besig te hou. Besoek die toeriste-inligtingskantoor by aankoms en reël jou uitstappies en aktiwiteite.
- Dit is raadsaam om jou kaartjie vir die rit op die veerboot ‘n dag voor die tyd te koop
- Afhangende van die seisoen vertrek die veerbote tot agte keer per dag waarvan die laaste een om 20:00 uit die hawe in Colonioa del Sacramento vertrek.
Bronne: