BUENOS AIRES – STAD VAN ELEGANSIE, ARGITEKTUUR, SJARME EN ROMANTIEK

BUENOS AIRES – STAD VAN ELEGANSIE, ARGITEKTUUR, SJARME EN ROMANTIEK

Die vreemdheid van die omgewing, die gedruis van massa mense, die gekwetter van ‘n mengelmoes vreemde tale, vérg nogal baie selfdissipline om jou weg op ‘n lughawe by aankoms te vind. Ek is goed voorbereid vir dit wat in Newbery-lughawe op my wag. Met die navorsing wat ek gedoen het, is ek goed georiënteerd en weet presies wat om te doen. Die hartlikheid van die Argentyne val my onmiddelik op. Ek besef hulle, nes ons Suid-Afrikaners, is vriendelike en joviale mense. As taal, soos dit in Suid-Afrika die geval is, is kommunikasie tussen taalgroepe soms ‘n struikelblok, is daar dan net een oplossing om hierdie struikelblok te oorkom. Sit jou vriendelikste glimlag op jou bakkies en doen alles met ‘n gevoel van nederigheid en gee jou volle samewerking. En as die Spaans dalk nét ‘n bietjie te veel vir jou raak, en jy voel oorweldigend en raak warm onder die kraag, haal diep asem, raak rustig en bly in hemelsnaam net kalm. Laat die bekwame doeanebeamptes en veiligheidsmanne- en vroue, hul werk moeiteloos verrig. Die administrasie is sonder enige voorval afgehandel, en my Suid-Amerikaanse-toer in Argentinië, is op koers. Sò in die verbygaan iets op ‘n positiewe noot. Ons as Suid-Afrikaanse burgers hoef darem nie ‘n visum te hê om Argentinië binne te kom nie. Dit help baie om nie soos in die geval met in Schengen-visum aansoek, deur die pynlike proses te gaan nie. Buite die lughawe staan ons toerbus en toerleier, Florencia, gereed om ons toergroep vir die volgende drie dae enkele vàn Buenos Aires se mooiste en bekendste besienswaardighedes te wys. Net voordat ek my Buenos Aires besoek met julle deel, laat my toe om jul reislus na hierdie interessante stad effens te prikkel.

Die eerste indruk wat ‘n mens van die stad kry is die byna ongelooflike ooreenkoms met die Franse hoofstad, Parys. Dit is dan ook nie vreemd dat na Buenos Aires verwys word as die “Parys” van Suid-Amerika. Hoe dan anders. Immigrasie en koloniale invloede het boustyle soos Art Deco, Art Nouveau, Neo-Goties en Franse Bourbon na Buenos Aires gebring. Dit is opvallend om te sien hoeveel van die geboue die handewerk van Italiaanse bouers en ontwerpers is. Hul vakmanskap en kunswerke is oral sigbaar. Met sy miljoene inwoners in, word Buenos Aires beskou as die tweede grootste Spaanssprekende stad ter wêreld naas Meksikostad. Buenos Aires is ‘n bedrywige hawestad geleë aan die suidelike oewer van die magtige Rio de la Plata-rivier. Wêreld bekend vir musiek en ook die tango, is die Argentyne nét so bekend vir hul smaaklike beesvleisdisse. Hierdie disse word op oopvure gemaak. Die asada metode is hiervan die bekendste. Neem ook kennis, die Argentyne is ‘n sokkermal nasie en ook geen wonder hulle is al drie keer as wêreldkampioene gekroon.

 Hier kortliks enkele interessante besienswaardighede wat ek tydens my kort Argentynse toer, besoek het.

La Recoleta-begraafplaas

Ek wandel rustig deur die wêreldbekende Recoleta-begraafplaas. Opnuut besef ek hoe belangrik dit vir inwoners van sommige lande is om hul geliefdes op ‘n eervolle, gerespekteerde en gewaardeerde wyse ter ruste te lê. Recoleta is nie sommer net jou gewone allerdaagse begraafplaas nie. Sommige mense beskou dié begraafplaas as ‘n museum vir afgestorwenes en geliefdes Dit is ook die laaste rusplek van uitsonderlike mense waaronder presidente van Argentinië, Nobelpryswenners, stigter van die Argentynse vloot en talle militêre bevelvoerders. Waarskynlik die grootste trekpleister na die begraafplaas, en waarom miljoene toeriste jaarliks daarheen stroom, is om die laaste rusplek van die fabelagtige Eva Peròn, te besoek. ‘n Kenmerk van die begraafplaas is die uitleg daarvan. Recoleta is uitgelê in straatblokke met boomryke wandelpaaie wat vertak in sypaadjies vol marmermausoleums en grafkelders. Die grafte is versier met standbeelde in argitektoniese style soos Art Deco, Art Nouveau, Barok en Neo-Goties.

Bronne:

https://en.wikipedia.org/wiki/La_Recoleta_Cemetery

https://turismo.buenosaires.gob.ar/en/otros-establecimientos/recoleta-cemetery

Casa Rosada (Die Pienk Huis)

Een van die interessante toeristeaantreklikhede in die hartjie van Buenes Aires, is die merkwaardige pienk paleisagtige herehuis, wat jaarliks derduisende toeriste van regoor die wêreld lok. Hier kan toeriste kyk na die balkon waavandaan die beminde Argentynse president, Juan Peròn en sy vrou Evita toesprake aan massa skares gelewer het. Vandag is die gebou die amptelike werkplek van die Argentynse president en staan bekend as Casa de Gobierno “Huis van Regering” of “Regeringshuis”). Die gebou is volgens oorlewing pienk geverf, om die politieke spanning tussen die twee opponerende politieke partye te versag. Rooi was die kleur van die Federaliste en wit, die kleur van die Unitariërs. Dié twee kleure is toe gemeng, daar die pienkkleurigheid daarvan. Die gebou wat tot ‘n nasionale gedenkwaardigheid verklaar is, huisves ook ‘n museum waar memorabilia van voormalike president onder andere besigtig kan word.

Bronne:

https://en.wikipedia.org/wiki/Casa_Rosada

https://turismo.buenosaires.gob.ar/en/atractivo/casa-rosada

El Ateneo

’n Boekwinkel besoek is altyd ‘n aangename ervaring. Opgewonde om jou gunsteling tydskrif of boek te koop, stap jy by die boekwinkel in, maar word oorval deur die aromatiese geur van koffie wat swaar in die lug hang. Die versoeking is groot om jou lyf ‘n stewige skoot kafeïen  te gee en doen dit dan terstond. Baie boekwinkels maak deesdae voorsiening vir ‘n hoekie waar jy in stilte en rustig deur tydskrifte of boeke kan blaai. Nie alle boekwinkels is dieselfde nie. Ek was verstom toe ek by die El Ateneo boekwink in die hartjie van Buenos Aires instap. Hierdie boekwinkel was eens op ‘n tyd ‘n wêreldbekende stadsteater waar die elite van die stad vermaak is. Die teater het met verloop van tyd in onbruik verval, maar is in 2000 in ‘n boekwinkel omskep. Die National Geographic het in 2019 die boekwinkel aangewys as die wêreld se mooiste boekwinkel. Duisende toeriste besoek dié indrukwekkende boekwinkel daagliks, nét om sy dekor, argitektonika, kleurvolle muurskilderings en ikoniese koepel te besigtig. Hier is boeke in verskillende tale te kus en te keur. Boeke ook in verskillende vakgebiede verdeel. Inderdaad die boekliefhebber se tempel van literatuur.

Bronne:

https://en.wikipedia.org/wiki/El_Ateneo_Grand_Splendid

https://turismo.buenosaires.gob.ar/en/otros-establecimientos/el-ateneo-grand-splendid-bookstore

Galerias Pacifico

Die meeste van ons het seker al doelloos of dalk, met ‘n spesifieke doel, deur ons eie  stedelike winkelsentrums gedrentel. Vir my lyk die patroon van die sentrums almal dieselfde. Niks wat jou in verwondering laat.  In Buenos Aires egter, is daar een winkelsentrum wat geensins met enige van dit wat in Suid-Afrika voorkom, vergelyk kan word nie. ‘n Kunswerk, geleë in hartjie van Buenos Aires, is die Galerias Pacifico, ‘n landmerk in Floridastraat wat net op jou wag om te verken. Dit is nie sommer ‘n sò winkelsentrum nie. Dit is een van Buenos Aires se groot uitvoerprodukte wat deur derduisende nuuskierige toeriste besoek word. Inderdaad ‘n argitektoniese kunsskat. Die winkelsentrum is geinspireer deur die Franse winkelsentrum in Parys, die Le Bon Marchê. Vandag huisves die sentrum etlike winkels waar van die wêreld se bekendste handelsmerke te kope is. Dan ook om nie te praat van al die eiesoortige  Argentynse kosstalletjies en restaurante. ‘n Mens vergaap jou aan die unieke binneversiering van die sentrum met al sy muur- en glasskilderye. Nes die El Ateneo boekwinkel, kan jy ‘n luilekker dag hier verwyl en die Argentynse kultuur inasem.

Bronne:

https://turismo.buenosaires.gob.ar/en/otros-establecimientos/galerias-pacificohttps://wander-argentina.com/galerias-pacifico-florida-streets-shopping-mall/

https://www.batravelguide.com/2008/08/galerias-pacfico-more-than-just.html

La Boca

Hierdie eksentrieke woonbuurt, is geleë naby die Buenos Aires hawe, en is in die ware sin van die woord ‘n ope-lug museum. In Spaanssprekende lande word die term Porteña (“hawestadpersoon”) gebruik wanneer daar na inwoners van hawestede verwys word. In die geval van Buenos Aires, het La Boca die hoeksteun vir die porteña-kultuur geword. Die woonbuurt het ‘n groot rol gespeel in die ontwikkeling van die tango. Die omgewing is ‘n smeltkroes van uiteenlopende kulture. Duisende immigrante het hulle in die 20ste eeu uit Europa en hoofsaaklik uit Ligurië, in Argentinië kom vestig. Ligurië is geleë in die pragtige kusstreek van Noordwes-Italië, en staan bekend as die Italiaanse Riviera. ‘n Kenmerk van die streek is sy smaraggroen see, dramaties-hellende berge, pastelkleurige vissersdorpies en ryk kultuur. La Boca is vandag op elke toeris se moet-sien-lysie. Hoe dan anders. Stap jy in “El Caminito”, ‘n geplaveide straat met sy mengelmoes van helderkleurige huise (conventillos), kafees, galerye, geskenkwinkels, moet jy weet, jy betree die grondgebied waar sommige van Argentinië se grootste sokkerhelde hul roemryke loopbane begin het.

Dit is ook die tuiste van die Boca Juniors sokkerklub, die legendariese sokkerlegende, Diego Maradona, se tuisveld. Argentinië is reeds drie keer as die wêreld se sokkerkampioene gekroon. Wandel jy deur die strate, sien jy oral groot poppe wat oor smeeysterbalkonne leun en die daaglikse leefwyse van die plaaslike inwoners voorstel. Kleurvolle gekostumeerde paartjies vermaak toeriste op elke straathoek met sierlike tangovertonings. As jou voete jeuk, moenie vir ‘n oomblik aarsel nie. Hulle nooi jou gulhartig met ope arms uit om jou danspassies met hulle te deel. Natuurlik teen ‘n geldtjie. En as jy sò luilekker deur die kleurvolle strate slenter, en skielik oorval word met die smaaklike geur van braaivleis, en rook wat op plekke uit borrel, stap nader en gaan kyk wat daar aangaan. Jy gaan geesdriftig nader geroep word om aan verskillende vleisprodukte te kom peusel. As jou maag dan skielik begin grom en jy smag daarna om iets te eet, neem gerus jou sitplek in by een van die vele kafees vir ‘n “parrila” (steenkoolgestookte braaivleis). Dit is ‘n nasionale gereg so eie aan La Boca. Hier kan jy kies uit sappige biefstukke, organe, of bloedwors. Sit genoeg tyd op sy om hierdie besonderse woonbuurt te ervaar. Wanneer die donkerte kom, is dit volgens kenners vir jou eie veiligheid, tyd om huiswaarts te keer.

Bronne:

https://en.wikipedia.org/wiki/La_Boca

https://turismo.buenosaires.gob.ar/en/recorrido/la-boca

https://www.expedia.com/Buenos-Aires-La-Boca.dx6270369

https://turismo.buenosaires.gob.ar/en/article/discovering-la-boca%E2%80%99s-untold-stories

Die Metropolitaanse Katedraal van die Allerheiligste Drie-Eenheid van Buenos Aires

Ek het die voorreg gehad om in die verlede verskeie katedrale, moskees, christenkerke, ortodokse kerke, Boeddha tempels asook Hindoe tempels regoor die wêreld te kon besoek. Elkeen van hulle het sy eie besonderse indruk gelaat. My besoek aan die Metropolitaanse Katedraal van die Allerheiligste Drie-Eenheid van Buenos Aires, het my net weer laat besef dat die geestelikes van weleer, formidabele mense was wat niks ontsien het om die boodskap van hul geloof aan hul onderdane te bring nie. Hierdie besonderse katedraal met sy uitsig oor die hoofstadsplein, die Plaza de Mayo, word uitgeken aan sy fasade wat bestaan uit ‘n hoë gegewelde deurtoegang (portiek) en twaalf kolomme met ‘n driehoekige spitsversiering (fronton) bo-op. Die voorkoms herinner aan ‘n antieke Romeinse tempel eerder as ‘n katerdraal. Vir diegene wat miskien al die strate van Parys deurkruis het, en heel toevallig verby die Palais Bourdon (die Laerhuis van die Wetgewende Vergadering van die Franse Parliament) verby geloop het, sou onmiddelik die ooreenkoms met hierdie katedraal raaksien. Die katedraal is ‘n tipiese Latynse kruisgebou met ‘n dwarsskip en driesydige gange met sykapelle wat deur gange verbind word. Benewens al die fyn kunswerke en beelde aan die binnekant van die katedraal, huisves dit ook die oorskot van die formidabelde bevryder van Argentinië, Chile en Peru van Spaanse oorheersing, Generaal José de San Martin. Sy oorskot is in ‘n mausoleum geplaas saam met nog twee generaals wat aan die bevrydingstryd deelgeneem het en word deurentyd deur twee soldate van die Argentynse weermag, bewaak.

Bronne:

https://en.wikipedia.org/wiki/Buenos_Aires_Metropolitan_Cathedral

https://turismo.buenosaires.gob.ar/en/atractivo/metropolitan-cathedral

https://www.gpsmycity.com/attractions/metropolitan-cathedral-18266.html

Holocaust Museum

As jy ‘n belangstelling in museums het waar die geskiedenis van ‘n land uitgebeeld word, kan jy gerus die Buenos Aires Shoah Museum besoek. Geleë in een van Buenos Aires se mees historiese woonbuurtes, Recoleta, vind jy hierdie merkwaardige museum wat enig van sy soort in Suid-Amerika is. Dit nie sommer net ‘n museum nie. Dit is ook ‘n gedenkteken en ‘n morele herinnering aan die gebeure rondom die Tweede Wêreldoorlog. Die impak wat die gruweldade van die oorlog ook op Argentinië en die hele Suid-Amerika gehad het, word hier onder die slagspreuk “Om te onthou is om die herhaling van geskiedenis te vermy, deur fotos, artifakte en dokumente uitgebeeld en vertel. Ek kon ongelukkig nie die museum besoek nie omdat dit ‘n Vrydag was (Sabat). Ek moes maar te vrede wees om hierdie rooi baksteen gebou van buite te besigtig, en gewonder wat alles daar binne vertoon word. Die museum is in 2006 as ‘n Plek van Kulturele Belang verklaar. Bronne:

Buenos Aires Obelisk

In die hartjie van Buenos Aires troon ‘n ikoniese obelisk, statig met ‘n boodskap van kragdadigheid aan elke inwoner in Argentinië.  Die Obelisk van Buenos Aires pruik op ‘n hoogte van 67,5 meter in die middestad, en is geleë in die Plaza de la República by die kruising van die laan Corrientes en 9 de Julio. Die obelisk is in 1936 opgerig om die vierhonderdjarige bestaan van die eerste sitting van die stad te herdenk.

Bronne:

https://en.wikipedia.org/wiki/Obelisco_de_Buenos_Aires

https://turismo.buenosaires.gob.ar/en/otros-establecimientos/obelisk

Ervaar die ritmiese beweging van die tango

Om ‘n tangovertonig be te woon, is beslis ‘n aangename ervaring. Jy word opnuut weer daaraan herinner watter warm en hartlike mense die Argentyne is. Die tango met sy ritmiese bewegings getuig van dansers se liefde vir passie en vermaak. Moet ook nie vergeet hoe fiks hulle moet wees om al die danspassies te kan uitvoer nie. Die lirieke getuig van nostalgie, hartseer en klaagliedere oor verlore liefde en word verdiep met verskeie melodiese instrumente. Die oorsprong van die tango is nie altyd so glashelder nie, maar dit word wyd aanvaar dat hierdie dansvorm wat ‘n musiekale genre met gepaardgaande sosiale dans is, in die 20ste eeu in die voorstede van Buenos Aires ontstaan het. Tango het volgens kenners ontwikkel uit Afro-Argentynse dansvorme. Uitdrukking is gegee aan die politieke stryd deur die swart gemeenskap. Die tango was ook geliefd onder baie immigrante wat in krotdorpies gewoon het en hulle sosio-ekonomiese situasie wou verander.  Daarbenewens het die Argentynse tango-lirieke nederigheid as hooftema aangebied en die massakultuur het tango bevorder om nederigheid as nasionale identiteit aan te moedig. Die kuns van tango is vandag gevorderd met die toevoeging van moderne elemente en is internasionaal ‘n gewilde dansvorm. Ek het die geleentheid gehad om ‘n tango-vertoning, met ‘n smaaklike tipiese Argentynse driegangmaal te geniet. Wát ‘n aand was dit nie. Die dansers en kunstenaars het die gaste behoorlik in verwondering en bekoring gehad, verál toe ‘n sangeres die alombekende “Don’t Cry For Me Argentina” met passie gesing het. Almal van ons was op die agtervoete met ‘n dawerende applous.

Bronne:

https://turismo.buenosaires.gob.ar/en/article/passion-tango

Floralis Genérica

Die Floralis Genérica is ‘n beeldhouwerk van staal en aluminium wat op die Verenigde Nasies-plein in Buenos Aires geleë is en deur die argitek Eduardo Catalano geskenk is. Volgens Catalano versinnebeeld die blom “’n sintese van al die blomme en is terseldertyd ‘n hoop wat elke dag by opening hergebore” word. Die blom weeg 18 ton en is 23 m hoog.’n Gemeganiseerde elektriese stelsel stel die blom in staat om met sonsondergang toe te maak en weer in die oggend om 08:00 oop te maak.

Bronne:

https://en.wikipedia.org/wiki/Floralis_Gen%C3%A9rica

https://turismo.buenosaires.gob.ar/en/otros-establecimientos/floralis-gen%C3%A9rica

https://www.lib.ncsu.edu/news/special-collections/discovering-floralis-generica-buenos-aires-argentina

Die Puente de la Mujer of “Vrouebrug”

 Hierdie ongewone roterende voetbrug vir Dok 3 van die Puerto Madero-kommersiële distrik stop jou vir ‘n oomblik in jou spore. Bestempel as ‘n vrydraende kabelbrugtipe is dit terselfdertyd ook ‘n swaaibrug, maar ietwat ongewoon in sy asimmetriese rangskikking. Die 170meter lange voetgangerbrug weeg 800 ton. Die brug het sy naam te danke aan die aantal strate in die Puerto Madero-distrik wat vrouename het.

Bronne:

https://en.wikipedia.org/wiki/Puente_de_la_Mujer

https://turismo.buenosaires.gob.ar/en/otros-establecimientos/puente-de-la-mujer

Vriendelike breë strate, parke en monumente

Buenos Aires is ‘n stad wat ‘n mens met dapper en stapper moet verken. Dit is ‘n enorme groot stad, met tallose besienswaardighede, historiese monumente lowergroen parke en gerieflike breë strate wat sorg dat stadsverkeer seepglad verloop. Elke straat of park het sy eie verrassing en bekoring. In hierdie artikel belig ek net op enkeles, daar is honderde ander.

Mei-Piramide

As die oudste nasionale monument in Buenos Aires, simboliseer die monument die gebeure tydens die rewolusie in Mei 1810 wat die weggebaan vir die onafhanklikheid van Argentinië. Geleë in die Plaza de Mayo.

Monument vir Generaal José van San Martín en die Leërs van Onafhanklikheid

Hierdie monument van generaal José van San Martin is in die middel van die San Martin Plaza geleë. Hierdie fenominale krygsman word as die vader van Argentinië beskou nadat hy nie net sy land nie, maar ook Peru, Chili en Uruguay van Spaanse heerskappy bevry het.

Ikoniese strate en boulevards

Twee strate wat ek besonders interessant gevind het, is 9de Julio en Calle Florida. 9de Julio word as een van die breedste strate in die wêreld beskou en strek in breedte bykans 140 meter met nie minder as vier lane aan weerkante elk met vier bane.  Voorwaar ‘n gesig om te aanskou wanneer derduisende motoriste in spitsverkeer, soggens werk toe en saans huiswaarts keer. Die straat is belyn met talle monumente, sirkels en fontuine. Die boomryke straat verleen ‘n rustige stapervaring temidde van verby flitsende verkeer. Calle Florida is ‘n besige voetganger wandellaan met honderde boetiekwinkels en kafees. Die indrukwekkende Galerais Pacifico winkelsentrum met sy unieke boustyl is ‘n groopt trekpleister in die stad.

Parke

‘n Kenmerk van Buenos Aires, is die groot aantal openbare parke. Hul lowergroen voorkoms skep ‘n sagte en vriendelike karakter van die stad en is uiters gewild onder inwoners.

Bronne:

https://www.buenosairesfreewalks.com/what-to-see/monuments-of-buenos-aires

Die hondewandelaars van Buenos Aires (ln Spaans: paseadores de perros)  

Buenos Aires is ‘n stad vol van verrassings. As dit nie die kultuurskatte is wat jou meevoer nie, dan is dit sy ryk kulinêre gebruike. Hoe dit ook al sy, Buenos Aires se bekoring vind jy in sy leefwyse. Hoe hierdie land en sy mense deur die eeue in ‘n kosmos van kulture oor grense heen gevorm is, is vandag duidelik sigbaar wanneer jy te voet deur die pragtige Buenos Aires se strate drentel. Dit is veral in die meer gegoede woonbuurtes soos Parlermo en Recoleta met hulle pragtige tuine waar jy ‘n unieke verskynsels waarneem wat nie sommer in enige wêreldstad voorkom nie. Vir ‘n eerste besoeker soos myself, was die honde-wandelaars of ook genoem, honde-uitlaters ‘n baie interessante verskynsel. Om ‘n man of dame met groepie van tot 8 honde aan leibande op sypaadjies en in parke te sien loop, het my oë laat rek. Hierdie alledaaglikse verskynsel is ‘n status simbool. Vermoënde mense wat heeldag in die werkplek vasgevang is, neem ten duurste ‘n paseaperroin diens om sy of haar dier te versorg en vir ‘n wandeling te neem. Hiertydens kry jou geliefde viervoetige die geleentheid om vrylik in ‘n park van sy energie ontslae te raak en ook met ander viervoetiges te sosialiseer. Dit is ‘n status simbool vir porteños (inwoners van Buenos Aires). Dit is nogal mooi om te sien hoe gedissiplineerd hierdie honde is. Geen straatbakleiery, geblaf of moleste nie wat ek kon waarneem nie. Dit blyk dat hierdie nogal ‘n duur storie kan wees en ‘n goeie inkomste vir die honde-wandelaars kan wees wat dit as ‘n beroep beoefen.

Bronne:

https://www.buenosairesfreewalks.com/what-to-see/dog-walkers-in-buenos-aires

https://www.saexpeditions.com/blog/post/paseaperros-the-dog-walkers-of-buenos-aires

Yerba Mate, ‘n unieke Suid-Amerikaanse kruietee drankie

Dink ‘n mens aan tee, kom die gedagte onwillekeurig op aan ‘n oomblik waar jy rustig na ‘n dag se gewerkskaf, in ‘n gemakstoel sit en in die verte staar en heilsaam teug aan jou gunsteling drankie. In Suid-Afrika, met sy bekende rooibostee en ook talle ander soorte ingevoerde tees, is die drinkgewoonte om tee hier rondom tienuur die oggend of saans net voor slaaptyd te drink, ‘n algemene ritueel. Teedrink is dalk nie op almal van ons se daaglikse lysie van verfrissing nie, maar in Argentinië en verskeie ander Suid-Amerikaanse lande, is die drink van yerba mate, ‘n daaglikse ritueel wat kultusstatus bereik het. Dit is ‘n simbool van die Argentyne se identiteit Yerba mate is ‘n plantspesie van die hultsgenus en is inheems aan Suid-Amerika en vernoem na die Franse plantkundige, Augustin Saint-Hilaire. Die blare van die plant word in warm water geweek om ‘n drankie bekend as maat te maak. ‘n Kenner van tee is ek nou beslis nie, maar tog was my eerste onmoeting met hierdie onbekende drankie nogal verfrissend.Terloops, yerba mate is ook hier by ons in Suid-Afrika verkrygbaar.

Bronne:

https://en.wikipedia.org/wiki/Yerba_mate

Leave a Comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.