“EK BOER MET BOME”

Emosies oorweldig hom nog elke dag omdat hy dit steeds nie kan glo dat hy as ‘n jong “township boy” dit kon regkry om sy lewensdroom uit te leef nie– niks anders as om met bome te boer nie.

Wanneer die 40-jarge Siyabulea “Siya” Sokomani elke oggend wakker word, soms met trane in sy oë, is dit nie omdat hy oor iets hartseer is nie, maar omdat hy dankbaar is vir dit wat alles met hom tot dusver op sy lewenspad van 40 jaar gebeur het. Sy komvandaan wêreld was een waar hy as ‘n jong lewenslustige seun, vasgevang was in ‘n huisie in ‘n krotbuurt midde in Khayelitsha op die Kaapse Vlakte. Vandag laat hy sy twee kinders elke dag duidelik verstaan waar hulle vandaan kom, en dat hulle niks in die lewe as vanselfsprekend moet aanvaar nie.

Met die ondersteuning van mentors uit alle sfere van die samelewing, kon hy dit regkry om met ysere wilskrag en deursettingsvermoë ‘n lewensveranderde omwenteling te ondergaan. Hy het elke geleentheid aangegryp, en met groot dryfkrag en opgewondenheid, om ten alle koste sy lewensdroom van bome plant, en daarmee  boer te vervul. Vandag, is Siya ‘n eerste generasie boer, die trotse alleeneienaar van die bekroonde Nguni Nursery net so ‘n paar kilometer buite Grahamstown (Makhanda) en lewer hy bome aan talle groothandele kwekerye en word sy bome selfs uitgevoer. Dit is dus geensins ‘n verrassing dat hy in 2025 ‘n finalis vir Oos-Kaap Agri se Jongboer van die Jaar kompetisie is nie.

Hierdie minder bekende boerderaktiwiteit, om met bome te boer, en wat ‘n mens se asem wegslaan, is genestel op ’n plaas van net meer as 130ha teen die suidelike hange van die Suurberg, ‘n entjie wes van die geskiekundige Oos-Kaapse universiteitdorp, Makhanda. Hier boer en woeker hierdie merkwaardige jong, gemotiveerde en beginselvaste entrepreneur, daagliks met ‘n verskeidenheid soorte bome en plante. Die passie waarmee Siya boer is aansteeklik, en elke fasset van sy boerdery benader hy met sorg, oorleg en nederigheid, want sê hy, “die natuur hou jou nederig en op jou knieë”.

Nguni Nursery is ‘n gesertifiseerde kwekery wat op die groothandelsmark fokus, en hom toespits op die kweek van by uitstek inheemse bome en struike. Die bome waarmee hy hier by Nguni Nursery boer, vind hul weg na kwekery regoor Suid-Afrika, asook na verskeie oorsese kliënte. Sy boerdery sukses het tot dusver gemaak, dat hy vandag as een van Agri Oos-Kaap se suksesvolste jong opkomende boere in die provinsie is. Nie alleen word sy sukses in die Oos-Kaap en die res van die land besing nie, maar ook regoor die wêreld.

Maar wie is Siya?

As ‘n boorling van Khayelitsha se informele nedersetting op die Kaapse Vlakte, het die jeugdige Syia Sokomani groot drome gekoester om eendag met bome te boer. As die oudste van twee kinders, is hy vandag steeds baie bewus hoe moeilik die pad was wat hy moes stap om te kom waar hy vandag is. Sy ouers het dit nie breed gehad nie en was ook net doodgewone huiswerkers.Tog het hulle daarvoor gesorg dat daar altyd kos op die tafel is, en nie een van die familie het saans honger gaan slaap nie. Hy is egter intens bewus van die invloed en effek wat die “struggle” van die verlede op hom gehad het, maar terselfdertyd, ken hy ook sy eie “struggle” omdat hy slegs blootgestel was aan die leefwyse en omstandighede waar hulle gewoon het. Hy het eers toe hy so 11/12 jaar oud was, en toe hy meer uit die huis begin weg beweeg het, besef hulle leef op die rand van armoede. Sy gewaarwoding van wat in die nedersetting, en wat ook in die onmiddelike omgewing gebeur, en daarmee saam die omstandighede waarin hy hom bevind, het sy denke, oordeel en toekoms onwillekeuring gevorm.

Ek raak omgewingsbewus

Soos met baie kinders die geval, het die lewe ook ‘n kronkel paadjie met Siya gestap. Hy moes hom staal teen die slegte invloed van leerders wat verval het in dwelmgebruik en bende aktiwiteite. Van skoolgaan was daar haas geen sprake van nie. Onderwysers het leerders baie duidelik, en ook deurentyd laat verstaan, dat hulle “township kinders” is en nie veel in die lewe sal bereik nie. Klaskamers was tot oorlopens toe vol met tussen 60 en 80 leerlinge per klas. Sinvolle skoolonderrig kon in hierdie chaotiese omstandighede beswaarlik plaasvind.

 ‘n Ommekeer het gekom toe, soos Siya dit beskryf het, ‘n wonderlike en toegewyde onderwyseres, Me. Ronel Baker, daar kom skoolhou het. Nie lank nie of sy stig ‘n klub om leerders meer oor die natuur en omgewing bewus te maak. Met haar inspirerende en aansteeklike benadering rakende onderrig, moedig sy leerders aan om hul eie omgewing en die natuur rondom hul woorgebied te verken en te ervaar. ‘n Besoek aan die Kirstenbosch Botaniese Tuin in Kaapstad, sou ‘n blywende indruk op Siya maak. Sy belangstelling in plante en bome het intens pos gevat. Deelname aan die burgemeester se natuurbewarings kompetisie het gevolg, en die skool se wenspan, het die geleentheid gekry om teen omliggende skole mee te ding. Dit was hier waar Siya tot sy groot verbasing, kennis geneem het van hoe mooi die omgewing en natuur by van Kaapstad se spogskole is, met bome, struike, kleurvolle blomme wat welig groei, en groen grasperke wat die omgewing verder ophelder. Die natuurbewaringsklub het ook skole in Lavender, Langa en Kleinmond besoek waar hulle mede-leerlinge meer oor die verskillende plant-, boom- en struiksoorte sou vertel.

Van toe af was skool vir die leergierige Siya lekker, en vol opwinding. Siya besef vandag dat as dit nie vir me. Baker was nie, hy net soos baie van sy mede skoolmaats, in ‘n diep gat vol versoekings soos alkoholmisbruik, die rook van dagga en die gebruik van dwelms, kon beland. Volgens Siya moet ‘n mens hard wees om die regte pad te loop. Bome het as te ware sy lewe gered en verander. Sy belangstelling om meer oor wat in die natuur en in die omgewing gebeur, het vlamgevat en hy het alle denkbare geleenthede aangegryp om hom met kennis te bemagtig. In die tye wat hy niks gehad het om te doen nie, het hy, op sy eie, bome en struike gekweek en verkoop.

Een van die kweektonnels. Foto: Louis Kirstein

Met wilskrag, deursettingsvermoë en die ondersteuning uit verskeie oorde, het hy matriek geslaag en sy studies in tuinboukunde aan die Kaapse Technikon aangepak. As student werk hy by bekende kwekerye en kry hy waardevolle onderving wat in die bedryf plaasvind. Omstandighede in sy derde jaar bring mee dat hy nie verder met sy studies kon aangaan nie.

Ek moet uitspring en gaan werk

Sy lewenspaadjie na die opskorting van sy studies loop ’n paar draaie waarvan sommige voorspoedige en ander weer rampspoedig was. Hy kry op ‘n olyfplaas in die Robertson omgewing werk en word hy blootgestel aan die olyfbedryf en leer al die tegnieke hoe om olyfbome te snoei, versorg, te oes en te kweek. Later werk hy op dorpe soos Robertson, Worcester en die Paarl as ‘n verkoopsman en word blootgestel aan verskeie vertakkings van die landboubedryf. Om ondervinding op te doen moes hy op die harde manier leer om aanvaar te word, al het dit beteken hy moet saam die “manne” Rum en Coke drink om te bewys wat in hom steek. Volgens Siya oordeel mense jou op grond van hoe jy jouself handhaaf en waartoe jy in staat, asook watter bydrae jy tot jou werksomgewing kan maak. Dit verg harde werk om jouself elke dag te bewys, en ongelukkig volgens hom, is baie mense in die land nog steeds vasgevang in die verlede, verdeeld en bevooroordeeld.

Siya by een van die boompies wat nog in die kweektonnel is. Foto: Louis Kirstein

Hy bedank sy werk. Van op moedverlore se vlakte sit, opgee en in sy sorge vergaan, is daar geen sprake. Hy besluit om sy eie kwekery te begin. Vining leer hy ‘n entrepreneur moet ‘n dik vel hê om te kan oorleef. Elke dag is vir die entrepreneur ‘n uitdaging, en as jy in die oggend opstaan, moet jy jouself dryf en die druk kan hanteer. Siya meen die entrepreneur word elke dag om elke hoek en draai met ‘n “nee” gekonfronteer en geteister. Struikelblokke word van alle kante in jou pad gerol om te verhinder dat jy sukses behaal. Dinge by die kwekery loop skeef en hy word bankrot.

Om sy kop skoon te kry, vertrek hy na Port St Johns aan die Wildekus waar hy ‘n ruk lank vertoef. Hy hou hom besig om die plantegroei in die omgewing te leer ken en ontdek verskeie interessante inheemse plant- en boomsoorte. Vuur en vlam en gevul met ‘n magdom nuwe kennis oor die natuur, begin hy by ‘n kwekery in Umtata te werk. Later kry hy die geleentheid om die kwekery te koop, maar verkoop dit om eerder op ‘n ander passie, naamlik landskapargitektuur te fokus. Hy beleef ‘n terugslag en keer terug Kaapstad toe. Op moed verlore vlakte en jammer vir homself, besef Siya hy moet uit die donker put kom, hom regruk, die lewe in die oë kyk en van vooraf oor begin.

Sy redding kom toe hy by ‘n onderneming betrokke raak om kompos op ‘n kommissie-basies te bemark en te verkoop. Hy doen ‘n aantal kort kursusse in bemarking, entrepreneurskap, finansies asook kursusse om meer oor die kweek van bome en struike te leer. In hierdie tyd ontmoet hy mense van uiteenlopende agtergronde en werksaamhede en sien hy in watter interessante en innoverende besighede hulle betrokke is. Siya kan sy oë nie glo hoe eenvoudig die konsepte van sommige van die entrepreneurs se besighede is nie. Hy besef op eens sy konsep, om met bome te boer, is uniek. Hy voeg die daad by die woord, en beraam planne om sy droom na te streef.

“Ek wil op my eie voete staan”

Met die wete dat as hy weer in die kwekerybedryf betrokke wil raak, hy ‘n mentor nodig het wat hom in die regte rigting kan stuur, raak hy betrokke by ‘n maatskappy, “Shoots and Roots” waarin hy later aandele sou koop. Op ‘n klein lappie grond, begin hy om groente te verbou, wat hy met groot sukses op die Kaapse Vlakte verkoop. In ‘n stadium bekom hy ‘n kontrak om 120 000 spekbome te kweek, wat sy besigheid ‘n groot finansiële hupstoot gee. Desnieteenstaande die onttrekking van die hoof aandeelhouer in die belange van “Shoots and Roots” gaan Siya voort met sy aktiwiteite om sy belange in ekoprojekte uit te brei.

Hy wil sy sakebedrywighede uitbrei en vir die doel benodig hy meer lanbougrond. Die onbekostigbaarheid van landbougrond in die Wes-Kaap noop Siya om elders in die land na beskikbare grond te soek. ‘n Internet soektog lei hom na ‘n plaas net buite Makhanda en met ‘n lening van die Afrika Unie koop hy ‘n onbewerkte stuk grond wat omring is deur van ons land se mees eksotiese privaat wildreservate. Dit het nie lank geneem om die lening af te betaal nie en Siya en sy arbeidsmag van 12 permanente werkers dolwe die landskap om, en vestig sy florende kwekery waar hy vandag met bome boer.

“Ek besoek die VSA in 2022”

‘n Afrika insiatief deur die voormalige Amerikaanse Sekretaris van Buitelandse Sake, genl. Colin Powell, soortgelyk as dié Nelson Mandela Stigting en Eisenhower Stigting, gee ’n handjievol vindingryke jong entrepreneurs die geleentheid om Amerika te besoek. Hier kon hulle by programme inskakel om hulle in hul veld van belangstelling te bemagtig. Siya kry die geleentheid om 11 State in die VSA te besoek waar hy waardevolle kennis in natuurbewaaring, die landbousektor asook tuinboubedryf verkry.

“Ek koop my plaas”

Terug op eie bodem, woeker Siya en sy span werkers wat hy self opgelei en bemagtig het, daagliks ywerig om verdere hoogtes in die landboubedryf te bereik. Die nethuise en tonnels het hy alles self opgerig. Van regeringskant het hy na vele probeerslae geen steun gekry nie, behalwe ‘n ingevoerde tonnel vanuit Sjina wat hom aangebied is. “My vriende in die landboubedryf dink omdat jy swart is, is dit is maklik om finansiële steun van die regering te kry, maar nee, die papierwerk is baie erg en ontmoedig die meeste voornemende entrepreneurs. Die man in die straat kan nie al die papierwerk vir aansoek om bystand, hanteer nie, en gooi tou op”, vertel Siya.  Volgens hom moet ‘n mens maar net aanhou en aanhou.  Sy raad aan jongmense is dat hulle liefs ‘n ander werk moet soek as hulle dit nie kan hanteer nie. “Die rompslomp van regeringskant is vir die meeste entrepreneurs ‘n doodsteek”, sê hy.

Kwekelinge
Kwekelinge

Waar kom die kwekery se naam vandaan?

Met die naam van die kwekery, bring Siya hulde aan die Nguni volke, wie bekend is as die Xhosa, Zoeloes Swatis en Ndebeles, en wat as landbouers en entrepreneurs honderde jare gelede uit Sentraal-Afrika afbeweeg het na waar hulle vandag gevestig is.

Aanvaarding deur die landbougemeenskap

Siya vertel hy is nog nooit in sy lewe so ondersteun en gehelp soos deur die mense in die landbougemeenskap nie. Sy buurman het hom van die voordele om by Agri Oos-Kaap aan te sluit vertel. Vandag pluk hy die vrugte van sy deelname aan georganiseerde landbou. Hy spog immers dat hy een van Agri Oos-Kaap se Jongboer van die Jaar finaliste is. ‘n Merkwaardige prestasie vir ‘n energieke eerste generasie boer.

Hy vertel met geesdrif van die dag toe hy na ‘n landboudag in die omgewing genooi is. Hulle was net twee swart boere, maar is met ope arms ontvang. Siya kan ook nie uitgepraat raak oor die gesamelike kennis van die al die boere saam, wat die landboudag bygewoon het nie. Hy moedig mede swart boere aan om by georganiseerde landbou en organisasies betrokke te raak. Hierdie boere moet hulle losmaak van hul assosiasie met die politiek en eerder daarop fokus om kos vir hul familie op die tafel te sit. Siya meen of dit nou boere of entrepreneurs is, polities kan daar van mekaar verskil word, maar dit moet onthou word dat almal deel van ‘n gemeenskap is wat mekaar nodig het.

Watter raad het Siya vir jong voornemende entrepreneurs.

“Begin net met dit wat jy het”, vertel Siya. “Baie ruimte bestaan vir jong voornemende entrepreneurs, om geleenthede te ontgin, veral met die uitdagings en krisis rondom klimaatsverandering. Vind ‘n niche mark, doen navorsing om te bepaal of jou idee lewensvatbaar is en pak die bul by die horings. Jong mense will altyd by Siya weet wie het hom finansier, en dan kom die antwoord wat hulle nie verwag het nie:” Ek het my eie bronne gevind en ontgin”.

Volgens Siya moet die regering meer doen om ‘n klimaat van leer by skole te skep wat dit vir leerlinge moontlik maak om hul volle potesiaal te kan ontwikkel. Hy meen die land het ook onderwysers nodig wat leerlinge met passie kan onderrig, nuuskierigheid by hulle kweek en ontwikkel. Dit is iets wat volgens hom baie tekort skiet in staatskole, terwyl in privaatskole leerders floreer. Jong opkomende entrepreneurs moet weet wat hulle plek in die gemeenskap is, weet watter behoeftes en tekortkominge bestaan en daarvolgens hul besigheidsplanne ontwikkel. Leerders moet ook ’n vaardigheid aanleer omdat nie almal akademies sterk is nie. Siya meen daar bestaan baie geleenthede vir voorneme entrepreneur in die Oos-Kaap en daar hoef nie net ‘n op pynappelboerdery, veeboerdery, sitrusproduksie en grondgewasse gefokus te word nie, omdat daar ook geleenthede in twee onontginde produkte naamlik turksvye en aalwyne bestaan. Vir hierdie rede is dit voordelig om by ‘n organisasie soos Agri Oos-Kaap aan te sluit en in die organisasie se programme betrokke te raak.

My toekoms visie

Met die nodige tegnologie waaronder ‘n hommeltuig, is Siya besig om te bepaal watter plant-en boomsoorte op die plaas voorkom. Op die plaas teen die hange van die Suurberg is daar ‘n woud wat oortrek is met dennebome. Dit is hier waar hy ‘n natuurlike woud van inheemse bome en plante wil hervestig.

Van Siya se boomalwyne. Foto: Louis Kirstein

Verder beplan hy om ook om die geleentheid wat agritoerisme bied, te ontwikkel. Sy plaas word deur verskeie van die land se mees eksotiese privaat wildreservate omring. Hierdie reservate is baie gewild, onder veral oorsese toeriste. Om betrokke te raak in die oorsese toeristemark, beplan Siya om ‘n aantal chalets op te rig waar studente kan tuisgaan en betrokke raak in die aktiwiteite op die plaas. Volgens Siya is daar ‘n behoefte onder buitelandse student om in projekte in Afrika betrokke te raak en sodoende bepaalde kennis in gemeenskappe terug te ploeg. Ekotoerisme bied ‘n gulde geleentheid aan sulke studente om in die toekoms teen sowat $60 per nag by Nguni Kwekery se eko-aktiwiteite betrokke te raak. Studente kan vir twee weke of selfs vir ‘n maand as nomade op die plaas kom werk. Rondom elke chalet sal daar ‘n lapie grond wees waar sowat 2000 bome geplant kan word. Studente sal ook die geleentheid hê om die groei van die bome te monitor, ook werksaam in die kewekery te wees en in die plaaslike informele nedersetting betrokke te raak met gemeenskapsprojekte.

Gevra wat sy leuse in die lewe is, kom die antwoord borrelend.

“My leuse in die lewe is eenvoudig: hou net aan. Dit is goed om soms af en uit te voel, maar môre gee jou nog ‘n kans om weer te probeer. Wat my aan die gang hou, is my gesin, my agtergrond en om te weet waar ek vandaan kom. Ek weet ook wat ons hier doen – bome plant, iets werklik bou – en wat vir geslagte gaan hou. Lank nadat ek nie meer daar is nie, sal die bome nog staan. Dit is ‘n nalatenskap waarop ek trots is om agter te laat”.

Siya verduidelik met geesdrif oor die sort kunsmis wat gebruik word. Foto: Louis Kirstein

En wat is die dryfveer wat hom om elke dag motiveer om sy drome na te streef.

“Soggens, wanneer ek ‘n kans kry, hou ek daarvan om te gaan draf – 8 tot 10 km is gewoonlik my afstand. Die drawwery help my om my gedagtes skoon te kry en gee my daardie hupstoot vir die dag. Dit lyk dalk nie so nie, maar ek draf baie. Daarna geniet ek altyd ‘n sterk, swart Americano – geen melk nie, net soos ek. Ek spandeer baie tyd om na te dink, en te oordink. Ek sou nie sê ek is ‘n goeie beplanner nie, maar ek beplan wel op my eie manier – met weeklikse, maandelikse, selfs vyfjaarplanne. Die help met die boerdery en kweker se aktiwiteite. Planne verander vinnig. Ons werk met plante, en die natuur is nie altyd voorspelbaar nie. En dan is daar enigiets van trekkers wat probleme gee tot personeel wat nie opdaag nie of ‘n skielike verkoopverandering. ‘n Roetine bestaan, maar buigsaamheid is die sleutel”.

As jy meer oor Siya se Nguni Kwekery wil weet, kliek gerus op die skakel hiernaas.

https://www.nguninursery.co.za

https://youtu.be/Q3J4Leh_egc/si=AvOuHs1Wu6RDN_78

Leave a Comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.