
Viëtnam is ‘n waterryke Suidoos-Asiatiese land en is alombekend bekend vir sy pragtige strande, indrukwekkende riviere, Boedha pagodas en woelige stede. Hanoi, die hoofstad, is die rusplek van die land se welbekende Kommunistiese leier en President, Ho Chi Minh. Om oor al die mooi van Viëtnam te skryf sal heelwaarskynlikheid ‘n leeftyd neem. Daar is net eenvoudig té veel om oor te skryf.



Ek het dit goedgedink om soos met die meeste van die lande wat ek al besoek het, iets oor hul volkshelde te vertel. Ho Chi Minh se roemryke nalatingskap is onuitwisbaar in die geheue van die mense van Viëtnam. Hierdie rewolusionêre leier het sy volk van onmenslike onderdrukking gered, verening en die land tot onafhanklikheid gelei. As ‘n blyk van waardering is ‘n indrukwekkende mausoleum ter ere aan hom opgerig. Hier rus sy gebalsemde liggaam instasie. Statig geklee in afgeleefde khaki drag met ‘n paar rubber sandale aan sy voete, rus hy in ‘n glaskis op ‘n bronsbed wat uit granite gekap is.

Hierdie indrukwekkende graniet mausoleum is soortgelyk as dié een van die Russiese-leier, Vladimir Lenin in Moskou. ‘n Soortgelyke mausoleum is ook ter ere aan die Turkse volksheld, Mustafa Atatürk, in Ankara opgerig. Vier soldate gekleed in seremoniële drag van die Viëtnamese Leër hou onder streng militêre opdrag ‘n wakende oog oor hul eertydse volksheld. ‘n Verdere kenmerk van die mausoleum is die twee reuse goue ster landsvlae en die alom bekende hamer en sekel vlag van die Kommunistiese Party wat daarop aangebring is. Die vlae en die naam Ho Chi Minh op die voorkant van die mausoleum, is met met meer as 4,000 robyne uitgelê. ‘n Pragtige groen landskap met 250 verskillende plantsoorte omring die mausoleum. Vir diegene wat die gebalsemde liggam van Ho Chi Minh wil besigtig, is daar streng reëls wat geld. Geen fotos mag geneem word, daar mag nie gepraat of geglimlag word nie en die dra van ‘n kortbroek is taboe.

Terloops, robyne is een van die vele edelgesteentes wat op grootskaal in die land ontgin word. Ander minerale wat ook ontgin word is goud, tin, steenkool, olie en gas, bauxite, koper, mangaan en ystererts. Ho Chi Minh Stad (voorheen bekend as Saigon) met sy sterk Franse Koloniale kenmerke is die tuiste van die Viëtnamese Oorlog-geskiedenis museum en die Cù Chi tonnels wat deur die Viëtkong soldate in die oorlog teen Amerika gebruik is.
Viëtnam is ‘n land van vele verrassing en ‘n eerste kennismaking met hierdie Suidoos Asiatiese land nogal ‘n groot skok. Die skok is nog groter as ‘n mens jou nie voorberei of staal teen die uiterste weerstoestande nie. Afhangend van watter tyd van die jaar jy die land besoek wees voorbereid op die uiterste hoë humiditeit en ook reën
Oorbluf deur die derduisende bewegende bromponies wat sorgloos oor en weer en deurmekaar in stadsverkeer vleg sonder enige woede, is net eenvoudig verstommend. Oopmond aanskou ‘n mens hierdie kakofonie van beweging. Niemand is vir mekaar kwaad nie en padwoede is selde te bespeur. Elke motorfietsryer fokus net op dit wat voor hul in die pad aangaan. Hulle ry na hul werkplekke toe, doen aflewerings, of neem kinders skool toe. Elkeen wat op ‘n bromponie is in sy eie wêreld vasgevang en is op ‘n bepaalde missie.
Dit word vertel dat daar sowat 150 miljoen bromponies in die land is. Oud en jonk ry ‘n bromponie. Die land se sowat 100 miljoen inwoners is van die hardwerkendste en vriendelikste mense wat jy kan kry.



Viëtnam is ‘n land met wyduiteenlopende kulture, tradisies en gelowe. Dit is juis hierdie respek vir al die verskillende kulture, gelowe en tradisies wat die Viëtnamese volk so uniek maak. Onder die verskillende gelowe is Boedhisme die grootste. Dan is daar ook ‘n groot verteenwoordigheid van Confucianisme, Taoisme, Islam en die Protestantse geloof (tydens die Franse koloniale bewind van bykans ‘n eeu is die Rooms Katolieke geloof tot in die uithoeke van die land gevestig). Viëtnamese volksgelowe is ook sterk gevestig met toewyding aan die gees bekend as “thȃn”. Hierdie geestelikheid kan of ‘n natuurgod, nasionale held of ‘n godelike beskermsgees in die gemeenskap wees.
Viëtnam is in die vorm van ‘n “S” geleë en strek oor die lengte van die Indo-Sjinese Skiereinland oor ‘n afstand van 3,730km. Viëtnam grens in die noorde aan Sjina en verder suidwaarts in die weste, aan Laos en Kambodja. Ooswaarts is die Suid-Sjinese See wat die Golf van Tokin en die Golf van Thailand insluit. Langs die pragtige 3 000km lange kuslyn is duisende klein eilande Hierdie kuslyn is ‘n toeriste paradys. Sowat 17.6 miljoen buitelandse toeriste het in 2024 die land besoek wat ‘n 39.5% toename teeonoor die vorige jaar was. Volgens die Internasionale Monitëre Fonds het Viëtnam tot in Oktober 2024‘n groeikoers van 6.1% ervaar en ‘n bruto binneland produk van $506.43 miljard. Met ‘n inflasiekoers van 3.5% en ‘n werkloosheidsyfer van 2% het Viëtnam een van die snelgroeiendste ekonomieë van al die Suidoos-Asiatiese lande.



My toer van agt dae deur Viëtnam begin in Hanoi en eindig in Ho Chi Minh stad. ‘n Besoek aan die skilderagtige Halongbaai sorg vir ‘n onvergeetlike ervaring. Dit is Viëtnam se grootste natuurwonder en ‘n Wêreld Erfnis Gebied. Die bootvaart tussen die asemrowende sowat 3 000 kalksteen-eilande, met hulle grotte en spelonke is iets om te ervaar. Die netso bekende Thien Cung en Dau Go grotte laat jou woordeloos en jy vergaap jou aan hierdie natuurwonder.


‘n Besigtigingstoer na die mausoleum van Ho Chi Minh asook sy nederige “house on stilts” laat ‘n diepe besef van watter formidabele leier Ho Chi Minh was.
In Hue word my reis voortgesit met ‘n bootvaart op die Parfuumrivier. Die rivier verdeel die stad wat eens die hoofstad van Viëtnam was, in twee. ‘n Besoek aan die indrukwekkende” Imperial Citadel” en die Thien Mu Pagoda is ‘n aangename ervaring.
Onderweg na Hoian doen ek Danang aan. Die bekende prentjiemooi “Dragon Bridge” in die verte laat opnuut ‘n besef hoe ryk Viëtnam se kultuurgeskiedenis is. Die treinrit vanaf Hue na Danang is opwindend. Kronkelend al langs die skilderagtige en uitgestrekte Viëtnamese kuslyn met sy wit strande, snel die diesellokomotief rustig na sy bestemming.



Van Hoian af neem my reis my na Ho Chi Minh stad (Saigon). Hier besoek ek die bekende ondergrondse Cu Chi tonnelnetwerke. Duisende Viëtnamese guerillavegters het vanuit die tonnels weerstand teen die Amerikaanse weermag gebied in een van die bloedigste oorloë na die Tweede Wêreldoorlog.
‘n Bootvaart op die magtige Mekong Delta is iets wat elke toeris moet onderneem. Die Mekongrivier is ‘n oorgrensrivier in Oos Asië en Suidoos-Asië. Die is 12de langste rivier in die wêreld en die derde langste in Asië met ‘n geskatte lengte van 4,909 km. Die rivier ontspring in die suid oostelike deel van die Qinghai province in Sjina en vloei deur die oostelike streke van Tibet, deur Myanmar, deur Laos, Kambodja en Viëtnam waar dit in die Suid-Sjinasee uitmond.



Ander hoogtepunte op my reis sluit in:
- Na die opwindende treinrit vanaf Hue na Hoian is ek na die pretpark by Rung Dua Bay Mau Garden waar ‘n groot verrassing op my sou wag. Die rit in ‘n bamboesmandjie deur een van die talle waterryke kokosneut kanale sorg vir groot pret en plesier.



- ‘n Bootrit na ‘n eiland in die Mekongrivier bring ons na ‘n plaaslike klapper-lekkergoedfabriek asook ’n heuningplaas. Hier geniet ek eiland bewoners se smaaklike produkte. Die kanovaart in ‘n uitgeholde boomstam, iets soortgelyk aan die bekende makoros, sorg vir verdere pret en plesier. Die eilandbewoners kan nie wag om hulle lekkernye aan jou te verkoop nie en wil graag hê ‘n mens moet ook hul gewilde en bekende Viëtnamese slangwyn proe en koop. Wees gewaarsku. Bly weg van proe as jy nie in die hospitaal wil beland nie. As jy wel een as ’n aandenking wil koop is dit jou keuse. Onthou net, die kobraslang in die konkosie gaan altyd na jou loer. Die vloeistof daarin is nie wyn soos jy dit miskien ken nie, maar alkhol.



- Die tradisonele water-poppekasvertoning in Hanoi sorg vir groot vermaak vir oud en jonk. Hierdie vorm van toneelspel beeld die unieke leefwyse van Viëtnam se kleurvolle inwoners uit.



- Ek dwaal in die ikoniese antieke deel van Hoian rond wat in die 17de en 18de eeu ’n welvarende internasonale handelshawe in Suidoos-Asië was. Die ou stad is in 1999 as ‘n UNESCO Wêreld Kulturele Erfnisterrein verklaar.
- Ek geniet ‘n koppie boeretroos, maar beslis nie die soort wat jy hier in ons koffiewinkels kry nie. Dié eg tradisioneel Viëtnamese eierkoffie kan in een van die vele koffiewinkels geniet word en is ‘n moét. Drink dit! Jy sal aangenaam verras wees met die smaak van hierdie wêreldbekende en gewilde drankie. Die bestanddele is eg Viëtnamese koffie wat vermeng word met die geel van ‘n eier en kondensmelk. Dit word goed geklits en kan of warm of koud met ys bedien word. Dit is interessant om te weet dat Viëtnam naas Brasilië, die tweede grootste produsent van koffie met 17% van die mark in die wêreld is. Terloops, het jy geweet dat Viëtnam een van die vyf grootste rys produsente in die wêreld is? Rys is die nommer een stapelvoedsel in Viëtnam en word al meer as ‘n duisend jaar in die land verbou. Dit is in veral die Mekong-delta in die suidelike deel van die land wat as die “Rice Bowl” bekend staan, waar die meeste rys verbou word.



- Ek besoek ‘n paar markte om ‘n kykie te kry na die vele produkte wat in die land geproduseer word. Hanoi se “Old quarter” is ‘n paradys vir die besoeker om inkopies te doen.



- Ek drentel sorgeloos deur die besige strate en staar oopmond na al die stalletjies op straat wat handeldryf, en kyk ook hoe die duisende voetgangers, motors en nie eers om van die derduisende bromponies te praat, hulle weg na hul bestemmings vind. Die strate wemel van stalletjies waar allerlei produkte verkoop word. Kraakvars vrugte en groente word aangebied. Die straatslaghuise waar vars varkvleis, hoender, eende, vissoorte en vele meer te kope is wemel van kopers. Dan praat ek nie eers van die opelug braaiplekke op die sypaadjies nie.



- Die bootrit op die Parfuumrivier in Hue sorg vir verdere plesier.



- Die imposante Imperial Citadel, die Thien Mu Pagoda en die Imperial City (hierbo) in Hue is ‘n getuigskrif van die luukse leefstyl van die laaste imperiale dynastie, die Nguyȇn dynsatie. Die paleis is in 1803 gebou en teen die einde van 1945 met die beëindiging van die monarg se heerskappy, is die paleis erg tydens die Indosjinese oorlog in 1980 beskadig. In 1993 is dit tot ‘n UNESCO Wërelderfnisterrein verklaar. Die paleis is ‘n replieka van die Imperiale Stad in Beijing Sjina. Dit word vertel die die laaste monarg sowat 400 bywywe gehad het.
- Die prentjie mooi Presidensiële Paleis, Notre Dame Katedraal en Ou Poskantoor hieronder is ikoniese landmerke in Ho Chi Minh stad wat beslis ‘n besoek werd is.

Paleis


Ou Poskantoor
- Aan die buite wyke Ho Chi Minh Stad (Saigon) is die Nam Quoc Handicrafts / Saigon Handicapped Handicrafts fabriek vir oorlog gestremdes. Dit is verstommend om te aanskou hoe talentvolle kunstenaars, ‘n unieke antieke kunsvorm benut om beeldskone skilderye van eierdoppe te maak. Die kunstenaars prakseer ‘n antieke kunsvorm waar eierdoppe in verskeie kunsvorme van verskillende patrone met ‘n kaleidoskoop van reënboogkleure omskep word. Die tegniek wat gebruik word om die duisende mikro klein stukkies eierdoppe vas te heg, word lakvernis genoem. Om die kunstenaars dop te hou hoe hulle met uiterste geduld, omsigtigheid en passie ‘n produk skep, is werklik iets besonders om te waardeer. Die inkomste wat met die verkope verdien word, word vir die versorging van oorloggestremdes aangewend.



BRONNE
https://en.wikipedia.org/wiki/Imperial_City_of_Hu%E1%BA%BF
https://en.wikipedia.org/wiki/Hanoi
https://vietnam.travel/places-to-go/northern-vietnam/ha-noi
https://vietnam.travel/places-to-go/central-vietnam/da-nang
https://en.wikipedia.org/wiki/Ho_Chi_Minh_City
https://vietnam.travel/places-to-go/southern-vietnam/ho-chi-minh-city
Travelbook -Insight Guides Viëtnam. www.insightguides.com/destinations
Ek het Viëtnam in Oktober 2024 besoek.